Dankie, Ma!
Om die ou
kasteeltjie op te kikker, besluit ek om ‘n nuwe kussinkie of twee te maak. Die
rooi (vir die winter) moet vervang word met groen (vir die somer). Enigiets om
bietjie lewe en varsheid in die ou spulletjie te blaas.
Dis ‘n hele
uitstappie om die regte kleur lap te kry. Teen ‘n welkome winskopie doen ons
die aankope. Toe is dit weer ‘n ander uitstappie om iewers ritssluiters te gaan
koop. Dit raak een laatmiddag ‘n opwindende avontuur in die tierende suidoos –
daai soort wat mens aan mekaar moet vashou om teen die wind te beur. Dis hare
oraloor in my gesig en manlief moet trek om my or die straat te kry as daar nie
‘n voertuig naby is nie. Ons lag maar net, want dis so snaaks! En in die proses
ontdek ons ‘n skoon en netjiese winkel wat al die kleure gare en ritssluiters
en tierlantyntjies verkoop.
Uiteindelik het ek
alles bymekaar. Die masjiene word ‘n slag weer afgestof. Skielik oorval
jarelange herinneringe my! Al die naaldwerk wat in die verlede gedoen is!
Gelukkig kan ek
nog onthou om die omkapmasjien te bedraad en alles is nog in goeie werkende
toestand. Ek beplan en knip en stik en voila! – twee kussings is klaar. Die
ekstra stuk materiaal word opgevou om saam te neem vir vriendin wat die vrouens
van Melkhoutfontein leer hoe om met lap te skep.
Ek pof die nuwe
kussinkies, sit hulle mooi neer langs die gekoopte blomkussing waarmee ek
myself bederf het. Maar o wee, die gekoopte kussing (nogal by ‘n ordentlike
winkel aangeskaf) se ritssluiter is stukkend en peul oop. Nee wat, daai een
neem ek sommer gou-gou terug. Maar nou is daar ‘n kussing kort.
So met die
wegpakslag, ontdek ek weer ‘n stuk tapisserie wat my ma gedoen het. Met die
huis opruim en inpakslag, het ek daarmee in my had gesit en nie regtig geweet
wat om daarmee te doen nie. En hier is die regte geleentheid!
Dankie, Ma! My
kussing lyk lieflik en dis absoluut nommerpas!
Jammer, vriendin,
daai stukkie lap wat jy moet kry, raak al kleiner! Maar ek weet jy sal
verstaan!
No comments:
Post a Comment