Prentjiemooi
McGregor is ‘n
pragtige klein dorpie tussen die berge. ‘n Plekkie waar kunstenaars wegkruip en
waar die stadsgewoel mens nie inhaal nie. Rustig.
Ons gaan tuis by
Sunbird. ‘n Pragtige, knus klein huisie met alles wat mens nodig het. Nogal honeymoon suite waar ons bespreek is… (Gits, ek wonder of my flennietjie nog netjies
gestryk is na die gedruk in die tas.) Groot bad in die kamer en ‘n gesellige fire pot kaggel. Net reg vir die naweek
se koue wat voorspel is en wat ons weliswaar aan ons bassies voel!
Ons maak ‘n draai
in die dorpie om te hoor waar ons Saterdagoggend kan rugby kyk. Die vriendelike
– Ier of Skot? – verseker ons sy televisiestel sal die wedstryd ontvang en
uitsaai, maar hy bedien nie kos nie. Hy vra dat ons sommer vir hom ook ontbyt
moet saambring. Toe koop ons solank 4 pakkies Simba skyfies om saam te neem.
Mens weet nooit wat mens alles moet doen om jou dors aan te help nie…
Die eienaar van
die gastehuis vertel ons dat sy einde van die jaar emigreer na Australië waar
haar kinders woon. So as jy soek na ‘n nuwe uitdaging – ‘n lieflike ene – kom
kyk hoe lyk haar mooie plek.
En hoe verras die
lieflike McGregor ons! Kruip in ons harte in! Die tuine van Tebaldi’s is ‘n
plek waarheen ons weer wil terugkom. ‘n Plek van stilte.
Nou is dit eers
tyd om uit te vind of die streek se wyn op standaard is. Die blyplek is.
No comments:
Post a Comment