Thursday 26 January 2017

Ek is moeg

van mense wat gedurig kla

van skryfbehoeftes en boeke wat nie by skole afgelewer word nie

vir onderwysers wat staak

vir mense wat brande stig

vir mense wat leuens vertel.

Ek is sommer moeg as my gunsteling tennisspeler nie die bal oor die net kry nie.

Die naweek gaan ek bietjie Karoo toe. Daar gaan ek iewers in die stilte sit en alles weer geniet. Sonder om moeg te wees. En as ek terugkom, is ek weer vol lus vir die lewe. En sien ek weer kans vir mense wat kla.


En intussen het my gunsteling tennisspeler die bal genoeg kere oor die net gemoker om deur te dring tot die finaal! Ek voel sommer klaar stukke beter! (Hoop hy het tyd om uit te rus en is nie te moeg vir daai laaste rondte nie….)

Wednesday 25 January 2017

Hoe sigbaar is jy?


Party dae wil ek sommer soos ‘n verkleurmannetjie wees. Onopsigtelik. Gekamoefleer. Wil nie raakgesien word nie. Om verskillende redes.

Soms wil ek ongesiens iewers sit en die lewe dophou. Sommer ander se doen en late gadeslaan. Dalk ‘n droompie vang.

Ander kere wil ek net gou by ‘n winkel inglip om daai vergete bestanddeel gou te gaan koop – ek is seker jy weet presies waarvan ek praat! – en “nie ‘n bekende raakloop nie” omdat ek te haastig is om daai koek in die oond te kry. Of omdat ek nie “aangetrek”  of “my gesig op het” nie. (Ai tog, hier in die stad kan mens sommer met jou jamies in die winkel rondstap en niemand sal skeef opkyk nie! En hoekom is ons vrouens so bewus van daai dinge en ‘n man is net homself soos wat hy is? Anderdag dalk meer oor die saak.)

Skoonseun stuur die foto’s wat vanoggend in hul tuin geneem is. Hy is ‘n baie oplettende man (dié dat ek my dogter met ‘n geruste hart aan hom toevertrou) om die gediertetjie op die grasperk raak te sien. En synde die toestand van water - of dan gebrek daaraan - in die Kaap, reageer kleinboet hier uit die Boland onmiddellik met 'n opmerking oor hoe groen die gras (in KZN) is!

Die liewe kleine verkleurmannetjie bring soveel herinneringe terug!

Kleintyd het ek en sus saam met my ouers by vriende gaan kuier. Hulle het baie verkleurmannetjies in die tuin gehad. Vir my was hulle vrek grillerig. Nou nog! En ousus, wat dit geweet het, het die tak afgepluk waarop een ou lekker grote gesit het. Natuurlik om my daarmee te jaag. Met die gewenste uitwerking. Tot die verkleurmannetjie besluit het hy draai om op die tak en loop anderkant toe….. Waaroor ek hom tot vandag toe innig dankbaar is.

Maar ek wonder tog: kry mens ook verkleurvroutjies?

Tuesday 24 January 2017

Dapperheid

Iewers op een van ons staptogte hier in en om die stad kom ons op hierdie motorhuisdeur af. Mooi lieflike pienk.

En bo-oor die muur tuimel die donker skakerings so tipies Bougainvillea.

Teen die muur is die woord Brave geverf. Dis die naam van ‘n besigheid wat hiervandaan bedryf word. Maar wie of wat hulle is of doen, is nie wat vandag vir my saak maak nie.

Die pienk, die heerlike oorborrel van die blomryke plant en die naam – dit alles laat my dink aan my vriendin wat siek is.



Pienk vir haar vroulikheid. Hoe siek sy ookal is, bly sy goed versorg en pragtig.
Die vreugdevrag blomme van die Bougainvillea laat my aan haar dink, want sy is die een wat altyd oorborrel van plesier en wat altyd reg is vir ‘n viering of ‘n partytjie – en as ons moet opdress vir die geleentheid, des te beter! En natuurlik is sy ‘n blommekind met altyd blomme in haar huis. 
Die Brave is vir jou, dapper vriendin! Ons kom so half onseker by jou ingestap, dan is jy die een wat ons bemoedig! Dapper vrou!

Monday 23 January 2017

Die lekkerte van lag

Onlangs sit ons en kuier oor kos by ‘n tafel. Sommer net ‘n lekker ontspanne ete saam met van ons kinders. Gesels net lekker.

By die tafel langsaan is ‘n groep vroue van ses of sewe. Elke nou en dan is dit so ‘n geraas van hulle kant af, dat ons eers moet ophou gesels. Ons kan mekaar nie eens hoor nie soos veral die een vrou skree van die lag. Aanvanklik is dit steurend – ek sit met my rug na hulle en wonder wat op aarde is so snaaks!

Tot die lekkerte van hul lag ons ook affekteer. Ons kan nie help om saam te (glim)lag elke keer as die “skaters” ons kant toe kom nie!

Hulle maak later verskoning en vra of ons ‘n foto van hulle groep sal neem. Hulle was so veertig jaar tevore saam op kollege. Meeste van hulle het tussendeur nooit kontak met mekaar gehad nie.

Nou ja, as die verlede mens so lekker kan laat lag dat die omstanders se koppe draai, moet mens dit doen! Om te lag dat die trane loop! Wat ‘n voorreg! 


Ek sal darem graag van daai stories wou hoor! Hulle lyk na ‘n bedrywige groepie wat vet pret gehad het!


Wednesday 18 January 2017

Natuurlike mooie eenvoud

Hier ver onder my balkon ry ‘n voertuig met ‘n oop bak verby. Dis seker ‘n boer wat produkte kom aflewer.

Oop kartonhouers met die mooiste wat die boorde kan oplewer: daar is vuurvlam mangoes, sagtewang appelkose, knalrooi kersies, pragtige perskes en lyk my die toe houers is vol druiwe uit die wingerd.

Dis vir my pragtig mooi.

Die eenvoud van vars vrugte. Die boer wat sy produkte met sorg en trots kom aanbied. Ek is nuuskierig waarheen hy op pad is. Dalk na ‘n restaurant? Hoe sal die sjef dit opdien? Of dalk na ‘n varsprodukte mark?

Dalk moet ek my mandjie om my arm hang en gaan vrugte koop. Vars van die plaas af. Sommer hier by my in die stad te koop!

Hier kry ons nie die beste produkte in enige van die winkels te koop nie. Ongelukkig word ons Suid-Afrikaners afgeskeep met die swakker produkte. Verlede week stop ek by ‘n padstal buite die Paarl. Opgewonde oor die vars produkte. En slaan byna flou neer toe ek die pryse hoor. Maar ten minste was elke pruimpie vars en lieflik en elke rand werd. Dan betaal mens maar. Onlangs koop ek ‘n sakkie nektariens by ‘n supermark. Pas tuis maak ek dit oop. Pap vrot. Nie sleg nie. Vrot. Ek bel die bestuurder en hy vertel my daai ou storie: bring dit terug, mevrou, dan vervang ons dit. Ek van die stad af terugry platteland toe? Nee, meneer die bestuurder, sorg dat die goed wat jy in jou winkel aanhou, eetbaar is. Hou jou oog oop in jou winkel, dan sal jy meer voete tussen jou rakke deur kry.

Maar ai, die vrugte op daai bakkie. So mooiste mooi. So lieflik. In alle eenvoud – perfek.  

Tuesday 17 January 2017

Die vreugde van die lewe

Vanoggend kuier ek saam met vriendinne uit die verlede en ontmoet nuwes. Lieflike mense.

Een van die dames merk op hoe lekker dit vir haar is om ouer te wees. Ek sê: “Nog van daai, asseblief! Hou aan met praat!!”

Hoe ‘n lekker voorreg om saam met ‘n groep vrouens te sit en gesels. Elkeen met ‘n eie storie. Elkeen met ‘n eie stuk swaar. Maar elkeen dankbaar. En vrolik. En vol omgee vir mekaar.

Dis mos maar die ou storie van: Kyk jy vas in die gat in die doughnut? Is die glas halfleeg of halfvol?

