Wednesday 18 January 2017

Natuurlike mooie eenvoud

Hier ver onder my balkon ry ‘n voertuig met ‘n oop bak verby. Dis seker ‘n boer wat produkte kom aflewer.

Oop kartonhouers met die mooiste wat die boorde kan oplewer: daar is vuurvlam mangoes, sagtewang appelkose, knalrooi kersies, pragtige perskes en lyk my die toe houers is vol druiwe uit die wingerd.

Dis vir my pragtig mooi.

Die eenvoud van vars vrugte. Die boer wat sy produkte met sorg en trots kom aanbied. Ek is nuuskierig waarheen hy op pad is. Dalk na ‘n restaurant? Hoe sal die sjef dit opdien? Of dalk na ‘n varsprodukte mark?

Dalk moet ek my mandjie om my arm hang en gaan vrugte koop. Vars van die plaas af. Sommer hier by my in die stad te koop!

Hier kry ons nie die beste produkte in enige van die winkels te koop nie. Ongelukkig word ons Suid-Afrikaners afgeskeep met die swakker produkte. Verlede week stop ek by ‘n padstal buite die Paarl. Opgewonde oor die vars produkte. En slaan byna flou neer toe ek die pryse hoor. Maar ten minste was elke pruimpie vars en lieflik en elke rand werd. Dan betaal mens maar. Onlangs koop ek ‘n sakkie nektariens by ‘n supermark. Pas tuis maak ek dit oop. Pap vrot. Nie sleg nie. Vrot. Ek bel die bestuurder en hy vertel my daai ou storie: bring dit terug, mevrou, dan vervang ons dit. Ek van die stad af terugry platteland toe? Nee, meneer die bestuurder, sorg dat die goed wat jy in jou winkel aanhou, eetbaar is. Hou jou oog oop in jou winkel, dan sal jy meer voete tussen jou rakke deur kry.

Maar ai, die vrugte op daai bakkie. So mooiste mooi. So lieflik. In alle eenvoud – perfek.  

No comments: