Replay
Saam met
televisie, het ”replay” deel van ons lewens geword. Daai nuttige knoppie wat ek
kan druk om “gou weer te kyk” of “gou weer te luister”.
So is ek dikwels
ingedagte en wil net gou “weer luister” – tot ek besef dis radio waarna ek
luister. Hoekom hulle nog nie daai dingetjie by die radio se opsies het nie,
weet ek nie. Ja, ek weet ek kan die opname aflaai, maar dis ‘n heel ander
storie.
Vanoggend is ek
hier doenig in die kasteel. Skielik hoor ek ‘n kreet van hier buite. Dis ‘n
hele klomp mense se stemme wat skielik op dieselfde oomblik protesteer. En ja,
die geluid van die gepaardgaande stamp so saam daarmee. Nog ‘n voetganger is
raakgery.
Met die uitstap op
die balkon wil ek so ampertjies die “replay” knoppie druk. Ek het mos nie
gesien hoe dit gebeur het nie. Maar, soos meeste dinge, in die lewe is daar een
keer. Nie ‘n weer-‘n-keer of nog-‘n-kans nie.
Mooi kyk! Mooi
luister! Vir die voetgangers as jy bestuur, vir die motors as jy ‘n voetganger
is, vir wat om jou aangaan. Dis heel waarskynlik die enigste kans wat jy kry,
want daar is nie ‘n “replay” knoppie nie.
No comments:
Post a Comment