Ons almal het ons redes
Die afgelope paar
maande het ons die voorreg om heel dikwels saam met ‘n verwer en sy seun (soms ‘n
ander jongman as die seun nie kan saam nie) in ons voertuig tyd deur te bring. ‘n
Kosbare en baie insiggewende oefening.
Die tale wat ons
praat is verskillend. En as daar een ding is wat ek sal mis as ek ooit die
mooie land van my hart moet verlaat, sal dit die Capies wees met hulle eiesoortige
uitspraak. Sien, ek met my Bolandse uitspraak, is self ook mos eiesoortig.
So vertel die omie
anderdag dat hy baie betrokke is by die kerk. Siende dat die kerk oorkant die
straat van sy huis is, is dit heel gerieflik. Maar die omie gaan nie kerk toe
soos wat ek en jy verstaan nie. Die omie hou die “kêk” se gronde en gebou in
stand. Hy versorg die houtwerk en tuin en verf waar nodig. Hy is baie trots op
sy deel wat hy doen.
Toe ons hom bietjie uitvra oor die saak, is hy baie
ernstig dat hy nie kêk toe gaan nie om drie redes: Dominee nommer 1 skinder te
veel; Dominee nommer 2 steel die kerk se geld; Dominee nommer 3 vat aan die
vrouens se boude.
Ek sal ook nie na
daai kerk toe wil gaan nie. Mens weet nooit….
No comments:
Post a Comment