Friday 31 March 2017

Laatvruggies

Twee weke gelede gaan kuier ons met die lieflike Tuinroete langs in George omgewing. Wat ‘n mooie plek tussen die berge en woude.

Die landerye met bessies is alte aanloklik. Sommer gou beland ons met bakkies in die aarbeiland om te pluk en te peusel. Oeps! Mens mag nie proe terwyl jy pluk nie! En die bakkie word geinspekteer na die tyd om te kyk of jy nie die mooie rooie vruggies te hoog opgestapel het nie! (En daar het ek net weer gesien hoe ordentlik  my dogter grootgemaak is. Beslis pa se oorheersende gene – sy het nie een onwettig geproe nie. En ja, ek het….)

Dis die einde van die stroopsoet-seisoen, maar daar is nog oorgenoeg om te pluk en huis toe te neem. In ons jongdae het ek altyd gedroom van aarbeie by die pavlova om die Kersete mee af te sluit. Destyds was daar ‘n aarbei-kweker aan die buitewyke van Napier. Maar as ons daar verbygekom het op pad see toe, was dit altyd te laat – aarbeityd was verby! En in daai dae het ons nie geweet van bevrore bessies nie. Watwou! Dit was toe pas die begin van vrieskaste in huise!


Soms is ek ook soos die laatvruggies. Ampertjies te laat om te lewer wat van jou verwag word! Genadiglik partymaal net-net betyds! 

Thursday 30 March 2017

Met vreugde en diep dankbaarheid

Vandag vier ek en manlief ons 43ste huweliksherdenking. Sjoe, dis ‘n leeftyd! Maar net nog ‘n ekstra “sjoe”: ons ken mekaar al amper 65 jaar!

Maar, soos my geliefde opmerk: “She still keeps me guessing!”

In onse geledere is dit ‘n merkwaardige mylpaal wat bereik is. En een waaroor ons met diepe dankbaarheid bewus is van baie, baie genade.

Die klowe en afdraendes en steiltes en opdraendes was daar. Deur die dale en berge en uitdagings was ons nooit alleengelaat nie. Daarvan is ons baie bewus.

En as ons soms ‘n afdraaipaadjie verkeerd gekies het, was daar ‘n stem wat ons teruggeroep het: “Hierdie kant toe is die regte pad!”

Vanaand neem ek vir manlief uit vir aandete om ons saamwees te vier. In nederigheid. Met dankbaarheid.

En mag die humor ons help om die volgende stuk lewenspad nie te ernstig op te neem nie! Meer geniet wat die oomblik ons bied. Die saamwees is so kosbaar!


Wednesday 29 March 2017

Om my ma se kos te kan ruik….

Watter ma sal dan nou nie daarvan hou as haar kind(ers) opmerk: “Ek ruik my ma se kos!” nie!

Ek en manlief sit en dink terug aan ons ma’s se kos. Wat onthou ons? Wat was die lekkerste lekker? Wat ek van skoonma onthou, is dat sy baie graag ertjies gemaak het – en nie sommer enige soort nie, maar wel Petit Pois. En ja, dit was op die bord met my eerste amptelike formele ete aan haar gedekte tafel. En ja, die bleddie goedjies wou nie op daai vurk bly nie!

Van my ma onthou ons veral die heerlike seekos op Oukersaand. Perlemoen, allekrik, galjoen ….. Ai, so lekker! En voor die dae van permitte en dinge toe die lewe tog so eenvoudig en ongekompliseerd was!

Wat ‘n voorreg was dit om die afgelope tyd met al ons kinders en hul liefies te kon kuier – nou wel nie almal op dieselfde tyd nie, maar nou ja, dis nie aldag Krismis nie! En om saam om ‘n gedekte tafel te kan aansit en glasies te lig op die kosbare lewe wat ons het, is ‘n fenomenale voorreg.

Of dit nou Cheese & Mac is, of kreef en kalamari - om saam met jou kinders die kos te kan proe en ruik en eet en geniet, bly ‘n heerlikheid. En met soveel smulpapies wat elkeen ‘n passie het vir kosmaak, is en bly dit 'n allerheerlikste smaaklike avontuur!




“Cooking is like love. It should be entered into with abandon or not at all.”
- Harriet van Horne (1920) American journalist and television critic.

Friday 24 March 2017

Die goedjies wat ons raam


So met verloop van tyd laat ons goedjies wat vir ons mooi is, raam.

Gister dink ons weer met heimwee terug aan ons kroos wat ons “gedwing” het om vir ‘n formele foto te gaan kort anderkant hul 18de verjaardag. Sommer maar net sodat ons van elkeen ‘n foto op min of meer dieselfde ouderdom het. En ja, vir enetjie moes ons aanpraat om daai foto geneem te kry…. Ek wonder of hulle dit ooit nog onthou! En ek moes mooi begroot vir daai fotos! So hang hulle toe in ‘n rytjie in ons huis se gang naas die foto’s wat van elkeen geneem is so net duskant twee jaartjies oud. Ek dink nogal daai was ook professionele foto’s van elk.

