Dinge wat my ma my nooit vertel het nie…
So saam met die
vryery wat begin het, het my ma ook maar besorg geraak oor die spruite. Dit was
in toeka se dae. Geen televisie wat mens vertel het van sakies waaroor jy nie
eens gewonder het nie. En kuis tydskrifte.
In (aanstaande) skoonma
se geselskap mag mens nie eens die woord “koei” gebruik het nie. Toe kry haar
enigste kind vir my. Wat geweet het van koei en ook die ding by haar se naam
genoem het.
Maar ons het baie
behoudend grootgeword. Ai, selfs die woord wil my in ‘n boks indruk!
Eendag vra ek my
ma: “Wanneer vertel ma ons van daai dinge.” En haar wyse antwoord: “Vra wat jy
wil weet, dan vertel ek jou!” Slim antwoord vir ‘n ongemaklike vraag. En my “Hoe
moet ek weet wat ek nie weet nie?” het geen verdere klarigheid op die onderwerp
– of gebrek daaraan – besorg nie.
Wat my ma my nie
vertel het nie (seker omdat ek nie gevra het nie), is dat die ouderdom mens
bespring met ‘n ongekende aggressie. Sonder waarskuwing. Wreed. En as jy nie saamstem nie, is dit omdat jy nog
jonk en jeukerig is. Indien dit die geval is, het ek vir jou ‘n waarskuwing (en
moenie eendag sê niemand het jou vertel nie) dat jy jou jonkheid moet geniet!
Geniet dit uitbundig! Geniet dit uitspattig! Geniet dit met oorgawe!
Maar onthou: ek
waarsku jou dat wat jy in jou jonkheid doen, in jou ouderdom jou gaan beetkry….
No comments:
Post a Comment