Wrede werklikheid
Sondagoggend drink
ons koffie op die balkon. My oog vang die aktiwiteite oorkant die straat.
Polisie. Probleme. Moeilikheid.
Sover ons kan
sien, was daar ‘n ongeluk. Of dalk nie? Het iemand self gespring? Of is die
persoon by die venster op die hoeveelste verdieping “gehelp” om te spring?
Wat ookal gebeur
het, bly ‘n hartseer storie. En vanoggend se koerant is tjoepstil.
Later vang ons die
bus Kampsbaai toe en stap verder kuslangs. Verstommende groot branders op die
kuslyn. Die see lyk misleidend stil en rustig, maar elke nou en dan kom daar
reusebranders – besonder lang branders wat op die sand breek en teen die rotse
uitbars in spierwit bondels. En ons verstaan hoekom ‘n tienermeisie en twee
vriende van die rotse afgeslaan is. Sy het nie oorleef nie.
Ons ontdek ‘n
juweel! Bakoven. Altyd die naam gelees in die verbyry, maar nog nooit ingestap
tussen die pragtige huisies nie. Huisies mag ek hulle wel noem, maar meer as ‘n
plaas se prys nodig om een te koop!!!
Wat ‘n lieflike lentedag! Wat ‘n lieflike, mooie land! Maar ai, hoe hartverskeurend is die wrede
werklikheid dikwels.
No comments:
Post a Comment