Thursday, 29 September 2016



Ons almal het ons redes

Die afgelope paar maande het ons die voorreg om heel dikwels saam met ‘n verwer en sy seun (soms ‘n ander jongman as die seun nie kan saam nie) in ons voertuig tyd deur te bring. ‘n Kosbare en baie insiggewende oefening.

Die tale wat ons praat is verskillend. En as daar een ding is wat ek sal mis as ek ooit die mooie land van my hart moet verlaat, sal dit die Capies wees met hulle eiesoortige uitspraak. Sien, ek met my Bolandse uitspraak, is self ook mos eiesoortig.

So vertel die omie anderdag dat hy baie betrokke is by die kerk. Siende dat die kerk oorkant die straat van sy huis is, is dit heel gerieflik. Maar die omie gaan nie kerk toe soos wat ek en jy verstaan nie. Die omie hou die “kêk” se gronde en gebou in stand. Hy versorg die houtwerk en tuin en verf waar nodig. Hy is baie trots op sy deel wat hy doen. 

Toe ons hom bietjie uitvra oor die saak, is hy baie ernstig dat hy nie kêk toe gaan nie om drie redes: Dominee nommer 1 skinder te veel; Dominee nommer 2 steel die kerk se geld; Dominee nommer 3 vat aan die vrouens se boude.

Ek sal ook nie na daai kerk toe wil gaan nie. Mens weet nooit….


Wednesday, 28 September 2016

Dinge wat my ma my nooit vertel het nie…

So saam met die vryery wat begin het, het my ma ook maar besorg geraak oor die spruite. Dit was in toeka se dae. Geen televisie wat mens vertel het van sakies waaroor jy nie eens gewonder het nie. En kuis tydskrifte.

In (aanstaande) skoonma se geselskap mag mens nie eens die woord “koei” gebruik het nie. Toe kry haar enigste kind vir my. Wat geweet het van koei en ook die ding by haar se naam genoem het.

Maar ons het baie behoudend grootgeword. Ai, selfs die woord wil my in ‘n boks indruk!

Eendag vra ek my ma: “Wanneer vertel ma ons van daai dinge.” En haar wyse antwoord: “Vra wat jy wil weet, dan vertel ek jou!” Slim antwoord vir ‘n ongemaklike vraag. En my “Hoe moet ek weet wat ek nie weet nie?” het geen verdere klarigheid op die onderwerp – of gebrek daaraan – besorg nie.

Wat my ma my nie vertel het nie (seker omdat ek nie gevra het nie), is dat die ouderdom mens bespring met ‘n ongekende aggressie. Sonder waarskuwing. Wreed.  En as jy nie saamstem nie, is dit omdat jy nog jonk en jeukerig is. Indien dit die geval is, het ek vir jou ‘n waarskuwing (en moenie eendag sê niemand het jou vertel nie) dat jy jou jonkheid moet geniet! Geniet dit uitbundig! Geniet dit uitspattig! Geniet dit met oorgawe!

Maar onthou: ek waarsku jou dat wat jy in jou jonkheid doen, in jou ouderdom jou gaan beetkry…. 

Tuesday, 27 September 2016

Die lekkerte en slegte

My rekenaar is my maatjie. Ek is baie lief vir my rekenaar. Ons speel baie saam.

Maar soms gesels ons – eintlik net ek - sommer hard. As hy (ja, ‘n rekenaar is manlik – nie maklik, manlik). Die saak is mos maar so. As dinge werk, is dit heerlik. As dinge haak, is dit nooit lekker nie. Nie met ‘n rekenaar nie, nie met ‘n ritssluiter (wat haak) nie, nie met enigiets anders nie. Haak laat my sommer staak.

Dan vra ek vir my liefie: “Kyk gou hier! Die ding wil nie wat ek wil nie…”. Dan staan liefie rustig en geduldig en (ek hoop) liefderik nader. En kyk. En vra: “Nou wat is fout? Dit werk dan!” Ja, ja, ja. Dit is soos dit is. As hy naby is, werk die goed.

Gister sit ek in iemand anders se huis en werk op my rekenaar. S-t-a-d-i-g. Die seine is swak. Ek moet rustig wees. Geduldig. Tydsaam. Nie haastig nie.


Maar ek is so lief vir my maatjie. Ons speel so lekker saam. Solank maatjie net nie dwarstrekkerig raak nie…. Foeitog, dis seker ‘n virus. Moet ook seker verstaan dat seisoensveranderinge dalk iets te make het met die saak. My maatjie het seker ‘n verkoue onder lede…. Of dalk raak my  maatjie senuweeagtig as ek so sukkel....




Monday, 26 September 2016

Dobber en dryf

So dobberend soms op die oseaan. Soos die golwe en die winde beweeg, so dobber ek. Soms bo-op die kruin, soms onder in die laagte sonder uitsig op land.

Partykeer is ek in ‘n kano. Alleenvaart. Beweging hang af van wat ek aanvang. Of nie aanvang nie! As ek nie balans hou terwyl daai brandertjie kom nie, tip ek om en val ek uit en spartel vir die vales. Maar soms, o soms vang ek daai brandertjie perfek en gly al langs die wit skuim uit tot op die strand. Heerlik! Onbevange!

Ander kere is ek op ‘n seiljag. Wind in my gesig! Bewus van die elemente. Ingestel op hoe daai seile gespan moet word. Bewus daarvan dat die beste seilervarings gebeur as mens skuins op teen die wind seil. Om te luister na die een in bevel en saam in die span te speel en hard te werk om maksimum uit die ervaring te kry.

Op die vissersbootjie moet ons saamwerk om die nette vol te skep. Om kos op die tafel te kry. Dis harde werk. Sommige dae is die vangs min. Die son bak warm, die diesel en aas se klankies trek in die neusgate op… As die net ingetrek word met of die handlyn opgetrek word met daai vereelte hande, is dit opwinding soos min! Maar die wispelturigheid van die groot dam met sy donker dieptes, mag nooit as te nimmer onderskat word nie. Dit laat my dink aan Uys Krige se pragtige gedig: Ken jy die See.
“Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
….
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.”



Maar vir seker verkies ek om ‘n skipper of stuurman in beheer te hê. Sommer een wat op die water kan loop en ‘n storm kan stilmaak. En vir my kan sê waar, o waar, daai vissies lê. Sekuriteit. Veiligheid. Geborgenheid. Dis al hoe ek daai storms sal kan trotseer. Beslis nie alleen en op my eie nie.   

Friday, 23 September 2016

Om Ligter te Loop

Sal so graag  ligter wil loop. Klink vir myself selfs vreemd. Ek het dan afgelope jaar begin ligter maak aan goeters

Dis nie oor lyf se ligter maak nie (ouderdom en gravitasie werk nogal hard teen mens aan daai kant…). Dis ook nie om van goeters afstand te doen nie.

Ek kan tog so ernstig raak oor bollies. Nee, nie oor sake van die dag nie. Sommer myself inwerk in goeters wat  my lewe kompliseer.

Of is dit?

Afgelope tyd het ek myself besig gehou en lekker gemors met nuwe verftegnieke en dinge. Lekker morsig. Nuwe horisonne verken.

En groot frustrasie op myself gehaal.

Vir wat?

Nes ek ligter loop en die dag fladderend tegemoet huppel, besluit ek self om weer iets nuuts te probeer. En ai, dan kan dit tog so dralend en donderend hier in en om my raak. Die tegnologie wil nie altyd saamspeel nie. Die hand en verstand wil nie mekaar op die regte plek ontmoet en aangee nie. Wat in my kop en hart is, wil nie by die vingerpunte uitvloei op die doek nie. Irritasie. Frustrasie.

Dan raak ek so de vieste in vir myself. Hoekom sit ek nie rustig op die bank en lees my boek nie?

Omdat dan sou ek nie Linna wees nie! Hmpf, ook nie altyd maklik nie! En manlief “takes it in his stride….”    


Tuesday, 20 September 2016


So bekruip daai ding(e) mens…

So ‘n paar dae gelede het ek die voorreg (ja, dis voorwaar ‘n voorreg, want daar is baie wat dit nie het nie!) om ‘n slag by die slim mense met die kennis oor wat hier binne-in mens aangaan te gaan kuier. Weliswaar duur dit toe die hele middag…. Sien, hulle het my gewaarsku dit gaan lank neem, maar toe raak my lêer op iemand se lessenaar verlore tussen ander papierwerk. Soos my ander vriendinne altyd geduldig bly, het ek ook my bes probeer en my intussen besig gehou met ‘n blokkiesraaisel en ‘n boek. Maar toe die horlosie net aanstap en niks gebeur nie, vra ek toe gelukkig! En hier sien hulle my toe darem weer raak. (Moet darem byvoeg daar was genoeg om verskoning gevra na die tyd!)

Wel, dis altyd interessant om so ‘n klomp mense in ‘n wagkamer dop te hou. En die slag is dit mos nou meesal oumense. En praat mos maar harder as wat moet. So almal hoor al die klagtetjies en skandetjies en so aan, ensovoorts.

Maar raak ‘n mens nou bewus van swakheid van die vlees! Siestog, een klou aan die kierie, een blaas en hyg na asem, ‘n ander is gryserig en het ‘n pyn op die borskas…  Ouderdom is nie ‘n maklike ding nie. En snaaks genoeg raak ek mos nou al meer bewus daarvan!

Die masjinerie wat in daai manne se spreekkamers en kantoortjies en kamertjies is, is legio! Dit pomp en flikker en piep vir ‘n vale. En die indrukwekkende personeel vleg heen en weer tussen die kranklikes en hoopvolles deur.

Genadiglik kon ek met geruste (letterlik en figuurlik) hart huis toe gaan. Darem nie sonder die nodige skrikkies nie! Dis mos nou so dat die dinge mens stadig bekruip en dan skielik op jou spring!


Soos nig vanoggend opmerk: die inkopielys word al langer… Al meer pilletjies wat gedrink moet word. Maar dankbaar dat daar slim mense is wat met hul slim masjiene kan sien en hoor hoe tik dit daarbinne. Uiteindelik kan hulle so slim wees soos hulle wil, maar ek is mos aanmekaar geweef deur my Skepper.


(Ja, dis 'n koek! En nee, ek het dit nie gebak nie!)





Sunday, 18 September 2016

Dit roer my hartsnare…

Op die tv program, Varsity Sing, hoor ek die inspirerende hartstorie wat die dirigent (Michael Barrett) van Tukkies se koor vertel oor die koorstuk wat hulle gekies het om te sing. I believe in the sun is gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur ‘n Joodse gevangene teen ‘n muur geskryf terwyl hy in die Cologne konsentrasiekamp was.

“I believe in the sun
even when it is not shining
And I believe in love,
even when there’s no one there.
And I believe in God,
even when He is silent.
Hierdie is die woorde waaruit die koorstuk bestaan. En dan gaan die res van die gedig so:
I believe through any trial,
there is always a way
But sometimes in this suffering
and hopeless despair
My heart cries for shelter,
to know someone’s there
But a voice rises within me, saying hold on
my child, I’ll give you strength,
I’ll give you hope. Just stay a little while.
I believe in the sun
even when it is not shining
And I believe in love
even when there’s no one there
But I believe in God
even when he is silent
I believe through any trial
there is always a way.
May there someday be sunshine
May there someday be happiness
May there someday be love
May there someday be peace….”
– Unknown