Sunday 31 July 2016

Die Grootheid om ons

Onlangs het ek weer gehoor van die nood van die vlugtelinge oraloor in die wêreld. Die angs wat gepaard gaan met vlug vir jou lewe. Om jou gesin na veiligheid te neem. Om die dood in die oё te kyk. Om keuses namens ander te maak en om te glo dat dit die beste besluite is wat jy neem.

Hoe bevoorreg is ons!

En dan skryf ‘n sendeling aan die einde van haar (skokkende, maar baie insiggewende) nuusbrief: ”As ek sien wat God alles doen, is ek net dankbaar vir die chaos.  Want mense in chaos is mense in nood.  En dit is God se spesialiteitsgebied.”




Aan die einde van ‘n heerlike dag, slaan ek my oё op na die berge – en sien God se strome van seёn oral om my. Mag ek dit nooit as vanselfsprekend ervaar en aanvaar nie…


Saturday 30 July 2016

Kristalhelder


Heerlik om verras te word met sneeu en yskristalle wat fassinerend mooi is!




























Vroegoggend het ons gewonder hoe naby ons vandag aan die sneeu sal kan kom. Ek het gehoop om darem ‘n foto’tjie van ver af te kan neem…

Ons ry Witsieshoek toe. Kronkelpaaie tussendeur die duisende huisies. Op teen die berge en af teen die dale. En op-op-op teen die bergpas tot by Sentinel piek.

Die sneeu lê wit tot in die pad! Ons speel soos kinders saam met ons kinders in die sneeu en bou ‘n sneeuman (sonder ‘n wortelneus!).



Dis moeilik om uiteindelik ‘n “foto van die dag” te kies, want daar is soveel kosbare oomblikke vasgevang. Vol heerlike verrassings was hierdie dag – soos die lewe self!

Opnuut in verwondering oor hierdie lieflike mooie land van ons.

Friday 29 July 2016

Gasvryheid

Op pad na die sneeu in die Drakensberge, slaap ons twee nagte oor by dierbare vriende. Ons word met opregte gasvryheid oorlaai. Kosbare tyd om saam te lag en saam ernstiger sake op te neem. Sulke tye bêre ek in my onthou-boek met die hoop dat ek dit eendag op my oudag regtig sal onthou…

Op Harrismith stop ons vir middagete by Dom’s with Love koffiewinkel. Dis ‘n lieflike skoon en vars plekkie met vriendelike personeel wat ons by die deur kom verwelkom en ons bederf met die heerlikste koffie en kos wat met liefde en sorg berei en voorgesit word. Die eienaar, Dom (vir Dominique), is so vol energie en entoesiasme vir wat sy doen, dat dit aansteeklik is en oorloop na haar personeel. Wat ‘n voorreg om haar passie vir haar Skepper met haar te deel! Skielik is ons almal tranerig omdat ons dieper dinge as net die koffie-en-kos deel. Genade onbeskryflik groot. 

Ek is opgewonde oor ons land se toekoms. Saam sal ons in hierdie mooie land van ons kan vorentoe gaan met mense soos Dominique. So, as jy in Harrismith se omgewing is, gaan kuier by Dom’s with Love.





En hier sit ons nou en kyk na die lieflike Drakensberge. Skielik begin die sneeu te vinnig smelt na ons sin! Môre moet ons gaan soek of ons nader aan die sneeu kan kom!

Wednesday 27 July 2016

Verlof om vakansie te hou

Vanoggend het ons net buite Richmond in die Noord-Kaap ‘n -3⁰C beleef.

Gisteroggend is ons vroegdag uit ‘n stormagtige en papsopnat Kaapstad weg om ons vakansie te begin. Op Laingsburg het ons biltongvoorraad aangevul – heerlike koedoe, springbok en blesbok (laasgenoemde die eersteprys!) en by Granaat varsgebakte brood geniet.

Iewers deur die dag het ons in Beaufort-Wes by Hessie se Nessie gestop vir verruklike sjokoladekoek soos net ‘n Kokkedoor-deelnemer kan bak! Sappig en heerlik! Dit was ook sommer ‘n viering ter herinnering aan my ma se verjaardag. Kosbare herinneringe wat ons deur die dag met mekaar kon deel.

Teen laatmiddag kon ons teen ‘n stewige spoed deur Richmond se strate stap om die boude net so effens ruskans te gee en die spiere te strek. Dit was lekker koud, maar met ‘n wolmussie, handskoene en ‘n lekker warm baadjie het ons die koue trotseer.

