Tuesday, 31 October 2017

Leefstyl-verandering

Heerlike boodskappe bereik ons: Geniet die vakansie! Lekker rus! En vele meer.

Vir my voel dit na ‘n nuwe leefstyl eerder as ‘n vakansie. Maar dis tog eers vakansie hou voor ons die nuwe manier van leef aanpak.

Dis groot bederf om manlief hier rondom my te hê. Ek is seker daarvan dat dit nie altyd so gaan wees nie! Daarvoor is ons (ek) darem net te menslik! Een of ander tyd raak die spasie om my te nou! Maar op die oomblik geniet ek die bederf van saamwees. Genadiglik leer mens mos mekaar se behoeftes en geite so deur die jare en weet manlief hoe om sake te (be)stuur....

Ons eerste paar dae in Vermont was wonderlik. Die walvisse het hul beste kante gewys en vir die eerste maal het ons groepe walvisse gesien wat manewales uitgehaal het! Die toeriste het al langs Hermanus se wandelpaadjies bankvas gestaan en was nie teleurgesteld nie!

Nou kuier ons langbeen in Waenshuiskrans. So mooi! So kosbaar! Rustig is beslis ‘n onderskatting. Spesiaal om stappaadjies van kleintyd weer te stap tussen die fynbos, bietoebessies, rietpolle. Sandduine te verken wat lankal nie meer op dieselfde plek lê as destyds nie! En om die plekke wat herkenbaar gebl y het na soveel jare, weer te sien en te geniet. Herinneringe bly na aan die hart.

Maar eers tyd vir middagkoffie in ‘n heerlike sonkolletjie. Met niks wat pla en geen tyd op horlosie wat saak maak!  

Thursday, 26 October 2017

Kosbare skat
                   
Beslis een van die kosbaarste dae van my lewe. Dis wat ek gister beleef het.

Manlief was heerlik verras oor die afskeidspartytjie wat sy personeel vir hom gereёl het. Hy is nie ‘n man wat daarvan hou dat ‘n bohaai oor hom gemaak word nie. Hy het so ‘n effe vermoede gehad dat daar iets aan die gang is toe hy ingelig word dat hul vergadering geskuif is na ‘n ander lokaal, maar die omvang van die verrassing het hom uitgeboul!
Bevoorregte wat ek is, is ek stilletjies na die geleentheid genooi en met goeie organisasie het ek saam met ‘n kollega betyds opgedaag. Wat ‘n voorreg!

So jammer my kinders was nie daar nie. Dit sou goed wees as hulle gehoor het hoe ‘n wonderlike pa hulle het! Natuurlik weet en beleef hulle dit, maar dis goed om dit uit (vele) ander se monde te hoor. Ek sal probeer om hulle daarvan te vertel, want uit hul pa se mond sal hulle dit nie hoor nie!

En nou is ons aan die oppak. Genadiglik is dit ‘n maklike een hierdie. En tog is ek verstom oor die hoeveelheid aardse goed wat ons het.


Môreoggend vat ons die pad. Kuier-kuier. Niks wat ons jaag nie! Ek en my skat. Kosbaar.

Tuesday, 24 October 2017

Pamperlang

Om letterlik en figuurlik van die “ou velle” ontslae te raak, bespreek ek vir myself ‘n sessie vir ‘n body scrub by ‘n spa op in die straat van ons kasteel af. Ek mik lankal om myself in die rigting te bederf, maar dan ontbreek die moed my weer. Toe neem ek vir manlief een Saterdagoggend en ons twee gaan  saam vir ‘n skouer-, nek- en rugmassering daarheen – sommer net om te kyk of die plek darem veilig is. En ai, was dit nou groot bederf!

Vir sommige van my vriendinne en liefies is dit nie lekker om te gaan vir ‘n “te-naby-my” ervaring nie. Ekself geniet die gepamperlang. Rugkrap en voetevryf is vir my groot bederf! En hoe harder hulle skrop en skuur, hoe lekkerder.

Na die heerlike sessie, voel ek sag en heerlik ontspanne. Bloedsomloop sommer beter. Ek loer in die verbygaan in ‘n spieёl en sien die hewige ring op my voorkop soos ek my lê gelê het op daai bed! Maar dis nou maar so – dit sal so mettertyd verdwyn. Ek moet die lekkerte bietjie uitrek en stap straataf by ‘n mooie koffiewinkel in om vir oulaas ‘n cappuccino by Giulio’s te gaan drink. Daar is ‘n sonnetjie wat my inwink. En ‘n vriendelike restaurantbaas wat glad nie dink dis snaaks as ek met ‘n groef op my voorkop hom verduidelik waar ek pas was nie! Hy meen dis hoeka tyd dat hy homself ook hier op die oujaar so moet bederf.

Groot bederf! 

Monday, 23 October 2017

Die skatte om ons

Hoeveel keer was jy al in Kaapstad?

Hoeveel keer het jy al by die St George’s Katedraal ingestap? Sommer net ingestap. Nie vir ‘n kerkdiens nie. Nie saam met ‘n toergroep nie. Sommer net ingestap. Die deure is mos heeldag oop. Jy kan maar instap. Niemand sal vir jou vra wie jy is, waar jy vandaan kom, hoekom jy hier instap, of jou sake agtermekaar is, of wat ookal nie. Hulle sal jou nie eens vra vir ‘n bydrae om die besigheid aan die gang te hou en die armes te voed nie.

By die ingang na die katedraal, so aan die linkerkant naby die buitedeur, is ‘n poster wat verduidelik wie welkom is. Gaan lees dit. Jy sal verstaan.

