Tuesday 17 October 2017

Opgaarsels

Vandag ‘n paar maal daaraan gedink dat ons darem baie soos eekhorings is. Dra gedurig goed aan nes toe. Bly tog maar lekker.

Tot dit tyd is vir inpak en oppak.

Dis ‘n ander storie. Ek het nog nie so baie verhuis in my lange leeftyd nie. Maar ek moes al so ‘n paar maal vir ander mense huis opruim. Nie ‘n snaaksigheid nie. ‘n Liefdestaak.
So is dit tyd hier op onse werf hier in die lug om te begin inpak. Hierdie keer is dit makliker omdat dit eenvoudig en min is. En tog verstom ek my oor hoeveel goetertjies ek (weereens) hier om my vergader het.

En ek weet ek gaan dit weer doen. Want dis tog die kleure kryt wat die prentjie kleurvol maak! Kan tog darem nie net bed en stoel en tafel hê nie. Die kersie op die tafel is dan dit wat die atmosfeer skep!


So met die inpak gaan my gedagtes maar weer en weer terug na siek buurvrou se huis wat uitgesorteer en ingepak moes word. Met ‘n knap vriendin wat kom help het, was alles onder beheer. En elke keer as ek iets hier by my wil inprop, praat ek so met myselwers: “Huh-uh! Dis nie netjies soos sy dit sou gedoen het nie!”

No comments: