Klop-klop Kaaps ons saam
Dit doen mens goed
om so bietjie tussen die skares te dwaal. Om na die Kaapse Afrikaans te
luister, is altyd vir my ‘n saak van vreugde – onbevange eerlik.
Omdat ons midde-in
die stad woon, kon ons gelukkig gistermiddag ‘n ruskansie in ons kasteel kom
vang voor ons uiteindelik die Kaapse Klopse in aksie kon sien. Teen die tyd dat
ons in Waalstraat kom, is die eerste vyf groepe al verby. Ons haal in by die
volgende groep en besluit dit was genoeg. Maar ons het die saak darem beleef.
Dit was goed om weer die storie van Tweede Nuwejaar te bedink. Vir die wat nie
weet nie: dit was in die tyd van slawe aan die Kaap de Goeie Hoop gebruik dat
die base op die eerste dag van die nuwe jaar feesvier. Die slawe moes werk om
hulle te bedien. Die volgende dag was die base poegaai moeg van eet en drink en
jolig wees en dit was die slawe se af-dag waarop hulle kon kuier.
Om die laaste dag
van manlief se vakansie te vier, ry ons met die bus Waterfront toe. Dit wemel
en woel daar. Klein, groot, oud, jonk, verspot, verkramp, verbaas, verwonderd.
Daar is iets van alles. En ons verkyk ons aan die gemaklikes en die ge-“dress”des.
Saam met die
laaste koue biertjie van die vakansie luister ons na die drie groepe
Nederlanders wat rondom ons sit. Die eendersheid van ons tale is altyd
opvallend – maar ai, daar is darem ‘n paar woordjies in my moedertaal wat ek
nie verkeerd moet gebruik nie as ek die Hollandse taal wil spreken.
Vandag waai die
suidoos de laaste papiertjie van die feesgety weg! Dis tyd om die nuwe jaar
aan te vat. Kom, daar is ‘n ekonomie om te bou voordat ons weer begin wonder
oor Kersgeskenke!
No comments:
Post a Comment