Friday 20 October 2017

Inspirerende energie

Ek is – en raak al meer – soos ‘n ou Ford kar. (Deesdae is dit ook nie meer polities korrek om daai model se naam sommerso te gebruik nie….) Dit neem my ‘n geruime tydjie om eers op te warm en aan die gang te kom. (Deesdae se modelle raak sommer self warm op ‘n negatiewe manier…)

Soms hoor ek die One-and-two-and-three-and- van hier buite die balkondeur. Dan is dit die ywerige spul wat oefeninge doen op Woolworths se dak. Weet ook nie of hulle so ywerig is of raadop is nie!? Almal lyk nou nie na wafferse atlete nie. Daarom inspireer dit my nog meer. Dan spring ek sommer saam op en af hier in die kasteel.

Wanneer RSG soggens hul vinnige danssessie aankondig, dans ek ook alte vrolik saam.

Ek het inspirasie nodig om energie te verbruik.

Vanoggend hoor ek weer die opwinding hier buite. Vanaf die balkon sien ek die groep wat oefen. Maar vanoggend het hulle ‘n ander speelplek. Sommer in die St George’s wandelgang doen hulle hul oefeninge. En vanoggend se klomp is beslis nie almal streamlined nie. Die instrukteur is ook sommer hard op hulle. Daai maagspiere gaan les opsê! En die verbygangers draal so 'n bietjie rond om te sien wat hier aan die gang is! Hopelik inspireer dit meer mense.


En ek dans op RSG se danswysie van die oggend saam! Sommer net vir die lekker! Sommer net om my beweeglikheid te geniet! Vir die vreugde van die lewe! Vir die voorreg van ‘n lewe hier teen die voet van die ou groot berg.

No comments: