Die pilletjies
Gister het ek die
voorreg om vir ‘n paar uur in ‘n dokter se spreekkamer deur te bring. ‘n
Onbenydenswaardige voorreg…
Aanvanklik is
almal ‘n stil, stywe, ongemaklike, effe senuagtige groep. Dan word ons een-een
geroep dat die toetse gedoen word. En so raak ons almal dieselfde. Dieselfde
toetse, dieselfde vrae, dieselfde vrese. Onsekerheid doen vreemde dinge aan ‘n
mens.
En ons begin met
mekaar gesels. Sommige so met die jassies aan – vasgevat hier om die kaaltes
(genadiglik die keer aan die voorkant oop wat die toehou makliker maak!). En
ons raak vriendelik met mekaar. Sagter. Hoor wat die ander sê. En luister.
Die omie en tannie
wat vanoggend in die platteland hul huisdokter besoek het en skielik moes stad
toe en nou sit en wag vir ‘n hospitaalbed…. Die twee stuitige manne wat vir hul
ses-weke ondersoek is na hul verblyf as buurmanne in die hospitaal. ‘n Dogter
met haar bejaarde ma. ‘n Ou omie wat so vinnig via sy huisdokter met sy
tingerige vroutjie in die rystoel aangekom het, dat hy heeltemal vergeet het om
haar kunsgebit in te sit.
Die man uit ‘n
ander agtergrond wat langs my sit, beaam ook: Uiteindelik het ons net mekaar.
Die goetertjies is nie belangrik nie.
Een maal per jaar
besoek ek die kardioloog. Ja, dis nodig. En met dankbare hart kan ek daar uitstap.
Alle sakies wat verlede jaar aangespreek is, is onder beheer gebring. En sus
sal so dankbaar wees, want sy sê juis: Ma is enige apteker se nagmerrie! Darem
nie meer nie. Ek het geleer mens moet maar geduldig, gedienstig, gedwee die voorgeskrewe
pilletjies sluk.
Diep dankbaar vir
die voorreg om ‘n mediese fonds te hê. En diep dankbaar dat
ek heerlike, gesonde kos kan eet en nog ver kan stap om die dinge van die
oudheid bietjie teen te werk. Saam met 'n omgee-maat. Met die pilletjies.
No comments:
Post a Comment