Die luukse van ‘n lekker leesboek
Ai, maar dis
lekker om mens in te leef in ‘n lekker leesboek! En nee, ek doen nie die
op-die-skerm ding nie. (Dalk omdat ek nie een het nie?) Ek hou van die reuk van
die papier en die gevoel van bladsye tussen my vingers.
Manlief kla as die
boek wat ek vir hom van die biblioteek af saambring, swaar is. Dis seker ook te
doen met veiligheid. As mens insluimer met ‘n swaar boek in die hand, kan dit
lei tot ongemaklike kneusplekke…
Om ‘n maat te hê
wat ook lief is vir lees, is ‘n bonus. En om vriende te hê wat goeie (en lekker
en opbouende) literatuur aanbeveel, is kosbaar. Soos my vriende van mekaar
verskil en my lewe verryk, so verskil die leesstof wat hulle aanbeveel om my
lewe te verryk. En ek waardeer iedere wenk wat my woordkennis verruim.
Vanoggend het ek
die luukse voorreg gehad om ‘n boek klaar te lees sonder enige steurnis of
onderbreking. Sjoe, dis min mense wat so ‘n voorreg het! Ek het my lekker
toegesnuffel in ‘n kombers en die drama laat ontvou…. Glad nie ‘n letterkundige
werk nie, glad nie eens ‘n boek wat ek vir iemand sal aanbeveel om te lees nie.
Dit was sommer net die regte boek vir die oomblik.
Dit laat my met kosbare
herinneringe verlang na Anna. Anna het my help kinders grootmaak. Sy het my
geleer (probeer leer) om sagter met my kinders te praat. Anna kon nie lees nie.
Toe begin sy met leeslesse in Morning Star. Heel dikwels het ons lees huiswerk
oor die kospotte geoefen. Hoe trots was sy toe sy woorde kon herken! Anna, dit
was vir my hartverskeurend toe ek besef jy ry met ‘n bus om by jou vriendin te
gaan kuier en jy moet landmerke eien en onthou, want jy kan nie die naam van
die busstop lees nie. En Anna, dankie dat jy vir my geleer het om nie sommer
net te aanvaar dat almal kan lees nie. Jy het my geleer om met sagter oë te
kyk. En met dankbaarheid te lees.
No comments:
Post a Comment