So bekruip daai ding(e) mens…
So ‘n paar dae
gelede het ek die voorreg (ja, dis voorwaar ‘n voorreg, want daar is baie wat
dit nie het nie!) om ‘n slag by die slim mense met die kennis oor wat hier
binne-in mens aangaan te gaan kuier. Weliswaar duur dit toe die hele middag….
Sien, hulle het my gewaarsku dit gaan lank neem, maar toe raak my lêer op
iemand se lessenaar verlore tussen ander papierwerk. Soos my ander vriendinne
altyd geduldig bly, het ek ook my bes probeer en my intussen besig gehou met ‘n
blokkiesraaisel en ‘n boek. Maar toe die horlosie net aanstap en niks gebeur
nie, vra ek toe gelukkig! En hier sien hulle my toe darem weer raak. (Moet
darem byvoeg daar was genoeg om verskoning gevra na die tyd!)
Wel, dis altyd
interessant om so ‘n klomp mense in ‘n wagkamer dop te hou. En die slag is dit
mos nou meesal oumense. En praat mos maar harder as wat moet. So almal hoor al
die klagtetjies en skandetjies en so aan, ensovoorts.
Maar raak ‘n mens
nou bewus van swakheid van die vlees! Siestog, een klou aan die kierie, een
blaas en hyg na asem, ‘n ander is gryserig en het ‘n pyn op die borskas… Ouderdom is nie ‘n maklike ding nie. En
snaaks genoeg raak ek mos nou al meer bewus daarvan!
Die masjinerie wat
in daai manne se spreekkamers en kantoortjies en kamertjies is, is legio! Dit
pomp en flikker en piep vir ‘n vale. En die indrukwekkende personeel vleg heen
en weer tussen die kranklikes en hoopvolles deur.
Genadiglik kon ek
met geruste (letterlik en figuurlik) hart huis toe gaan. Darem nie sonder die
nodige skrikkies nie! Dis mos nou so dat die dinge mens stadig bekruip en dan
skielik op jou spring!
Soos nig vanoggend
opmerk: die inkopielys word al langer… Al meer pilletjies wat gedrink moet
word. Maar dankbaar dat daar slim mense is wat met hul slim masjiene kan sien
en hoor hoe tik dit daarbinne. Uiteindelik kan hulle so slim wees soos hulle
wil, maar ek is mos aanmekaar geweef deur my Skepper.
(Ja, dis 'n koek! En nee, ek het dit nie gebak nie!)
No comments:
Post a Comment