Monday, 31 July 2017

Patroontjies

Nee, nie vandag die soort wat met jou hand in die sand getrek word nie. Ook nie die soort wat met verfkwas op die doek gemaak word nie. En nie die soort wat deur plante in jou tuin gevorm word nie.

Vandag laat die woord my dink aan die patroontjies waarin ons so maklik vasval. Gewoontetjies. Sommige goed, sommige bitterlik sleg. Party stuitig en stout.

Omdat hier soveel lieflike eetplekke en doendinge is, sê ons dikwels vir mekaar dat ons net een keer ‘n plek besoek. Maar toe nie so maklik om daarby te bly nie! Want ai, daai lekker kos op die spyskaart wat jy “’n volgende keer” wil bestel…. En daai heerlike ondervinding wat jy “net nog weer ‘n keer” wil beleef!

So ontdek ons Giovanni’s Deli (gelukkig?!) so in die laaste kwart van ons verblyf in Kaapstad. Dis so ‘n lekker stewige stappie tot daar en terug op ‘n Vrydagmiddag. Ver genoeg dat mens ‘n nagereggie ook in die winkelmandjie kan pak. En omdat dit ‘n hele paar duisend tree is, moet ons iewers langs die pad ‘n ruskansie vat met ‘n koppie goeie kwaliteit koffie of ‘n koue biertjie. Verlede week het ons onsself halfpad bederf met ‘n beker warm sjokolade. Genoeg woema teruggesit om die terugtog met ywer en sonder pyne aan te pak!

Tydens ons verblyf (lank gelede) in Corniglia, Italiё, het ons geleer hoe mens op ‘n bekostigbare manier van die puik Italiaanse gerookte vleise en disse kan geniet. En hier by Giovanni’s doen hulle dit ook so. Die sorg waarmee elke papierdun skyfie vleis verpak word, en die lekkerte om dit met liefde weer hier in die kasteel kan kom oopvou en geniet, bring kosbare herinneringe terug.

Die personeel by Giovanni’s begin ons al herken….. Oops! Dis ‘n patroontjie wat vas is! By hierdie patroontjie sal ons maar bly vassteek terwyl ons nog hier woon. Dis te lekker!
Ek tel die dae af tot Vrydag….. 

Friday, 28 July 2017

Opslaantyd

Vanoggend staan ek met my koppietjie oggendkoffie op die balkon. Die dag het al sy gang gekry. ‘n Besonder warm wintersdag.

Die manne met hul negosiegoedjies is besig om rond te beweeg – kronkelend tussen die voetgangers en motors deur. Hulle stuur besonder behendig daai swaargelaaide kontrepsies van hulle. Ek kan net dink hoeveel skade dit aan ‘n voertuig kan maak as die man beheer oor daai besigheid verloor! Want dis baie, baie swaar en die staalpenne steek alkant ver verby. Dis ‘n aardigheid om te sien hoe netjies hulle elke liewe stukkie plankie en produk na ‘n dag se werk pak en stewig vasmaak – die plankie en produk ewe kosbaar en belangrik om hul dagtaak te verrig. Dit was nogal vir ons ‘n belewenis om te sien hoe en waar al daai trollietjies saans hier in die stad rond op spesiale plekke gestoor word. En wie die “base” is wat kom geld insamel en boeke opmaak as dit huis toe gaan tyd raak.  

Op so ‘n twee vierkante meter afgemerkte plaveisel tussen ‘n groot winkel en ‘n nog groter hotel, is ‘n ander man wat parfuum verkoop, besig om sy waentjie staan te maak. Hy is duidelik in ‘n hoёr inkomsteklas as ek sy toerusting so van ver af beskou. Eers word die raamwerk opgeslaan, ‘n gerieflike stoel oopgeklap. En dan kom sy handlanger aangestap om te help om die plastiekbedekking te help oortrek. Sykante word stewig vasgemaak, die opvoutafel word oopgemaak, ware uitgestal en siedaar! Reg vir die dag se handel.

Ek wonder so by myself of dié man dalk ‘n kampeerder in sy hart is. Sy vrou dalk nie? Laatmiddag vou hy weer alles netjies op, pak in en gaan huis toe na ‘n dag se werk. Hy, tevrede na die uitkampering, sy vrou bly om hom weer te sien! En môreoggend is hy opgewonde om weer te gaan uitkamp vir die dag. Ek sien nooit veel klandisie by sy hiper-netjiese stalletjie nie, maar hy is elke dag op sy pos.


Om elke dag so winkel op te slaan en uit te stal – net om laatmiddag weer elke dingetjie netjies op te vou en in te pak – dit bly harde werk. Hiervoor moet mens sekerlik deursettingsvermoё hê! Ek het respek vir iemand wat kans sien vir so ‘n bestaan en om nie maar net rond te staan en hand uit te steek vir ‘n pasella nie. Kyk bietjie met nuwe oё as jy weer by die informele verkopers verbystap. Sommige is puik entrepreneurs. 

Thursday, 27 July 2017

Sappigheid

So met die tyd het baie mense gewoond geraak aan die snaaksigheid van sappige kombinasies. Wel, sommige het daaraan gewoond geraak. En natuurlik is daar diegene wat nie nou nie – en ook nie later nie – hul mond daaraan sal sit nie.

Ek moet erken sommige van die konkoksies lyk vreemd. Veral die groenes. Maar soos die kenners meen, is die groenes juis die goeies! Hoe dieper die groen, hoe meer sien ek die monsters daarin raak! Dis nou die monsters wat die kieme moet vernietig!  Die groenes nie so maklik vir my nie, maar ek weet dis gesonder en dus kies ek dit so nou en dan as ek die dag dapper voel. Nie verniet dat dit as "groen mamba" in ons huishouding bekend staan nie!

Knap by ons gebou se ingang het ‘n nuwe kosstalletjie so paar maande gelede hul bedryf begin. Hulle maak ‘n sappie wat jou kiertsregop sal kry as jy net so effens verlep voel. Heel bekostigbaar. 'n Kombinasie na jou keuse. En hulle maak dit vars terwyl jy wag!

Anderdag koop ek vir ons elk ‘n houertjie om die verkouekieme hok te slaan. Myne ‘n kombinasie van wortel, gemmer, suurlemoen, appel. Liefie s’n beet, appel, wortel.
Met die eerste sluk is dit gewoonlik ‘n skok vir my gestel, maar ai, hoe heerlik verfrissend as mens eers gewoond is aan dié sappies!

Langs my staan ‘n kantoordametjie wat gou vir haar ‘n heilsame en vullende drankie kom koop tydens haar middagete. Ons begin gesels en ek vra haar wat sy bestel het. Piesang, grondboontjiebotter, heuning. Verpulp saam met ‘n paar ysblokkies tot ‘n heerlike sagte drankie. Klink vir my of ek ook een of ander tyd daai een kan probeer! 

Wednesday, 26 July 2017

Sou wou

Sou nog graag dit wou sê.

Sou graag nog dit saam wou doen.

Te laat. Geen kans meer daarvoor.

Min van ons het die luukse van met no regrets lewe. Daar is gewoonlik iets wat mens nog wou doen of wou sê of saam gaan verken. En dan is daar ook die goed waaroor jy spyt is wat jy wel gesê het – op verkeerde tyd. En goed wat jy gedoen het – in ‘n onbesonne oomblik.

Vandag is my ma se verjaardagdatum. Ek en een van die jonger geslag het oor middagete die voorreg gehad om saam koffie te drink en ‘n geselsie gemaak. En so ‘n paar foto’tjies bygehark om die onthou nog meer spesiaal te maak. En om sommer nefie se verjaardag ook te vier.

En later vanmiddag is ek op pad na ‘n begrafnis van ‘n veraf aangetroude. ‘n Man wat baie jonger as ek is. Iemand wat dalk nog “sou wou”.


Dit laat mens stilstaan. En dink. En momentum gee om te doen. Voor dit te laat is. Voor ek sê: Ek sou nog wou….

Tuesday, 25 July 2017

Gesondheid

Hierdie jaar se goggas maak die mense diep siek. Van heinde en ver hoor ons van erge koors, bronchitis, verkoue wat net nie wil wyk. Papsiek in die bed vir ‘n week of wat – dis nou as die werksopset dit toelaat. Anders is dit maar warm aantrek, mus en serp, ekstra sneesdoekies in die sak, werk toe!

Rooibostee met ‘n skeutjie heuning, ‘n stukkie vars gemmer, ‘n skyfie suurlemoen. Lyk my dit het die brandewyn en heuning - voor slapenstyd vir die bors - vervang? Of dalk nie? Dalk moet mens sommer dit ook wegslaan vir ‘n rustige slapie?

My spesiale beker (geskenk van dogter vir Moedersdag iewers in die verre verlede toe Room Service nog deel van my bestaan was) staan altyd gereed. Die gedagte aan die gewer maak dit sommer nog meer spesiaal om daaruit te drink. Dan verbeel ek my sommer sy sit hier neffens my om saam ‘n koppietjie te geniet.

‘n Vriendin dra eksotiese tee aan. ‘n Ander houertjie op my kombuiskas het heerlike kombinasies van smake wat uit Duitsland aangestuur is. Elkeen spesiaal, maar onse eie rooibos bly darem maar ‘n staatmaker. Vanoggend se koerantbylae beaam net die saak.

So van my spesiale beker gepraat. Eendag sit ek en ‘n gas (wat ‘n sielsvriendin geraak het) diep sake en gesels. Ernstige goed waaroor mens so half wil frons. Skielik bars sy uit van die lag! Ek is half verbaas-verstom: dis niks om oor te lag nie! Dis diep dinge! Maar sy lag nie vir dit waaroor ons gesels nie. Haar oog het skielik die prentjie op my beker gevang….

Tyd om die ketel aan te skakel! Dankie, sus, dat jy gereeld my dag opvrolik! Ek verlang daarna om 'n rooibossie met jou te deel!

Friday, 21 July 2017

Klein dingetjies


‘n Vriend sit een aand en kyk na die swartbord in ons kasteel. Die een waarop ek soms iets uit my binneste uit skryf. En soms iets daarop skryf om my dag op te vrolik. Dit werk voorwaar om so ‘n ietsie positiefs te skryf en gedurig in die verbystap te sien.

Op die swartbord skryf mens iets wat almal kan sien. En dit is dikwels sommer ‘n heerlike gesprekspunt. Soms is dit om die lewe se lawwigheid te deel. Soms sommer net om ‘n kosbare paar woorde vas te pen.

Interessant dat gaste soms ‘n paar uur in die vertrek is en nie lees wat daarop geskryf staan nie. Dikwels is die vreemdheid van ons veranderde leefstyl vir party net te ‘n groot skok! 

En dan kom hier soms ‘n vreemdeling in en lees onmiddellik wat op die bord staan en reageer daarop.

Ja, daar was al info op die bord geskryf wat ‘n siel hier en daar glad nie kon verstaan nie. En nie omdat ek “te diep” gedelf het nie…. Dalk net effe uit die boksie uit….

Vriend merk op dat die woorde op die bord vir hom so waar is. As oftalmoloog is dit vir hom van kardinale belang dat dit “die klein dingetjies is wat saak maak”. Die fynste besonderheid is belangrik. Presiesie is sy werk.

Dis glad nie wat in my gedagtes was toe ek dié woorde op die bord geskryf het nie! Dis net dat die “Hoe-Ha” nie vir my belangrik is nie. Vir my is dit die klein dingetjies wat saak maak. Soos ‘n glimlag – nie noodwendig ‘n verduideliking. Soos ‘n drukkie – nie noodwendig ‘n omhaal van woorde. ‘n Glas water – nie noodwendig die duurste vonkelwyn. Die eenvoudige. Met opregtheid. 

Maar ja, vriend, ek sal jou vertrou met my kosbare ogies! Die werk wat jy doen, verg dit dat die klein dingetjies saak maak op die manier soos jy dit beskryf. En dit laat my op 'n ander manier kyk wat ek daar geskryf het.


Tyd dat ek begin dink aan ‘n nuwe wysheid op die swartbord in onse kasteel….

Wednesday, 19 July 2017

Planne met proteas

Die blommeverkoper verseker my sy proteas kom van Botswana af. Ja, mevrou, en dan kry ons ook hier van Gansbaai se kant af.

Maar dié mevrou weet darem nie so mooi van proteas van Botswana af nie…. Maar as ons rose van Kenia af kan kry, kan ons seker proteas van Botswana af kry?! 

Soos eie aan die blommeverkopers oraloor, is dié man ook erg bekkig. Niks fout met sy kommunikasie-vermoёns nie. En oortuigend!

Die blomme is glad te duur na my sin. Maar manlief het my pas bederf met ‘n pragtige nuwe blompot. Blomme is nodig. Proteas. 

Dis koud en daar is nie kans vir verder soek nie. Ook nie lus nie. In die verbyry die blomme gesien en besluit ons stop daar op pad huis toe. Nou gaan ek nie nog ‘n plek soek nie. En heel waarskynlik is die ander ook duur.  Ek het lanklaas blomme gekoop en weet nie werklik wat die prys deesdae is nie.

So met die gekibbel roep die verkoper so na sy maat: “Pissie!” Ek dink eers ek hoor verkeerd, maar nee, dis die man se naam. Hy is die baas. Hy sien seker met dié vrou gaan hy nie veel wins maak nie. Ek kry ‘n paar takkies blare by vir special. Tog te dankbaar is ek, want mos nou nie meer tuin om gou ‘n takkie of wat te gaan knip nie! En so met die wegstap vra ene Pissie my of ek die chocolate proteaspesie ken. Agter die bure se heining haal hy dit uit. Nee, broer, dis ou proteas wat bruin gekleur is (dalk met tee?). Ek kom van protea-wêreld af. Hy glimlag vir my so met ‘n knipoog en gee my ‘n bossie pasella so ook van agter die heining uit: hoeka ‘n donkerbruin protea’tjie of twee, ‘n paar verlepte pap blare en sowaar ‘n slap takkie bougainvillea ook in die ruikertjie vasgevang! 

Dankie, Pissie! Waar kry mens deesdae sommerso ‘n geskenk saam as jy iets koop!