Vanoggend het ek so vinnig uit my nagklere uitgespring en so vinnig weer in my klere ingespring, dat ek nie die koue gevoel het nie. Ons was gewaarsku dat die waterpype gevries sal wees, maar die water was net lekker koud vir gesig was om op-en-wakker op die besige pad te wees! Baie, baie groot trokke tot in Pretoria.  

Nou is ons veilig by vriende in Pretoria en dis heerlik om lyf lank te maak tot die naweek. Die sonnetjie skyn en oral langs die pad was waterplasse en vol damme – veral die Vrystaat jubel met vreugde oor die reёns wat geval het!




Monday 25 July 2016

So begin ons lees…

My ma het graag die storie vertel hoe sy die nefie moes help met huiswerk. Sy was ‘n jongmeisie wat by haar verloofde (my pa) op die plaas gaan kuier het. Nefie se belangstelling was meer op wat deur die venster op die werf gebeur en elke nou en dan was daar vurige kommentaar oor waarmee oupa buite besig was. So is hulle eendag besig met ‘n klank-les. Op die foto is ‘n man met ‘n stok in sy hand en langsaan natuurlik die  klanke wat geoefen moet word. Nefie klink toe flink: “s-t-o-k” en toe, baie in sy skik met homself, spreek hy die woord wat pas geklink is, uit: “kierie”!

Ekself was ywerig leesgierig met my eie interpretasie van woorde en klanke. Hierdie is my eerste boek waaruit ek toe-oё kon “lees”.


En dit is hoe ek dit “gelees” het: 
“Hierdie bryn uier eet ek vir onderbyt!”



Ek is nog net so lief vir lees. En 'n ordentlike ontbyt met 'n vars plaaseier is hoog op my prioriteitslysie!

Sunday 24 July 2016

O, die Paarl is ‘n wonderlike plek!

Wat ‘n mooie plek is die Boland!

Die naweek het ons en ons seuns met hul vriendinne in die lieflike Hartebeeskraal se gastehuis voor die kaggels gekuier!

Met ‘n stapel vuurmaakhout, ‘n kaggel in die kombuis-kuierplek en nog een in die slaapkamer, het ons beslis nie koud gekry nie! En om die ekstra onnodigheidjies teen te werk, was daar ruim ooptes en heuweltjies om te gaan stap (jongeres het meer energieke oefening gedoen as die oueres…) Die interessante verskeidenheid dierbare viervoetiges het elke oefensessie verwelkom en stertswaaiend meegedoen. James – die rifrug gekruis met ‘n Great Dane – is beslis sy naam waardig! En klein Lola gaan lê op haar rug dat mens daai spekvet pensie kan krap vir pure lekkerkry.

Saterdagmiddag het ons Doolhof - anderkant Wellington - opgesoek vir ‘n heerlike wynproe. Nog ‘n juweel waarheen ons nog baie mense wil neem!


Nou sien ons uit na ons vakansie wat oor twee dae begin…. Ja, dis hoe ons oefen om volkome afgetredenes te wees!


Friday 22 July 2016

Soos engelekore!

Varsity Sing – wat ‘n voorreg om na sulke koorsang te luister! Met soveel jongmense wat met soveel dissipline oefen en optree, kan ons net vorentoe in hierdie spesiale land van ons! Ja, ek weet daar is soveel ander wat op ‘n ander vlak leef, maar hierdie klomp jongmense gaan iewers hul merke op ander vlakke ook maak. Hulle sal maar net van die ander jongmense – wat dalk nie dieselfde geleenthede gehad het nie – moet optel, hoop gee en saamdra!

Ai, ek verlang sommer nou na Bolandse berge, ‘n riviertjie wat onder die akkerbome deurkronkel. En ook na die verre paaie van Afrika!

Ja, musiek bind mense saam!


En hoe het dit aan my hart geraak toe Loyiso Bala, een van die beoordelaars, noem dat waar hy vandaan kom, koorsang meer populêr is as sport – “elke straat het ‘n koor – dit bring mense bymekaar wat nie noodwendig ‘n rugbybal of krieketkolf kan bekostig nie”.


Thursday 21 July 2016

Die waters het gekom!

Heerlike reёn het geval! Dit was wind en water – vir ons gevoel uit alle rigtings, want skielik was daar druppels teen ruite aan teenoorgestelde kante van onse kasteel.

Ons maak toe sommer die vensters oop sodat dit kan skoon reёn. As mens op die tiende verdieping woon en dis ruite wat na buite oopmaak, is ruite was ‘n uitdaging! So swig manlief toe maar voor die advertensie van die besigheidjie wat met magnete alkant van die glaspaneel werk… Maar wees verseker: daai dingetjie verg spierkrag wat ek nie het nie!

Dit laat my dink aan ‘n onlangse gesprek met ‘n paar vrolike vrouens. Daai demonstrasies van die “wonderlike apparaat” wat help dat jy jou werk sommer tjoef-tjaf afhandel. Die man (nogal nie so dikwels vrouens wat demonstrasies doen nie …) wat die demonstrasie doen, is gekonfyt in die produk wat hy moet adverteer. Seker baie ure geoefen om absoluut ekspert te lyk! Die groente word beetgepak dat die skille so waai! Die klitser klits dat die bolle skuim staan! Tot jy by die huis kom met daai ding… En siedaar, dit wil nie so lekker werk nie en beland dikwels onderin daai derde laai…

Dis soos by die haarkapper. Sy blaas jou hare droog met ‘n spesiale borsel. En jy koop dadelik een. Jou hare is blink en pragtig! En ai tog, by die huis, met jou onhandigheid, wil dit maar net nie weer so lyk soos toe sy dit gedoen het nie!

Maar terug by die winterweer. Is dit nie lieflik nie! Damme word vol en velde jubel! Een van die dae steek die lenteblommetjies kop uit om die son te verwelkom!


Wednesday 20 July 2016

Om te vergewe

Vroeёr die week kyk ek en manlief Eye in the Sky. ‘n Fliek met die altyd uitmuntende Helen Mirren in die hoofrol.

Sjoe, slaan daai fliek my op my maag!

Al wat ek kon dink toe ek dit klaar gekyk het, was: God se hart moet sekerlik breek oor wat ons hier op aarde aanvang….

En natuurlik moes ek ook op die web meer soek oor die broodverkopertjie. Niks oor haar gekry nie, want ek wonder in hoe ‘n mate sy beskerm word. En ek wonder sommer watter effek die rolprent op haar lewe sal hê.

Ek hoop ek het julle nou absoluut nuuskierig gemaak om dit ook te kyk (Box Office vir die wat het).

Maar wees gewaarsku: dis rof en beslis nie vir sensitiewe kykers nie. En ook nie vir mense wat skrikkerig is om te sien in watter verwoestende era ons leef nie.





Tuesday 19 July 2016

Ek en jy

Jy is jy
en dis okay

Ek is ek
en dis perfek

Of is dit????

Afgelope tyd het ons baie saamgekuier met ieder en elk. En ek is opnuut so bewus van ons elkeen se uniekheid. Daai ding wat ons elkeen spesiaal maak… dis darem baie spesiaal!

A glo vroeg opstaan is soos dit moet
B begin eers ontwaak saam met koffie en ‘n soen vir oggendgroet
C probeer net sy bes om uit die bed te kom met die beste voet


X vertel my van haar seer
Y glo hy sal vas staan elke keer
Z … van Z kan ek nooit genoeg en wil net meer en meer leer.



Monday 18 July 2016






And if I asked you to name all the things you love,
how long would it take you to name yourself?

Friday 15 July 2016

Die omgee vir ander

Vroeёr die week stap ons een middag in Woodstock. Dis so ‘n lieflike dag en ons stap sommer nog ‘n ekstra blok verder om die sonskyn te geniet.

Woodstock se “opstaan uit die verlede se stof” is indrukwekkend. Alhoewel sekere dele nog erg gehawend en verwaarloos is, is daar baie kreatiewe siele wat wondere verrig het met opknap van industriёle- en ander geboue. Die huisies tussenin is eenvoudig en ingeprop tussen mure en heinings van lemmetjiesdraad. Sommige vertel ‘n storie van moedeloos verby. Die slotte aan hekke by party blyplekke, waarsku dat hier nie gespeel word nie.

Ons oog vang The Haven se naambord en ons vind uit dat daar sommer ‘n paar van dié plekke in die omgewing is – sommige vir bejaardes, ander vir enigeen wat beskerming teen die lewe soek. Hartskos, ‘n tv-program met ene Elmarie as aanbieder, het ons op The Haven  se spoor gesit. Hier werk engele en ek onthou een se naam. Ons besluit om te gaan inloer en klop aan. Dis hoё heinings en stewige hekke en slotte. Die gebou is ingewig onder ‘n snelwegbrug. Dit neem ‘n tydjie om iemand te kry wat kom oopsluit. Ons word met ope arms ontvang. En ons is verstom oor die netheid van die plek. Skoon en agtermekaar. Op die oomblik word 108 mense elke nag daar gehuisves. Gedurende die somermaande is daar minder wat onderdak daar soek. Meeste van die inwoners gaan bedags uit om te gaan werk.

Met die uitstap vra ek die bestuurder wat mens te doen staan as haweloses op straat bedel. Sy beaam net weer: moenie geld vir mense op straat gee nie; stuur hulle hierheen. ‘n Praktiese oplossing vir die dilemma, is om ‘n boekie met koepons te koop @ R10 per koepon. Hou dit in jou binnesak en gee dit vir mense wat hulp nodig het. Op elke koepon is ‘n lys met plekke van veiligheid waar kos en verblyf verskaf word. Hier word medemense met respek behandel – menswaardig.


Ja, Kaapstad het my verander… 


Thursday 14 July 2016

Gesondheid!

Soms gebeur dit mos so dat daar skielik baie doktersafsprake is wat nagekom moet word. Sommer so onverwags. En sommer so op ‘n hoop sodat die mediese fonds (dankie tog vir daai!) nie kan bybly nie.

Die afgelope tyd was ons doenig met ‘n kind wat sy toon sleg sny, ‘n pa wat ‘n tand moet laat trek, ‘n vriendin wat vir chemo moet gaan, iemand wat in die hospitaal sit by ‘n siek kind, ‘n ander se kind wat met kanker gediagnoseer word, twee vriendinne wie se ma’s erge beroerte-aanvalle gehad het …..

Die afgelope naweek het ek die voorreg om vir ‘n uurtjie by my tannie van 88 tyd te verwyl. Die gedagtetjies is vlak en die gesels onsamehangend. Maar sy herken my en my man voorwaar met ‘n vriendelike laggie en daai bekende ondeundheid in die ogies. Sy is nog kleiner as voorheen. Broos. Ek gesels met haar oor lank gelede se dinge en onthou weer die saamspeel – hoe sy ons kleintyd leer swem het in Waenhuiskrans se waters! Kosbare onthou. En sy lag. En sy neurie vir my ‘n wysie – wat ek wel nie herken nie, maar ek kan vir haar van die Halleluja –liedjies sing wat ouma op die traporreltjie gespeel het. Sy verras ons almal met “haar gesels” en hier en daar breek daar vir ons ‘n stukkie verstaan deur.

En ek weet net weer: wees dankbaar oor jou gesondheid. Al die skatte in die heelal kan dit nie vir jou teruggee nie. Prag en praal is nie wat belangrik is nie. Dis die klein dingetjies wat saak maak. Dis die eenvoud opgesluit in die basiese dinge. 


Wednesday 13 July 2016

Klinkklaar klanke

Gister stuur ‘n dierbare omgee-vriendin van ver vir my ‘n lied van Juanita du Plessis wat my opnuut herinner dat ek die Koning se kind is. Ja, vriendin, soos jy weet, verjaar ons nie net op dieselfde dag nie, maar is ons in die ware sin van die woord bloedfamilie! Jy ken my hart!

Vanoggend speel ek sommer die lieflikste lof- en loofmusiek! Die vreugdeklanke vul ons hele kasteel! Ek het voorwaar ‘n lied in my hart. En ek dans sommer van vreugde!
En huisskoonmaak is sommer ‘n lekkerte. Dankbaar dat ek dit kan doen! Dankbaar dat ek ‘n kasteel het om skoon te maak!

As jy daai “gevoel” in jou binneste het dat jy vir iemand ‘n boodskap (of ‘n liedjie!) moet stuur, doen dit! Dit kom nie van jou af nie. Dankie, vriendin, dat jy gehoorsaam was. Ek kon gister, na ‘n paar uitdagings, rustig gaan slaap.


Ja, my pa is DIE KONING!  En daaroor sal ek jubel!!!


Tuesday 12 July 2016

Al die veld is vrolik!

Hoe bevoorreg om nog iewers in onse mooie land agterop ‘n oop voertuig te klim en in ongerepte natuur in te ry! Tussen die fynbos – die rietpolle, die tolbosse, die proteas!

Die afgelope naweek het ons die voorreg gehad om weer die bossies in die veld te ruik. As die voertuig oor die bossies ry en teen die plante skuur, kom daai heerlike geur los. Skoon, vars, groen!

As kind het ek baie by familie op hul plase gekuier.  Ploegtyd, saaityd, oestyd, skeertyd! En hoe lekker het ons nie ver ente op die plaaspad gaan stap nie! Met ‘n lekker vars appel in die hand!

Melktyd op oupa se plaas het ons die blikbekertjie sommer onder die melkstraal gaan hou – varser kan mens nie kry (maar ek dink nie ek sien nou kans vir daai een nie)!

Naby ouma se huis het ons ‘n speelplek skoongevee met die rietbesem en pophuis gemaak. Stukkies porselein gaan optel vir borde…


Met klei het ons krale op die werf gebou. Die geel blommetjies van die doringboom was ons kuikens, wit klippies die skape en die groter koffieklippe die beeste. Hoe onskuldig! Hoe heerlik eenvoudig! 


Monday 11 July 2016

Duwweltjies en dorings

Soms kan ons ligvoets hardloop. Vry en kommerloos. Dan dink ons nie eens daaraan hoe ons beweeg nie. Dit kom sommer net vanself. Moeiteloos.

En dan is daar ander dae wat die duwweltjies pla. Die eina-goed wat ons viervoet laat vassteek. Eina! So seer en so ongenaakbaar! Dit stuit jou in jou spore. En eintlik sou jy dan graag iewers in die lug wou “hang” om net eers van daai steekding ontslae te raak! 

Maar aikôna! Daai duwweltjie het homself in jou sagte vleisies geanker. Dis net vir stop en nie verder gaan nie. Beste wat jy kan doen, is hoop vir ‘n polletjie sagte grassies of ‘n kolletjie sand om ontslae te raak van daai doring.

Dis mos maar so met die lewe ook. Ons kan so sagkens net met die dae saambeweeg. Tot ‘n eina ons laat stop. En net daar ons plat op ons alie laat sit. Om te weet dis tyd vir net gou bietjie vashaak en plan te maak met die oorsaak van die seer.


En siedaar! Spoedig huppel ons weer verder! Nie sonder die branderige jeukerigheid wat agterbly nie, maar dalk is dit net daar om vir ons te leer: wees op die uitkyk – hier is dorings en duwweltjies!


Sunday 10 July 2016

Seelug en sonskyn!

Wat ‘n voorreg om in die mooie Waenhuiskrans te kuier! Die plek het diep spore in my gemoed getrap! Van kleinsaf is my spoortjies daar in die sand langs die bloue oseaan.

Die lekker herinneringe is kosbaar.


Sommige dinge het presies dieselfde gebly… Soos die bietoubosse. En die sandduine se spore wat verby die grotte se kalkbanke loop. Die baken waar my pa groot visse uitgetrek het.


Die see by Waenhuiskrans het ‘n blou van sy eie. Onbeskryflik mooi. Dalk is dit die kleur se naam: “Onbeskryflik blou”!


Friday 8 July 2016

Koekedoor

Kan mens nou so huil oor ‘n koek! So met die kyk van die finale episode van Koekedoor, trek ek los en huil dat die trane loop!!!!

Dis sommer van trots op die hele reeks. Die fotografie! Die lieflike omgewing wat geskep is! Die mooie land van ons! Ons spesiale mense wat vir niemand ‘n tree hoef agteruit te staan nie!

En natuurlik sit en dink ek aan die mense saam met wie ek dit graag sou wou kyk! Ek het mos immer daai saak hier in die agterkop: wil deel met iemand spesiaal!

Vanaand skink ek vir manlief ‘n glasie wyn en nooi hom om dit saam met my (weer) te kyk. Ek wonder of ek weer ‘n snesie gaan nodig kry. En hy dalk ook?


Trots Suid-Afrikaans! 


Wednesday 6 July 2016

Die lekkertes van die lewe

Vandag was ‘n bederfdag.

Wat ‘n voorreg om lekker agteroor te kan sit en lekker te eet! Mooi kos! Kwaliteit kos! Restaurant personeel wat oorloop van vriendelikheid en die bedryf verstaan! Heerlike geselskap!


En om laatmiddag die bus te vat tot hoog in Kloofstraat en gesels-gesels terug te stap tot by ons kasteel, is op sigself ‘n belewenis! Die interessante huise langs die pad is altyd ‘n lekker onderwerp van bespreking – wonder wie woon daarin; hoekom sou die eienaar dit hierdie eienaardige kleur geverf het; foeitog, kyk hoe verwaarloos is hierdie een; kyk net hoe slim het hulle hier gerestoureer …  


Die sonnetjie wat ons gaan soek het, het skielik agter Seinheuwel verdwyn, maar met mussie en handskoene was ons gepantser teen die koue. En na die stap is dit tyd om te kyk wat die koskas oplewer vir nog ‘n lekker ete!

