Heerlike
boodskappe bereik ons: Geniet die vakansie! Lekker rus! En vele meer.
Vir my voel dit na ‘n nuwe leefstyl eerder as ‘n vakansie. Maar dis tog eers vakansie hou voor ons die nuwe manier van leef aanpak.
Dis groot bederf
om manlief hier rondom my te hê. Ek is seker daarvan dat dit nie altyd so gaan
wees nie! Daarvoor is ons (ek) darem net te menslik! Een of ander tyd raak die
spasie om my te nou! Maar op die oomblik geniet ek die bederf van saamwees. Genadiglik leer mens mos mekaar se behoeftes en geite so deur die jare en weet manlief hoe om sake te (be)stuur....
Ons eerste paar
dae in Vermont was wonderlik. Die walvisse het hul beste kante gewys en vir die
eerste maal het ons groepe walvisse gesien wat manewales uitgehaal het! Die
toeriste het al langs Hermanus se wandelpaadjies bankvas gestaan en was nie
teleurgesteld nie!
Nou kuier ons
langbeen in Waenshuiskrans. So mooi! So kosbaar! Rustig is beslis ‘n
onderskatting. Spesiaal om stappaadjies van kleintyd weer te stap tussen die
fynbos, bietoebessies, rietpolle. Sandduine te verken wat lankal nie meer op
dieselfde plek lê as destyds nie! En om die plekke wat herkenbaar gebl y het na
soveel jare, weer te sien en te geniet. Herinneringe bly na aan die hart.
Maar eers tyd vir
middagkoffie in ‘n heerlike sonkolletjie. Met niks wat pla en geen tyd op
horlosie wat saak maak!
No comments:
Post a Comment