En dan was daar sus se kruissteek prentjie wat geraam is. En al die “beste” skeppings uit die kunsklasse wat deur die jare huis toe gebring is. So hier en daar van ma se werke wat ook geraam is.

Oupa se foto van sy tyd in die Tweede Wêreldoorlog. Met die knopies en epaulette. Kosbaar vir die nageslag bewaar.

Oumagrootjie se fyn doillie wat sy gehekel het. Op ‘n mooi diepblou fluweel agtergrond – materiaal van ‘n baie mooi Sondagrok wat my ma vir my gemaak het.

En ‘n foto van die baas van die huis met sy eerste rugbybal. En later ‘n bruid aan sy arm.
Ag ja, die goedjies wat ons raam. Elkeen ‘n spesiale storie. Elkeen ‘n kosbare herinnering.
En dan op ‘n dag raak ons mure minder. Die spasie om ons krimp en ons moet kies. Wat bly en wat gly? (En waarheen gly dit?)
Die mooi bly in ons harte. Al hang dit nie meer alles aan ons mure nie, bly daai goedjies wat ons liefhet en wat vir ons kosbaar is, in ons harte. Geraam om te onthou.

Thursday 23 March 2017

Van lekker tot lekker

Die een naweek is skaars verby, dan is dit die volgende! Hoe lekker kan dit dan nou wees!
Manlief het ‘n dag se verlof ingesit en toe maak ons dit sommer ‘n ordentlike lang langnaweek. Met heerlike vooruitsigte om vir twee nagslapies saam met ons Natal-kinders in George omgewing te kan kuier.

Om maksimaal ons naweek te geniet, besluit ons om een nag in Barrydale te slaap. En wat ‘n heerlike verrassing wag daar toe vir ons! Gewoonlik glip ons net vinnig op die verbypad by Barrydale verby. En natuurlik is daar heerlike koffiewinkels wat uitgetoets moet word – ingeryg in ‘n ry alkante van die grootpad. Dit voel my daar is elke keer ‘n nuwe een wat oopmaak!

Ons gasheer beveel aan dat ons die aand by Mez in die dorp eet. Wat ‘n wonderlike ervaring! Daai vrou weet hoe om kos te maak! Hulle beskryf hul styl as Mediterreens. En moenie dink jy kan sommer instap en plek kry nie – vooruit bespreking is absoluut noodsaaklik.

Ek droom oor ‘n volgende ete by Mez Karoo Kitchen. Mmmm, miskien moet ons weer iewers oorslaap, want hulle is net saans oop!





Barrydale se eiesoortige bouwerk met die skalieklip wat plat gebruik word om mure te bou, is pragtig en besonders. Dis die moeite en tyd werd om bietjie deur die dorp te stap en die boustyle te bewonder. En die Karootuine met die lieflikste plante wat nie so dors is vir water nie – iets wat ons almal kennis van moet neem!


Wednesday 22 March 2017

Dis toe nie die hele storie nie…

So geniet ek toe die boek. Die een oor die wolwe.

Tot op ‘n stadium. Toe raak dit effe dik vir ‘n daalder. Darem net bietjie te lekker hoe daai dingetjies uitwerk…. Of nie….

Dis nou deel van die leesboeke. Sommige het ‘n lekkerte om en in hulle van die voorblad tot by Die Einde. En nee, dit hoef nie noodwendig te wees “ and they lived happily ever after” nie. Maar sommige skrywers raak effe lui iewers. Of die entoesiasme en ywer kwyn. Of die karakters wil nie meer saamspeel nie. Of die boek se publikasiedatum kom nader.

Maar boeta, daai skrywers wat enduit jou aan die raai en wonder en op die hoogste toppe hou!
Natuurlik stem ek nie saam met almal se lewenswaardes nie. Op bladsye glip sommige nog makliker saam tussen die lakens in as in die fliek of tv – om maar een sakie te noem. Maar, dis ‘n storieboek. En al hou ek van ware verhale, is daar ook plek vir fiksie. Soms dwing dit mens weer om net bietjie sakies te bedink. Dit roer bietjie aan daar waar dit vir jou ongemaklik is om te dink.

Nou ja, my boek is klaar gelees, alhoewel ek bietjie teleurgesteld was. So lekker begin en my aandag vasgevang…. Tot op ‘n stadium.


Dalk moet ek eers die nie-fiksie op my bedkassie nadertrek.



A Man Reading in a Garden - Honore Daumier 1808 - 1879
(Ek wonder watter boek hy besig was om te lees?!)

Thursday 16 March 2017

Die hoek waaruit jy kyk

Op die oomblik lees ek ‘n lieflike boek. Oor wolwe.

Verlede week kon manlief net nie gou genoeg sy werkskleertjies uittrek om die boek nader te hark nie! En ek kon sien hoe hy die storie geniet! Hierdie week is dit my beurt!
En so met die lees van die boek, besef ek weer ‘n keer dat sake nie so eenvoudig – of dan eensydig – is soos wat ons soms dink nie. Afhangende van waar jou lojaliteite is, sal jou hart jou na toe wil lei.

Skoonma se wyse woorde was dikwels: ‘n Saak het drie kante – my kant, jou kant en die regte kant.

