Hoesit daar met jou en sukses?
Gister het die
grysheid my toe heeltemal oorval. Darem net ampertjies!
As die dag grys is
en ek sukkel met tegnologie, raak die lont al korter, die moer al suurder en die
hele ou besigheid sommer beneuk. Gister was so ‘n dag. Om geen rede nie. Was
seker maar net my afdag.
Maar dit laat my
ook in die aand op my kniegies gaan en vra dat ek beskerm word teen die dinge wat
my aftrek donkerte toe. Eindelik toe ‘n goeie oefening. Maar dankie, nie een
wat ek gou weer wil doen nie! Ek kry agterna so skaam dat ek my so laat opwerk
oor masjientjies en dinge….
Met ‘n nuwe, vars
ingesteldheid het ek vanoggend die (weer grys buite!) dag aangepak. En wat ‘n
lieflike dag is dit nou nie! Niks met grysheid te doen nie!
Nee, die
tegnologiese knoop is nog nie uitgesorteer nie, maar ek het hoop!
En ja, die
vriendin wat ‘n wye draai deur die stad kom saamstap het, het natuurlik my dag
verder opgevrolik! Ons het uiteindelik by Haas gaan koffie drink. ‘n Koddige
plek - dié wat hou van hul gemaksone, moet maar liewer nie daarheen. Maar dis
heerlik! En dalk moet jy kom kuier dat ek jou gaan wys waar Dawid die wortels
begrawe het. Of hoe is dit nou weer van die haas en die wortels? En waar kom
Dawid in die storie? Gits, dit klink nou skielik alles vreemd. Dalk moet ek kyk
waar die hardebolkeil is en die haas weer terugsit in die hoed….
Die hele saak dat
dit vandag met my goed gaan, laat my glo ek was vandag suksesvol!
No comments:
Post a Comment