Hoe sigbaar is jy?
Party dae wil ek
sommer soos ‘n verkleurmannetjie wees. Onopsigtelik. Gekamoefleer. Wil nie
raakgesien word nie. Om verskillende redes.
Soms wil ek
ongesiens iewers sit en die lewe dophou. Sommer ander se doen en late
gadeslaan. Dalk ‘n droompie vang.
Ander kere wil ek
net gou by ‘n winkel inglip om daai vergete bestanddeel gou te gaan koop – ek is
seker jy weet presies waarvan ek praat! – en “nie ‘n bekende raakloop nie”
omdat ek te haastig is om daai koek in die oond te kry. Of omdat ek nie “aangetrek”
of “my gesig op het” nie. (Ai tog, hier
in die stad kan mens sommer met jou jamies in die winkel rondstap en niemand
sal skeef opkyk nie! En hoekom is ons vrouens so bewus van daai dinge en ‘n man
is net homself soos wat hy is? Anderdag dalk meer oor die saak.)
Skoonseun stuur
die foto’s wat vanoggend in hul tuin geneem is. Hy is ‘n baie oplettende man
(dié dat ek my dogter met ‘n geruste hart aan hom toevertrou) om die
gediertetjie op die grasperk raak te sien. En synde die toestand van water - of dan gebrek daaraan - in die Kaap, reageer kleinboet hier uit die Boland onmiddellik met 'n opmerking oor hoe groen die gras (in KZN) is!
Die liewe kleine verkleurmannetjie
bring soveel herinneringe terug!
Kleintyd het ek en
sus saam met my ouers by vriende gaan kuier. Hulle het baie
verkleurmannetjies in die tuin gehad. Vir my was hulle vrek grillerig. Nou nog!
En ousus, wat dit geweet het, het die tak afgepluk waarop een ou lekker grote
gesit het. Natuurlik om my daarmee te jaag. Met die gewenste uitwerking. Tot
die verkleurmannetjie besluit het hy draai om op die tak en loop anderkant toe…..
Waaroor ek hom tot vandag toe innig dankbaar is.
No comments:
Post a Comment