Tuesday 5 July 2016








I think everything in life is art.
What you do.
How you dress.
The way you love someone, and how you talk.
Your smile and your personality.
What you believe in, and all your dreams.
The way you drink your tea.
How you decorate your home.
Or party.
Your grocery list.
The food you make.
How your writing looks.
And the way you feel.
Life is art.

-          Helen Bonham Carter, UK actress




Monday 4 July 2016

Dis die rigting wat saak maak

Winston Churchill het gesê: “There is nothing wrong with change, if it is in the right direction.”

So 8 maande gelede het ek en manlief die groot verandering gemaak om van die “platteland” (synde Durbanville) na die Kaapse middestad te verhuis.

Van 450 vk meter na 50 vk meter.

Van op die grond tot die 10de verdieping.

Van twee voertuie na een motor.

Dit was ‘n geloofsaak vir ons. Ons het nie getwyfel daaraan dat dit is wat ons op daardie tydstip moes doen nie. Te veel wonderwerke het om ons gebeur om vir ons die pad te wys. Vir ons was dit die regte besluit op die regte tyd.

My pa het ‘n vriend gehad wat baie lief was vir gesegdes. Sommige met meer onderliggende wysheid as ander. Sommige tong-in-die-kies, ander meer ernstig. Soos hierdie een: “If you hesitate, don’t”.  Wyse woorde. Ek glo God gee mens daai vrede wanneer die regte besluit geneem word.

Nou nie te sê dat dit noodwendig beteken alles verloop seepglad daarna nie, maar dis ‘n ander storie.

Maar die rigting wat ons gekies het, was wat vir ons saak gemaak het.

Van 2 uur daagliks op die pad om by die werk te kom, na 5 minute se stap van die woonstel tot in die kantoor – en as dit reёnweer is, ondergronds!

Van ‘n gekompliseerde leefstyl, na ‘n eenvoudige en ongekompliseerde leefwyse.

Van omring wees met “goeters” tot die stroping van die onnodige.

Heerlik bevrydend!

Ja, dit was ‘n aanpassing, maar ‘n groot lekkerte! Nuwe en opwindende ontdekkings en baie kosbare tyd saam.

(Ons wonder net altyd wat ons vriende wat vir die eerste keer kom kuier het, met mekaar gesels na hul eerste besoek aan ons in ons kasteel! Ons weet vir baie is dit onbegryplik!)

Friday 1 July 2016

Tussen ‘n boek se blaaie

Iewers in my kindertyd het ek ‘n lieflike boek present gekry. Alice in Wonderland. As ek reg onthou, was die name van die twee dogters Delsia en Sherine (sp?). Hulle was paar jaar ouer as ons en wat later van hulle geword het, weet ek glad nie. Ek dink hul pa was die landdros op die dorp en ons paaie het geskei. En nou is my ma ook nie meer hier om te vra nie… Die boek was groot en mooi en kosbaar. Alice en haar vreemde vriende se mannewales  het my nog altyd gefassineer alhoewel dit nie my geliefkoosde storie is nie.

Vanoggend oor RSG vra hulle die luisteraars om te laat weet wat hul geliefkoosde kinderboeke was. En daar laat weet die mense van heinde en ver! Lieflike herinneringe! Hoe kosbaar is almal se onthou!


Ek onthou veral vir Buksie die Bobbejaan wat my pa vir my by Oom Boetie se Kafee by die rooistoepies gekoop het na my mangels verwyder is. Daai boek van die bobbejaan wat nie wou luister nie en toe sy vinger raakgesny het met ‘n sker, het ek oor en oor gelees! En hopelik onthou dat skerp goed seermaak!

Dis vir my steeds lekker om op papier te lees. Het al gewonder oor ‘n elektroniese sakie, maar ek het ‘n liefdesverhouding met papier en ink.
En toe hoor ek onlangs dat boekeverkope weer 10% gestyg het en dat Leserskring wat toegemaak het, oorgekoop is en weer van nuuts af besigheid gaan doen (seker onder ‘n nuwe naam). Is dit nou nie lekker nuus nie!!!


“A book without pictures is not interesting”, says Alice.