Hoekom tog so inpas?
Is jy ‘n Baby
Boomer? Of dalk ‘n Millenniër?
Ek kry altyd
kriewels as ek iewers “ingepas” moet word. Synde nie ‘n boksie-mens te wees
nie, is dit te verstane.
Aan die een kant
weet elkeen van ons hoe uniek ons is. Aan die ander kant dwing ons – of word
ons soms gedwing - om iewers in ‘n groep in te pas. Dis vir my so afgestof, neergesit, ingepas. So half sonder dat ek my persoonlike staanplekkie self kan kies en kry.
Deel van die
lekkerte van die ouderdom, is dat ek (uiteindelik!) vrede met myself het en
heel gemaklik met myself kan kuier, dankie! Dit beteken nie dat ek nie vriende
nodig het nie. Ek smag juis daagliks na ‘n koppietjie saam met ‘n slimkoppie.
Mense fassineer my en mense het ek nodig. Maar ek hoef nie soos enigiemand
anders te wees nie. Ek hoef nie iets te doen of iets af te lê om in te pas nie.
My geliefde lewensmaat aanvaar my soos ek is en het seker ook al so met die
jare agtergekom dis die “path of least resistance”.
Seker ook dié dat
my se kinnertjies effe angstig geraak het as dit skoolkonsert-tyd was. Ek het
hulle gereeld aangemoedig met: “Mamma gaan ook by jou konsert wees! Ek gaan op die
stoel klim en vir jou waai!” Hulle was seker menigmaal beangs oor dié vreemde
ma…
Met die nuwe jaar
se koms het ek nie nuwejaarsvoornemens nie. En tog is daar dinge wat mens in
die nuwe jaar net weer met entoesiasme wil aanpak. Soos om meer gereeld….. nee,
ek gaan nie daai ding doen nie! Ek gaan dit nie eens noem nie! Ek gaan nie
neerskryf waaraan ek meer passievol gaan werk nie! Dis mos presies wat ek nie
wil nie!
Maar wat ek in
2017 nie wil nie: ek wil nie ‘n groepnaam hê nie. Ja, tog. Dalk tog: blogger!
No comments:
Post a Comment