Niemand anders kan jou denke verander nie. Jy self is verantwoordelik vir waarmee jy jouself en jou gedagtes besig hou. Wat jy dink, is wat jy is of wat jy word.
Komaan! Sien die lekkerte van wat rondom daai doughnut se gat aangaan! 

Monday 16 January 2017

Kaapse straatkuiers

Hoe lekker het ons nie gister in die Kaapse strate rongekuier nie!

Die jaarlikse Open Streets is in hoofsaaklik Breëstraat gevier. Nog ‘n paar kleiner strate is vanaf 10:00 tot 15:00 toegemaak vir verkeer. Dit het beteken dat mens kon loop en kuier en drentel in die middel van die straat sonder die gevaar van in motors se pad kom.
Dit het gewemel van mense! En ek het nie een ou knorrie raakgeloop of raakgesien nie! Almal vrolik en vriendelik en lus vir die vermaak wat oraloor gebied is.

Paaldansers, matspringers, dansers, sangers, musikante, heupswaaiers – dink vreemd en verregaande en dit was daar!!! Kinders wat prente op die teerpad teken en verf!


En almal wat wiele besit, het kom wys hoe vleg hulle tussen die skares deur. Daar was skopfietsies, eenwiel-gedoentetjies, rolskaatse, plankskaatse, fietse…

Natuurlik was daar genoeg om aan te knibbel! Die food trucks was daar en die restaurante en koffiewinkels het hul kant gebring!

Een van die heerlike verrassings, was die Swing Dance van die Boogie Back Dance Co. Hulle het ‘n studio waar jy instap en begin dans! Heerlik en vreugdevol! Loslyf! En daar word gelag en gesels tussendeur. Sonder enige ondervinding van dans, sonder ‘n maat, stap jy daar in en vat die maat. ‘n Jolige besigheid wat die omstanders se voete laat tik en hul heupe laat swaai!


Wat ‘n heerlike fees! Volgende jaar is ek weer daar!

Friday 13 January 2017

Dankie, Ma!

Om die ou kasteeltjie op te kikker, besluit ek om ‘n nuwe kussinkie of twee te maak. Die rooi (vir die winter) moet vervang word met groen (vir die somer). Enigiets om bietjie lewe en varsheid in die ou spulletjie te blaas.

Dis ‘n hele uitstappie om die regte kleur lap te kry. Teen ‘n welkome winskopie doen ons die aankope. Toe is dit weer ‘n ander uitstappie om iewers ritssluiters te gaan koop. Dit raak een laatmiddag ‘n opwindende avontuur in die tierende suidoos – daai soort wat mens aan mekaar moet vashou om teen die wind te beur. Dis hare oraloor in my gesig en manlief moet trek om my or die straat te kry as daar nie ‘n voertuig naby is nie. Ons lag maar net, want dis so snaaks! En in die proses ontdek ons ‘n skoon en netjiese winkel wat al die kleure gare en ritssluiters en tierlantyntjies verkoop.

Uiteindelik het ek alles bymekaar. Die masjiene word ‘n slag weer afgestof. Skielik oorval jarelange herinneringe my! Al die naaldwerk wat in die verlede gedoen is!  

Gelukkig kan ek nog onthou om die omkapmasjien te bedraad en alles is nog in goeie werkende toestand. Ek beplan en knip en stik en voila! – twee kussings is klaar. Die ekstra stuk materiaal word opgevou om saam te neem vir vriendin wat die vrouens van Melkhoutfontein leer hoe om met lap te skep.

Ek pof die nuwe kussinkies, sit hulle mooi neer langs die gekoopte blomkussing waarmee ek myself bederf het. Maar o wee, die gekoopte kussing (nogal by ‘n ordentlike winkel aangeskaf) se ritssluiter is stukkend en peul oop. Nee wat, daai een neem ek sommer gou-gou terug. Maar nou is daar ‘n kussing kort.

So met die wegpakslag, ontdek ek weer ‘n stuk tapisserie wat my ma gedoen het. Met die huis opruim en inpakslag, het ek daarmee in my had gesit en nie regtig geweet wat om daarmee te doen nie. En hier is die regte geleentheid!


Dankie, Ma! My kussing lyk lieflik en dis absoluut nommerpas!


Jammer, vriendin, daai stukkie lap wat jy moet kry, raak al kleiner! Maar ek weet jy sal verstaan!

Thursday 12 January 2017

Die dinge van ‘n kind

Vanoggend, op pad na ‘n dag in die platteland, vang ek so ‘n gedeelte van ‘n radioprogram (altyd gevaarlik om net gedeeltelik te hoor!).

Die spreker meen tussen die ouderdomme van 16 en 26 is van die belangrikste – en dikwels moeilikste – jare in ‘n kind se lewe. En ek is so dankbaar dat ek in hierdie jaar nie ‘n tiener of student op my werf het nie. Maar tog is my jong vriendinne wat sulke jeugdiges onderdak het, goed op dreef en lyk dit vir my of hulle heelwat beter vaar as wat ek ooit kon doen of droom!

Die volgende interessante vraag wat die man vra: “ Hoe meet mens jou kind se sukses?” en “Op watter stadium besluit mens jou kind is suksesvol?” Hy meen mens meet jou kind se sukses op 36 jarige ouderdom. As jou kind dan ‘n gelukkige persoon is, is hy / sy suksesvol.

Ek hou van die manier van dink.

En dankbaar dat my kinders so suksesvol is. 😂

Hy vertel van ‘n vriend wat aan sy kind genoem het: “Ek wil nie hê jy moet suksesvol wees nie; ek wil hê jy moet ‘n lekker mens word.” Waarop die kind dit toe heel suksesvol gedoen het.

Sela
Amen


Wednesday 11 January 2017

Raar, maar ongelukkig waar

As ek die sakie reg beskou, kos dit so iets soos R2 300+ vir een nag in die hotel hier oorkant ons.  Vir my is dit ‘n aardige bedraggie. Vir die talle busse wat stop met toeriste wat uitpeul, is dit sekerlik nie baie dollars of euros of wat ookal nie!

Wat interessant sal wees, is hoeveel gaste hier bly wat nie self verantwoordelik is vir die vereffening van die rekening nie. Wat ek bedoel, is: hoeveel maatskappye, organisasies, vakbonde, ens is verantwoordelik vir die rekeninge? En o ja, pappies en mammies wat swaarverdiende geldjies bymekaarskraap om vir boet of sus op daai “moet-gaan” toer te stuur.

Want as mens self betaal, gooi mens tog sekerlik nooit as te nimmer bottels (hopelik meesal plastiek), blikke, papier by die venster uit nie. Natuurlik kan dit vet pret wees om te sien watter rol toiletpapier die langste vat om onder te kom as dit uit die twintigste verdieping se vensters gegooi word. Maar alle vet pret is nie aanvaarbaar nie!

Vanoggend beskou ek hoe twee manne hier oorkant uitbeur teen die toue om herstelwerk aan die gebou te doen. En glo dit as jy wil: iemand gooi uit ‘n venster - omtrent 10 verdiepings hoër op - ‘n plastiekbottel! Vertikaal bokant die twee manne se koppe vlieg die bottel by die venster uit. En daar is beslis iets in as ek na die plofgeluid luister waarmee dit die oppervlak onder tref. Weliswaar op ‘n dak waar daar nie voetgangers is nie.

Dis hartseer.

En dis nie asof ek heeldag sit en kyk wat oorkant die straat aangaan nie. Dis maar met so nou en dan se verbystap dat my oog ‘n beweging vang. So dalk gebeur dit baie meer as wat ek vermoed.


Maar as daai manne toue klim, maak ek ‘n koppie koffie en gaan sit en kyk.
Dis fassinerend!
Dis harde werk! (Nie die koffie nie, die klim!)



Tuesday 10 January 2017

Verwondering vs Ontnugtering

Ek wil opnuut in verwondering leef.

Ek wil weer die veertjie se kolletjie raaksien. En verwonderd wees oor dié kolletjie wat aanpas by die volgende veertjie se kolletjie sodat die tarentaal spog met sy veredos.

Die oopvou van ‘n nuwe blaar, die reuk van ‘n roos, die druppel op die woestynrosie…


Sommer net die lewe self.

Destyds, ‘n hele paar dekades gelede, begin ek ‘n nuwe werk. Een van die hansworse daar merk sommer die eerste dag al op: “Ag nee, kon julle nie ‘n jong dingetjie aangestel het nie! Kyk, sy het al plooie op haar knieë!” Ja, dis gelukkig in my teenwoordigheid opgemerk, anders het ek dalk vir ‘n oomblik gedink dis die waarheid!  

Vanoggend sit ek so lekker langbeen uitgestrek.

En sien die plooie op my knieë.

Ek besluit om in verwondering te wees oor hoeveel keer dié (ou) knieë al gebuig en gebuk het. Ontnugter? Nee, daarteen gaan ek baklei!

Monday 9 January 2017

Hoekom tog so inpas?

Is jy ‘n Baby Boomer? Of dalk ‘n Millenniër?

Ek kry altyd kriewels as ek iewers “ingepas” moet word. Synde nie ‘n boksie-mens te wees nie, is dit te verstane.

Aan die een kant weet elkeen van ons hoe uniek ons is. Aan die ander kant dwing ons – of word ons soms gedwing - om iewers in ‘n groep in te pas. Dis vir my so afgestof, neergesit, ingepas. So half sonder dat ek my persoonlike staanplekkie self kan kies en kry.


Deel van die lekkerte van die ouderdom, is dat ek (uiteindelik!) vrede met myself het en heel gemaklik met myself kan kuier, dankie! Dit beteken nie dat ek nie vriende nodig het nie. Ek smag juis daagliks na ‘n koppietjie saam met ‘n slimkoppie. Mense fassineer my en mense het ek nodig. Maar ek hoef nie soos enigiemand anders te wees nie. Ek hoef nie iets te doen of iets af te lê om in te pas nie. My geliefde lewensmaat aanvaar my soos ek is en het seker ook al so met die jare agtergekom dis die “path of least resistance”.

Seker ook dié dat my se kinnertjies effe angstig geraak het as dit skoolkonsert-tyd was. Ek het hulle gereeld aangemoedig met: “Mamma gaan ook by jou konsert wees! Ek gaan op die stoel klim en vir jou waai!” Hulle was seker menigmaal beangs oor dié vreemde ma…

Met die nuwe jaar se koms het ek nie nuwejaarsvoornemens nie. En tog is daar dinge wat mens in die nuwe jaar net weer met entoesiasme wil aanpak. Soos om meer gereeld….. nee, ek gaan nie daai ding doen nie! Ek gaan dit nie eens noem nie! Ek gaan nie neerskryf waaraan ek meer passievol gaan werk nie! Dis mos presies wat ek nie wil nie!


Maar wat ek in 2017 nie wil nie: ek wil nie ‘n groepnaam hê nie. Ja, tog. Dalk tog: blogger!

Friday 6 January 2017

Dans, dans, dans

Dis naweek. Nou nie asof dit my behoort te affekteer nie, want soos genoem, is ek mos permanent met vakansie, dws nimmereindigende naweek.

Maar die lekkerte is darem dat manlief oor naweke tuis is en ons loop dan sommer ekstra lekker rond. Soek nuwe koffiewinkeltjies op. Sit sommer iewers en hou dop hoe die mensdom om ons wandel en handel.

Vanoggend het ek en Miss Sunshine die laaste stoffies van 2016 hier uitgeklits. Sjoe, die stormwind het die stof hier ingewaai teen ‘n stink spoed. En al die dierbares se voetspore wat die afgelope tyd hier deur is, het dankbare stoffies ingedra waaroor ek glad nie sal kla nie.

Dis met ‘n lied in my hart dat ek vandag hier gestof en gesuig het. Tog te dankbaar as dit ‘n koel dag is en huis skoonmaak lekker is (gebeur nie altyd nie – die koelte en die lus). As dit met die mense in jou binnekring goed gaan, is die ou sleurwerkies ook sommer ‘n plesier.

