Friday 9 September 2016

Ruitewasdag

Oudste en sy oulike vriendin kom vanaand by ons eet in onse kasteel. Ek sien daarna uit om vir hulle lekker “huiskos” te maak. Synde dat almal in die gesin (en hul aanhangsels) hou van kosmaak – en nogal baie weet van bestanddele en die nuutste neigings – is dit lekker om te weet my tafel gaan waardeer word, al is dit net gewone spyse, maar met baie liefde voorberei.

So beskou ek vanoggend die ruite en besef dis nie heeltemal so ‘n grys dag soos wat ek aanvanklik gedink het nie. Dis net dat die ruite gewas moet word…. En dis nou een van daai dinge wat ek glad nie kan doen nie! As ek klaar is, is dit ‘n groter gemors met vaal blertse en strepe en kolle wat voorheen nie eens in sig was nie! Dus is dit een van die (min) takies wat manlief moet verrig. Hierdie jaar is mos nou sy laaste “buite-die-huis” werksjaar. Hy word vrygeskeld van die sleurwerkies (mmmm, meer hieroor vertel ek dalk op ‘n latere stadium) siende dat hy saans sy sakke moet uitdop om sy dagloon te wys. Maar die ruite is sy werk. Gelukkig is hier ook nou maar net twee mure waarin vensters is!

Ek sit en werk gou op my rekenaar voor ek onder die stort spring. Maar daar is ‘n vreemde geluid of twee hier naby my. Altyd interessant om te gaan kyk wat nou weer aan die gang is hier om ons. En daar skrik ek toe amper my cholesterol heeltemal weg so met die omdraaislag! Op die balkon hier neffens my hang ‘n man aan ‘n kabel en was ons ruite! 

So ‘n vriendelike man! Ek wonder darem wat diesulkes so met die wassery alles sien van wat binne-in die woonstelle en kantore gebeur….. Sal beslis seker maak die blindings is stewig toe – en die badkamerdeur ook – as ek onder die stort wil in…. 


Liefie, dis darem seker nie jy wat dit gereël het nie? Die ruitewas is darem seker nie só erg nie????

No comments: