Van lekker tot lekker
Die een naweek is
skaars verby, dan is dit die volgende! Hoe lekker kan dit dan nou wees!
Manlief het ‘n dag
se verlof ingesit en toe maak ons dit sommer ‘n ordentlike lang langnaweek. Met
heerlike vooruitsigte om vir twee nagslapies saam met ons Natal-kinders in
George omgewing te kan kuier.
Om maksimaal ons
naweek te geniet, besluit ons om een nag in Barrydale te slaap. En wat ‘n
heerlike verrassing wag daar toe vir ons! Gewoonlik glip ons net vinnig op die
verbypad by Barrydale verby. En natuurlik is daar heerlike koffiewinkels wat
uitgetoets moet word – ingeryg in ‘n ry alkante van die grootpad. Dit voel my
daar is elke keer ‘n nuwe een wat oopmaak!
Ons gasheer beveel
aan dat ons die aand by Mez in die dorp eet. Wat ‘n wonderlike ervaring! Daai
vrou weet hoe om kos te maak! Hulle beskryf hul styl as Mediterreens. En moenie
dink jy kan sommer instap en plek kry nie – vooruit bespreking is absoluut
noodsaaklik.
Ek droom oor ‘n volgende ete by Mez Karoo Kitchen. Mmmm, miskien moet ons weer iewers oorslaap, want hulle is net saans oop!
No comments:
Post a Comment