Dobber en dryf
So dobberend soms
op die oseaan. Soos die golwe en die winde beweeg, so dobber ek. Soms bo-op die
kruin, soms onder in die laagte sonder uitsig op land.
Partykeer is ek in
‘n kano. Alleenvaart. Beweging hang af van wat ek aanvang. Of nie aanvang nie! As
ek nie balans hou terwyl daai brandertjie kom nie, tip ek om en val ek uit en
spartel vir die vales. Maar soms, o soms vang ek daai brandertjie perfek en gly
al langs die wit skuim uit tot op die strand. Heerlik! Onbevange!
Ander kere is ek
op ‘n seiljag. Wind in my gesig! Bewus van die elemente. Ingestel op hoe daai
seile gespan moet word. Bewus daarvan dat die beste seilervarings gebeur as
mens skuins op teen die wind seil. Om te luister na die een in bevel en saam in
die span te speel en hard te werk om maksimum uit die ervaring te kry.
Op die
vissersbootjie moet ons saamwerk om die nette vol te skep. Om kos op die tafel
te kry. Dis harde werk. Sommige dae is die vangs min. Die son bak warm, die diesel
en aas se klankies trek in die neusgate op… As die net ingetrek word met of die
handlyn opgetrek word met daai vereelte hande, is dit opwinding soos min! Maar
die wispelturigheid van die groot dam met sy donker dieptes, mag nooit as te
nimmer onderskat word nie. Dit laat my dink aan Uys Krige se pragtige gedig:
Ken jy die See.
“Ken jy die see, Meneer, ken
jy die see?
….
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.”
….
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.”
Maar vir seker
verkies ek om ‘n skipper of stuurman in beheer te hê. Sommer een wat op die
water kan loop en ‘n storm kan stilmaak. En vir my kan sê waar, o waar, daai
vissies lê. Sekuriteit. Veiligheid. Geborgenheid. Dis al hoe ek daai storms sal
kan trotseer. Beslis nie alleen en op my eie nie.
No comments:
Post a Comment