Friday 13 October 2017

Kaapse kuiers

Wat ‘n fees om saam met mens se kinders Kaapstad te kan platloop! Met kronkelpaadjies die stad verken, instap by winkeltjies, verras word deur menige nuwe entrepreneurs se dinge.

So besef ons ook weer dat die Kaapse toeriste-seisoen met ons is. Skielik is die winter specials by die eetplekke iets van die verlede. En volgende winter gaan ons hierdie somer se hoё pryse betaal as ons onsself wil bederf. Ja, dis kwaliteitkos wat ons hier in die Kaap geniet, maar sommige plekke is darem net te snoep! Dit inspireer ons dadelik om in die toekoms meer tuis te kook en te kuier. Die spyskaart verlei ons om avontuurlustig te wees en te bestel wat ons nie ken nie. Dis altyd lekker om nuwe smake en disse saam met ons kinders te toets.

Ons vat die bus Kampsbaai toe. Dis ‘n wonderskone mooie aand en die sonsondergang betower soos gewoonlik. Die laaste sonbaaiers pak traag hul grafies en emmertjies op. Die honde geniet die stappie langs die strand voor hulle weer tevrede moet wees om agter slot en grendel te wag tot baas na nog ‘n dag se werk tuiskom.


Met groot ontsteltenis verneem ons die volgende dag van die brand teen Kampsbaai se berghange. Ai, die winter was skaars hier en brandgevare dreig reeds weer oraloor in die fynbos met die somerseisoen met ons.

No comments: