Tuesday 24 October 2017

Pamperlang

Om letterlik en figuurlik van die “ou velle” ontslae te raak, bespreek ek vir myself ‘n sessie vir ‘n body scrub by ‘n spa op in die straat van ons kasteel af. Ek mik lankal om myself in die rigting te bederf, maar dan ontbreek die moed my weer. Toe neem ek vir manlief een Saterdagoggend en ons twee gaan  saam vir ‘n skouer-, nek- en rugmassering daarheen – sommer net om te kyk of die plek darem veilig is. En ai, was dit nou groot bederf!

Vir sommige van my vriendinne en liefies is dit nie lekker om te gaan vir ‘n “te-naby-my” ervaring nie. Ekself geniet die gepamperlang. Rugkrap en voetevryf is vir my groot bederf! En hoe harder hulle skrop en skuur, hoe lekkerder.

Na die heerlike sessie, voel ek sag en heerlik ontspanne. Bloedsomloop sommer beter. Ek loer in die verbygaan in ‘n spieёl en sien die hewige ring op my voorkop soos ek my lê gelê het op daai bed! Maar dis nou maar so – dit sal so mettertyd verdwyn. Ek moet die lekkerte bietjie uitrek en stap straataf by ‘n mooie koffiewinkel in om vir oulaas ‘n cappuccino by Giulio’s te gaan drink. Daar is ‘n sonnetjie wat my inwink. En ‘n vriendelike restaurantbaas wat glad nie dink dis snaaks as ek met ‘n groef op my voorkop hom verduidelik waar ek pas was nie! Hy meen dis hoeka tyd dat hy homself ook hier op die oujaar so moet bederf.

Groot bederf! 

No comments: