Monday 23 October 2017

Die skatte om ons

Hoeveel keer was jy al in Kaapstad?

Hoeveel keer het jy al by die St George’s Katedraal ingestap? Sommer net ingestap. Nie vir ‘n kerkdiens nie. Nie saam met ‘n toergroep nie. Sommer net ingestap. Die deure is mos heeldag oop. Jy kan maar instap. Niemand sal vir jou vra wie jy is, waar jy vandaan kom, hoekom jy hier instap, of jou sake agtermekaar is, of wat ookal nie. Hulle sal jou nie eens vra vir ‘n bydrae om die besigheid aan die gang te hou en die armes te voed nie.

By die ingang na die katedraal, so aan die linkerkant naby die buitedeur, is ‘n poster wat verduidelik wie welkom is. Gaan lees dit. Jy sal verstaan.

Vroegaand stap ons ons laaste Sondag in die Kaapse middestad op in St George’s Wandellaan op pad om te gaan luister na die sangdiens in die St George’s Katedraal.
Natuurlik totaal uit onse comfort zones uit!!! Daar is nie baie mense wat die diens bywoon nie. Dis mos nie meer hoogmode nie. Word ook nie meer op mense afgedwing nie. Ons elkeen kan mos maar wees wie ons wil en maak soos ons wil. So meen ons.

Maar toe vertel die besoekende prediker vir ons ietsie wat ons weer net laat besef: jy sien jou eie tekortkominge in jou verhouding met jou naaste. En is een van die grootste verlangens van elkeen van ons nie dat ander ons sal liefhê nie? 

Dit was toe nie net ‘n sangdiens nie, maar die koor in al hul glorie met kandelare en lang gewade en ruffled collars  vir die seuntjies was daar. 


Stap daar in! Beskou al die andersheid waaraan ons nie gewoond is nie. Ons reis soms ver om ander lande se katedrale te besoek. Stap in by ons moederstad se mooie katedraal. Gaan verwonder jou. Gaan sit vir ‘n wyle op ‘n stoel. En luister net. 


No comments: