Wednesday, 13 September 2017

Die pilletjies

Gister het ek die voorreg om vir ‘n paar uur in ‘n dokter se spreekkamer deur te bring. ‘n Onbenydenswaardige voorreg…

Aanvanklik is almal ‘n stil, stywe, ongemaklike, effe senuagtige groep. Dan word ons een-een geroep dat die toetse gedoen word. En so raak ons almal dieselfde. Dieselfde toetse, dieselfde vrae, dieselfde vrese. Onsekerheid doen vreemde dinge aan ‘n mens.

En ons begin met mekaar gesels. Sommige so met die jassies aan – vasgevat hier om die kaaltes (genadiglik die keer aan die voorkant oop wat die toehou makliker maak!). En ons raak vriendelik met mekaar. Sagter. Hoor wat die ander sê. En luister.

Die omie en tannie wat vanoggend in die platteland hul huisdokter besoek het en skielik moes stad toe en nou sit en wag vir ‘n hospitaalbed…. Die twee stuitige manne wat vir hul ses-weke ondersoek is na hul verblyf as buurmanne in die hospitaal. ‘n Dogter met haar bejaarde ma. ‘n Ou omie wat so vinnig via sy huisdokter met sy tingerige vroutjie in die rystoel aangekom het, dat hy heeltemal vergeet het om haar kunsgebit in te sit.
Die man uit ‘n ander agtergrond wat langs my sit, beaam ook: Uiteindelik het ons net mekaar. Die goetertjies is nie belangrik nie.

Een maal per jaar besoek ek die kardioloog. Ja, dis nodig. En met dankbare hart kan ek daar uitstap. Alle sakies wat verlede jaar aangespreek is, is onder beheer gebring. En sus sal so dankbaar wees, want sy sê juis: Ma is enige apteker se nagmerrie! Darem nie meer nie. Ek het geleer mens moet maar geduldig, gedienstig, gedwee die voorgeskrewe pilletjies sluk.

Diep dankbaar vir die voorreg om ‘n mediese fonds te hê. En diep dankbaar dat ek heerlike, gesonde kos kan eet en nog ver kan stap om die dinge van die oudheid bietjie teen te werk. Saam met 'n omgee-maat. Met die pilletjies.


Tuesday, 12 September 2017

Ambidextrous

Seker omdat my onderwyser in standerd 4 (vir die wat jonk is: graad 6) met sy linker- en regterhand ewe goed op die swartbord kon skryf, dat die woord iewers by my vasgesteek het. Nie dat ons daai gewigtige Engelse woord daai dae geken het nie! Die onderwyser het geensins bohaai gemaak oor sy ambidextrocity nie! Vir hom was dit heeltemal natuurlik en logies dat hy nie voor die geskrewe deel op die bord moet staan as hy verder skryf nie – sit net die bordkryt in die ander hand en gaan aan met wat gedoen moet word! As kind is hy sekerlik, soos so baie ander, gedwing om regshandig te wees terwyl hy eintlik as linkshandige “geskep en bedoel” is. So neuk die samelewing soms om ons anders te maak as wat ons “bedoel” is. Genadiglik is linkshandigheid nie meer deesdae ‘n vreemde verskynsel nie! Daai linkshandige tennisspelers het altyd ‘n voordeel!

Tydens die afgelope US Tennis Ope het ek meer as een keer gesien hoe spelers sommer met die “ander” hand die raket gryp en probeer om daai bal raak te slaan. Enigiets om die punt te kry! Nie so maklik nie, maar tog moontlik. Hoe meer jy oefen….

Anderdag stap ons in ‘n systraat op en kom op 'n man af wat besig is om die mure van ‘n kunsgallery met kryt te versier. Hy geniet my “oohs” en “aahs” en beduie ek kan maar foto’s neem. Die man teken ewe vaardig met sy linker- en regterhand. Dis nou ‘n heerlike voordeel vir hom as kunstenaar – sodra die doek te groot word en die verf nat onder sy hand, skuif hy die kwas na sy ander hand en gaan aan met speel!



Ambidextrous : using both hands with equal ease or dexterity

In Afrikaans word dit vertaal met “dubbelhandig” of “ewehandig” of “tweehandig” / vaardig met albei hande. Ek sou “ewehandig” kies, want die ander twee klink bietjie of daar twee van die soort links of twee van dieselfde regs is. So iets.

Thursday, 7 September 2017

Om te gee en om te ontvang

Vanoggend het ek in oorvloed ontvang. Dit het gevoel soos verjaardag – een na die ander geskenk wat ontvang word en oopgevou word.

Nee, dit was nie die soort geskenke wat met groot oorweging van die winkelrak af uitgesoek word en met sorg toegedraai word in kleurige papier en fleurige lint nie.
Dit was ‘n paar boodskappies wat ek op my selfoon ontvang het. Van verskillende mense. Uit verskillende oorde. Niemand aan mekaar verbind. Sommer net. Sekerlik nie toevallig nie!

Hoe lekker om so bederf te word!

Onlangs sit ek en kyk hoe ‘n bruidjie haar vriendinne geniet by haar kombuistee. En hoe hulle haar bederf. Elke geskenk vir haar gekies. Sy sal die vriendinne onthou wanneer sy haar geskenke gebruik. Sommige met ‘n stoute glimlaggie!

Dis darem baie lekker om ‘n geskenk vir ‘n spesiale persoon uit te soek. En om die pakkie mooi op te maak, is ‘n lekkerte op sy eie!


En ‘n boodskappie van net letters uit die hart uit, is kosbaar! Hoe ouer ek word, hoe minder nodigheid het ek vir goeters. Vir my is ‘n opregte boodskap genoeg. Maar dis heerlik om vir daai jonges wat nog bymekaarmaak, te bederf met ‘n pakkie wat mooi getooi is!

Wednesday, 6 September 2017

Stapelvoedsel

Die vrou skuins voor my in die bus stut ‘n sakkie aartappels teen haar been. Sy sit gemaklik agteroor in die wiegende bus. Kosbare rustyd.

Ek wonder waarheen sy op pad is. Klaar gewerk en op pad huis toe proviand aangekoop? Vir aandete? Alles vir een aandete? Hoe veilig is die stoorplek as dit moet hou tot ‘n volgende etenstyd? Hoeveel wag vir die welkome roep “Kos is op die tafel!”? Is daar ‘n tafel?

Aartappels. Stapelvoedsel vir baie. 
   
Eintlik ‘n koddige woord. Wat word gestapel? Kos? Opgestapel?

Stapelvoedsel verwys na kossoorte wat die skares moet volmaak. Elke kultuur se eie voorkeure - en natuurlik wat beskikbaar is. Nie die duur en skaars kossies waarvan dissies gemaak word nie. Die soort wat mens se maag vol maak. Aartappels kan darem baie gaatjies volmaak. En magies rondmaak. 

Hoeveel aartappelskyfies word hier om ons by al die wegneemeetplekke gebraai? Vir die skares gaan dit nie om low carbs nie. As mens honger is, is daai die laaste woord waaraan gedink word. My pa het dikwels opgemerk: Julle weet wat dit is om lus te wees vir kos, maar julle weet nie wat honger is nie. Ware woorde.

Manlief is geseёnd met ‘n vinnige metabolisme. 'n Paar jaar gelede, na ‘n operasie, het hy binne ‘n week 7 kg gewig verloor. Dit was ontstellend! Slim vriendin onthou toe dat sy in een van die ouderwetse kookboeke se agterblaaie gelees het om vir pasiёnte wat gewig moet optel, aartappels te voer. Ons het gedoen. Dit het gewerk! (Maar ongelukkig werk dit ook met die kok wat die kos moet voorberei en nie vooraf gewig verloor het nie!!!)

Met aartappels kan mens soveel doen! Braai, kook, rooster, sop! Hoofgereg, slaai, bykos. Allerlei maniere. Ten spyte van wat die sportmanne hoor, bly aartappels ‘n wenner op enige spyskaart.  En met die lang fietsritte staan die bakke aartappels gereed vir daai fikses wat die yster pomp.

Moenie vergeet van die kreatiewe kant van daai uitgegroeide moer nie – onthou jy nog van aartappeldrukwerk?

Hoe ver sal sy daai 7 kg sak aartappels moet dra? 


Tuesday, 5 September 2017

Wat doen jy dan?

So nou en dan – genadiglik nie dikwels – hang die miswolk van grysheid om en oor my.

Dan help dit nie om vrolike, jolige ligte musiek aan te skakel nie. Dis net te oppervlakkig. Dis dan tyd vir musiek wat die liggaam, siel en gees raak. Sommer diep aanraak. En heerlik, o so wonderlik, uitlig na ‘n nuwe vlak van menswees. Op ‘n plek waar die aardse gewoel en gewerskaf en geklingel nie saak maak nie.

Habakuk sluit sy gebed af met: “My vertroue in die Here is nie afhanklik daarvan dat dit met my goed gaan nie. Al dra die vyeboom nie vye nie…..”

Dit neem my terug na lank gelede. ‘n Jongman van die gemeenskap is dood in ‘n leeu-aanval. Dit was ‘n hartseer storie. Die boodskap van die ouers by die roudiens was: “…nogtans sal ek jubel”. Sjoe, dis ‘n boodskap om te onthou.

Gebeur dit soms met jou ook? Dat jy ‘n gryser as gewone dag beleef? Wat doen jy dan?


Luister na die mooi klanke! Die miskombers het gelig! Kyk op en wyd en sien die nuutheid raak!

Monday, 4 September 2017

Wrede werklikheid

Sondagoggend drink ons koffie op die balkon. My oog vang die aktiwiteite oorkant die straat. Polisie. Probleme. Moeilikheid.

Sover ons kan sien, was daar ‘n ongeluk. Of dalk nie? Het iemand self gespring? Of is die persoon by die venster op die hoeveelste verdieping “gehelp” om te spring?

Wat ookal gebeur het, bly ‘n hartseer storie. En vanoggend se koerant is tjoepstil.

Later vang ons die bus Kampsbaai toe en stap verder kuslangs. Verstommende groot branders op die kuslyn. Die see lyk misleidend stil en rustig, maar elke nou en dan kom daar reusebranders – besonder lang branders wat op die sand breek en teen die rotse uitbars in spierwit bondels. En ons verstaan hoekom ‘n tienermeisie en twee vriende van die rotse afgeslaan is. Sy het nie oorleef nie.

Ons ontdek ‘n juweel! Bakoven. Altyd die naam gelees in die verbyry, maar nog nooit ingestap tussen die pragtige huisies nie. Huisies mag ek hulle wel noem, maar meer as ‘n plaas se prys nodig om een te koop!!!

Wat ‘n lieflike lentedag! Wat ‘n lieflike, mooie land! Maar ai, hoe hartverskeurend is die wrede werklikheid dikwels.

Friday, 1 September 2017

Lieflike Lente!

Of dit nou droogte is en ons nog baie reёn begeer en of dit nog koud om die boud is hier in die Kaap – dis Lente!

Lente het darem net sy eie bekoring. Die sagtheid van nuwe blaartjies en blomknoppies wat uitgestoot word. Groenigheid en blommetjies wat oraloor kop uitsteek. Dit bly so mooi en spesiaal.

Nuwe lewe wat deur Lente versinnebeeld word. Hoop. Opgewondenheid in die lug. Die eekhorings is sommer ekstra vol lawwigheid met hul bollemakiesies!

En natuurlik al die nuwe uitrustings wat die jongmeisies nie meer kan wag om te vertoon nie! Gladde beentjies, lyfies wat draai en swaai.

Om nie van die liefde te vergeet nie! Dis mos wetenskaplik bewys dat die liefde werklik in die Lente blom!