Die liefde blom tussen die geliefdes en hul maats en wat is dan mooier vir ‘n ma se hart! So bewus van genade – so onbeskryflik groot. En so bewus van ons iedere een se broosheid.


Die kasteel is blink opgevryf….  Mmmmm, die ruite …

Ag, kom kuier maar! Ons skuif die vensters oop, dan pla die ruite nie!


Thursday 5 January 2017

Daai optelsom…

Vanoggend stap ek by ‘n mooie winkel in en die vriendelike assistant vra of ek my vakansie geniet het. Foeitog, ek kan mos nie vir haar vertel dat ek permanent met vakansie is nie! Die arme kind het dan pas begin werk na haar vakansie en die jaar lê lank en opdraend voor haar! Maar sy verseker my dat sy ook ‘n lieflike vakansie geniet het. Dis net dat die kleertjies nou bietjie stywer pas na die vakansie.

Ja, dis so. Maar dis deel van vakansie hou. Om lekker te kan eet, my kind!

Onlangs lees ek op die spyskaart van ‘n restaurant die volgende:

Calories: Tiny creatures that live in the closet and
sew your clothes a little bit tighter every night.

Dan dink my suster (weereens) daar is iewers fout met my kop as ek vir haar vertel dat ek ‘n kilogram of twee verloor voor ek met vakansie gaan! Vir my maak dit heeltemal sin.


Hoe meer vingertjies ek in die lug moet steek vir die kersies op die verjaardagkoek, hoe moeiliker blyk die saak te wees. Maar om lekker te eet, bly ‘n voorreg!


Wednesday 4 January 2017

Maak ‘n Plan

Dalk het jy ook Dinsdagoggend geluister na dr Gustav Gous se raad oor hoe om jou jaar te beplan. Indien jy Lynette Francis se geselsprogram op RSG gemis het, kan jy gerus moeite doen om daai potgooi-ding te doen. (Ek moet bely ek meen altyd om agterna afte laai en te luister, maar dan doen ek dit selde. Hierdie keer het ek.)

Dis mos nou absoluut vir my bedoel: Hoe om ‘n nuwe begin te maak. Ja, ek weet ek het al ‘n jaar gelede die es gegooi, maar nou het ek al die seisoene deurloop en dis tyd om verder te dink en te doen.

Die dink kom vir my maklik. Dikwels te maklik.

Dis by die doen dat ek vashaak.

Ek sien uit na die jaar se verrassings. En ek doen my bes om meer in die oomblik te lewe. Dis nogal iets wat ek keer op keer vir myself moet sê.


Dalk moet ek begin by sy boek, Fiks vir die Lewe. Dan kan ek ‘n jaar daaraan lees…. En wie weet? Dalk het ek volgende jaar ‘n plan!?!?!

Maar op hierdie ouderdom moet mens nie onverantwoordelik wees nie. Laat ek eers 'n bietjie gaan rus. So 'n lekker boek wat ek aan die lees is. Later dink ek weer oor die plan.

Tuesday 3 January 2017

Klop-klop Kaaps ons saam

Dit doen mens goed om so bietjie tussen die skares te dwaal. Om na die Kaapse Afrikaans te luister, is altyd vir my ‘n saak van vreugde – onbevange eerlik.

Omdat ons midde-in die stad woon, kon ons gelukkig gistermiddag ‘n ruskansie in ons kasteel kom vang voor ons uiteindelik die Kaapse Klopse in aksie kon sien. Teen die tyd dat ons in Waalstraat kom, is die eerste vyf groepe al verby. Ons haal in by die volgende groep en besluit dit was genoeg. Maar ons het die saak darem beleef. Dit was goed om weer die storie van Tweede Nuwejaar te bedink. Vir die wat nie weet nie: dit was in die tyd van slawe aan die Kaap de Goeie Hoop gebruik dat die base op die eerste dag van die nuwe jaar feesvier. Die slawe moes werk om hulle te bedien. Die volgende dag was die base poegaai moeg van eet en drink en jolig wees en dit was die slawe se af-dag waarop hulle kon kuier.

Om die laaste dag van manlief se vakansie te vier, ry ons met die bus Waterfront toe. Dit wemel en woel daar. Klein, groot, oud, jonk, verspot, verkramp, verbaas, verwonderd. Daar is iets van alles. En ons verkyk ons aan die gemaklikes en die ge-“dress”des.

Saam met die laaste koue biertjie van die vakansie luister ons na die drie groepe Nederlanders wat rondom ons sit. Die eendersheid van ons tale is altyd opvallend – maar ai, daar is darem ‘n paar woordjies in my moedertaal wat ek nie verkeerd moet gebruik nie as ek die Hollandse taal wil spreken.

Vandag waai die suidoos de laaste papiertjie van die feesgety weg! Dis tyd om die nuwe jaar aan te vat. Kom, daar is ‘n ekonomie om te bou voordat ons weer begin wonder oor Kersgeskenke!

Monday 2 January 2017

Die Mammies van die Bo-Kaap


So sit die strate van anderkant die Parade af tot ver by die Bo-Kaap vanoggend gepak met mense. Gistermiddag het ons gesien hoe die strate afgekamp word – glad nie gedink dat daar laasnag langs die strate uitgekamp is om seker te maak van ‘n plekkie vir die groot optog van Tweede Nuwejaar nie! So leer ons elke dag iets nuuts.

Siende dat ons in die nabyheid woon, besluit ons dis ons kans om die Kaapse Klopse in lewende lywe te sien kompeteer. Pappie wat vroegoggend vol energie is, het sy planne gemaak. Ons is voor tien al op straat. Genadiglik is dit ‘n lieflike bewolkte dag.

Die kindertjies is opgewonde, die sambrele en afdakkies is opgeslaan, komberse uitgesprei op die teerstraat se kant en op die sypaadjies. Kampstoele, koelsakke, opslaantafeltjies, de lot.

Soos ons stap, vra ons: “Hoe laat begin hulle stap?” Vir elkeen wat gevra word, kry ons ‘n ander antwoord. Daar is derduisende mense in die strate - hoe nader aan Die Parade, hoe meer mense.

Die tannie wat samoesas by die skynbare eindpunt verkoop, verseker my half vererg dat dit die beginpunt van die optog is, “want dis mos die Bo-Kaap hierdie”. Ja, tannie, ek weet, maar iemand het 5 minute gelede my verseker dat dit die eindpunt is (wat toe so blyk te wees). Oral loop toeriste en fotograwe met langlens kameras op jag vir die volkleur-in-aksie wenfoto. Ai, so jammer – julle gaan nog laaaank wag.

Maar o wee, die Kaapse Klopse het (volgens RSG) faksie-probleme wat hulle nie uitgesorteer kry nie. Dis amper 15:00, die mense sit nog langs die strate, die kindertjies is moeg gewag….


Tyd dat ons teen die bult uitstap om die kleurespel te gaan inwag. Miskien gaan hulle tog opdaag. Teen hierdie tyd is die sagte wolke weg en dis lekker warm buite. Die derduisendes gaan warm wees teen die tyd dat die vrolikes verbykom.

Sunday 1 January 2017

Sprankelende seënwens

Al is die Kersgeskenke se batterye pap gespeel teen hierdie tyd, die blinkertjies lankal deur die stofsuier se maag, die geskenkpapier en linte met die vulliswa straataf en die oorskiet van die Kerstafel uiteindelik nie meer ‘n faktor as jy die yskas oopmaak nie, bly my wens vir jou steeds een van verwondering vir die nuwe jaar.

Mag jy in die nuwe jaar meer klaarheid hê oor wat jy wil en waarheen jy moet.

Mag jy seker wees van wat jy nie wil nie en daarby hou.

En mag jy vrede in jou hart hê oor wie jy is.

Mag elke dag van die nuwe jaar vir jou soos ‘n geskenk wees wat jy met verwondering kan oopvou en geniet. Want dit is met liefde vir jou gegee.


 Yesterday's the past, tomorrow's the future, 
but today is a gift. That's why it's called the present.
-Bil Keane