Vroegaand stap ons ons laaste Sondag in die Kaapse middestad op in St George’s Wandellaan op pad om te gaan luister na die sangdiens in die St George’s Katedraal.
Natuurlik totaal uit onse comfort zones uit!!! Daar is nie baie mense wat die diens bywoon nie. Dis mos nie meer hoogmode nie. Word ook nie meer op mense afgedwing nie. Ons elkeen kan mos maar wees wie ons wil en maak soos ons wil. So meen ons.

Maar toe vertel die besoekende prediker vir ons ietsie wat ons weer net laat besef: jy sien jou eie tekortkominge in jou verhouding met jou naaste. En is een van die grootste verlangens van elkeen van ons nie dat ander ons sal liefhê nie? 

Dit was toe nie net ‘n sangdiens nie, maar die koor in al hul glorie met kandelare en lang gewade en ruffled collars  vir die seuntjies was daar. 


Stap daar in! Beskou al die andersheid waaraan ons nie gewoond is nie. Ons reis soms ver om ander lande se katedrale te besoek. Stap in by ons moederstad se mooie katedraal. Gaan verwonder jou. Gaan sit vir ‘n wyle op ‘n stoel. En luister net. 


Friday, 20 October 2017

Inspirerende energie

Ek is – en raak al meer – soos ‘n ou Ford kar. (Deesdae is dit ook nie meer polities korrek om daai model se naam sommerso te gebruik nie….) Dit neem my ‘n geruime tydjie om eers op te warm en aan die gang te kom. (Deesdae se modelle raak sommer self warm op ‘n negatiewe manier…)

Soms hoor ek die One-and-two-and-three-and- van hier buite die balkondeur. Dan is dit die ywerige spul wat oefeninge doen op Woolworths se dak. Weet ook nie of hulle so ywerig is of raadop is nie!? Almal lyk nou nie na wafferse atlete nie. Daarom inspireer dit my nog meer. Dan spring ek sommer saam op en af hier in die kasteel.

Wanneer RSG soggens hul vinnige danssessie aankondig, dans ek ook alte vrolik saam.

Ek het inspirasie nodig om energie te verbruik.

Vanoggend hoor ek weer die opwinding hier buite. Vanaf die balkon sien ek die groep wat oefen. Maar vanoggend het hulle ‘n ander speelplek. Sommer in die St George’s wandelgang doen hulle hul oefeninge. En vanoggend se klomp is beslis nie almal streamlined nie. Die instrukteur is ook sommer hard op hulle. Daai maagspiere gaan les opsê! En die verbygangers draal so 'n bietjie rond om te sien wat hier aan die gang is! Hopelik inspireer dit meer mense.


En ek dans op RSG se danswysie van die oggend saam! Sommer net vir die lekker! Sommer net om my beweeglikheid te geniet! Vir die vreugde van die lewe! Vir die voorreg van ‘n lewe hier teen die voet van die ou groot berg.

Thursday, 19 October 2017

Arch for Arch

Die afgelope maand of wat hou ons die sakie dop. Wat is hulle besig om te doen aan die onderpunt van die Kompanjiestuin? Daar waar Government Avenue tussen die bome begin – net daar waar Adderleystraat besluit hy word Waalstraat – is ‘n doenigheid.

Elke nou en dan stap ons verby om die vordering dop te hou. Indrukwekkende hout strukture word opgesit. En nee, dis nie sommer net ‘n tydelike besigheidjie vir ‘n konsertjie of opvoerinkie wat daar gehou word nie. Hier is iets groters en meer permanent aan die kom.

Dis toe ook een laatmiddag ‘n goeie verskoning om oorkant die pad agteroor te sit met ‘n skuimkop-biertjie om die doenigheid gade te slaan. Die werkers weet wat hulle doen en werk fluks.

En uiteindelik sien ons die indrukwekkende eindproduk. Soos Design Indaba berig:

Arch for Arch is a commissioned architectural structure that commemorates the work and life of one of South Africa’s most celebrated figures, Archbishop Desmond Tutu. The project celebrates its namesake Tutu (lovingly nicknamed “the Arch”), and its design is meant to be a physical representation of his strength and resilient humanity.
The wooden arches were bent by Croatian boat builder Dario Farcic in Johannesburg. Each strand of wood bears a single line from the South African Constitution’s preamble, signifying the founding principles on which the country is built.
Ons was gelukkig om Desmond Tutu se toespraak oor die radio te hoor tydens die onthulling. Op 86-jarige ouderdom raak hy steeds harte aan. Ernstig, eerlik met sy uitbundige lag en sin vir humor.
‘n Baie besonderse arch vir ‘n baie besonderse man.

Wednesday, 18 October 2017

Oomblikke

Wanneer mens inpak, is daar oomblikke. Iets wat uit die laai uit kom wat jou aan iemand herinner. ‘n Kaartjie in jou kind se handskrif. ‘n Boodskappie van ‘n geliefde. ‘n Strikkie wat om ‘n pakkie gebind was.

En ‘n gedagte wat in ‘n boek neergeskryf is.

So kom ek af op die inskrywing van 1 Julie 2013 uit Lukas 10:37(b):

“Word ‘n medemens vir elkeen met wie jy elke dag te doen het maak nie saak wie of wat hulle is nie”, het Jesus geantwoord.

Met JA Doolder se aanhaling daarby: De omgewing van de mens is de medemens.

En ek wonder hoekom dit op daardie dag vir my belangrik was om dit neer te skryf.

En ek weet ek het die afgelope twee jaar intens bewus geraak van my medemens. Op verskillende maniere. Wie my medemens was. En wie se medemens ek was. Dis dieselfde persoon. Maar ook tog nie.