Wie besluit wat is die “regte” kant?

Natuurlik is dit maklik om dit te besluit as mens ‘n stel reëls het. Die wette waarteen ons ons kan meet. Die gebooie waarin ons ons kan spieël. Ook nie so maklik nie – ek raak maklik verstrik in daai reëls. Maar eintlik ook net as ek dit vir myself ingewikkeld maak…

Die ding van die wolwe. Dis soos met die ding van die bobbejane by Pringlebaai se kant. Of die jakkalse tussen die boer se skape.

Die geheim lê sekerlik daarin om die balans te vind. Met passievolle mense wat betrokke is, is dit sekerlik ‘n yslike uitdaging!
Die hoek waaruit ek kyk….. mmmmm, dit het ‘n groot invloed op wat ek besluit! 


Wednesday 15 March 2017

Die groen wat moet groei

Baie jare gelede kom kuier ons vriende van die Karoo by ons anderkant die Overberg. Dis einde van Oktober en oral is die graan tog o, so mooi! Dis wuiwende oppe en aftes. Groen, groen en groen.

Vir die Karoo-kinders is dit net te veel! Die groen is te veel om hulle! Kan mens seesiek raak van groen? Wel, hulle was naby daaraan.

Dit laat my dink aan hoe ons hier in en om die Kaap uitsien na groen!

Na laasnag se welkome reën, is dit vanoggend lekker bewolk, koel en klam. As ek uitkyk berg se kant toe, is dit net sagte grys wolke wat die berghange toevou. Die onderste gedeelte van Tafelberg is swart verbrand. Leeukop is sag toegevou, Vlaeberg is in wolke gehul en aan die onderkant van Seinheuwel is dit bruingeel droë gras. Geen groen.
Ons smag na groenigheid hier in die Kaap! Laasnag se klammigheid gee weer opnuut hoop! Een van die dae dans ons in die reën!

Tuesday 14 March 2017

Om oor te begin….

Hoekom is ons (tog sekerlik nie net ek nie???) so bang om ‘n foutjie te begaan?

Dalk kom daar net iets wonderliks te voorskyn as ons die foutjie probeer regstel. Of as ons weer oor wil probeer om te doen waarvoor ons aanvanklik gemik het, ontstaan daar heel waarskynlik ‘n nuwe avontuur en eindproduk!

Is dit dan nie met bietjie sukkel en struwel dat ons sterker word nie? Dan leer ons onsself ook sommer beter in die proses ken. En kom heel dikwels agter dat ons toe baie sterker is as wat ons ooit self gedink het!

Katrina Mayer sê: “sometimes you just have to begin again!” *

Nie dat ek dink sy het foutjie begaan en het toe oor begin nie. Dis net dat haar woorde by my vassteek. Soms moet mens net ‘n “oops” maak. Dan hoef jy nie te wonder oor “what if” nie! As jy nie die oeps gemaak het nie, sou jy altyd wonder! En soms moet mens net weer oor begin!


Gaan kuier gerus op * Katrina Mayer se webwerf. ‘n Vrou wat interessante besluite in haar lewe geneem het. Dapper vrou!
In 2010, after working for almost 30 years in Corporate America, Katrina resigned from her position as an executive at a $41 billion bank to pursue her other dream. She always wanted to be a full-time author and keynote speaker and now she dedicates herself to help people around the world live happier, healthier, and more fulfilling lives. She’s the author of The Mustard Seed Way, as well as an ordained interfaith minister. And she’s not too shabby in the kitchen, either!

Monday 13 March 2017

Hoe ry die boere….

En daar ry die boere toe nou die naweek sit-sit so tuis! Ai, maar die wind was woes! Saterdagaand het ons hom voel aankom toe ons die stad binnery na ‘n heerlike partytjie. En deur die nag was ons al te deeglik bewus van daai wind se krag! Die deure en vensters het geklap en in die kosyne geskud! In so ‘n groot gebou soos waar onse kasteel in is, is daar altyd iewers ‘n venster se knip wat nie so goed sluit nie of ‘n deur se skarnier wat neuk.

Manlief het houtwiggies gesny. Laataand – as die suidoos kom kuier - stap hy hier in die gebou rond en wig vas wat moontlik kan vaswig. En gereeld kry hy ons jong buurman ook op jag om te kom toemaak wat moontlik kan voor dit nog ‘n keer klap.

En snaaks genoeg is daar mense vir wie dit blykbaar nie pla nie! Dalk dowes? Of slaap te vas na ‘n aand se gefuif (ons partytjie was te ordentlik om daarmee te help)? Of oorpluisies? Of musiek oor die ore heelnag deur? Sal nie weet nie.

Gistermiddag was daar ‘n paar heldhaftiges wat hul fietse gevat het om ‘n draai te ry. ‘n Man kom mos darem nie van oor die see om net hier te kom omdraai sonder ‘n paar trappe nie! En vanoggend is hier ‘n hele spul fietsryers op in Strandstraat iewers heen. Maar toe het die windjie ook nogal aan hulle gepluk.

Dis ‘n lieflike middag met net so ‘n roerinkie van ‘n luggie. Ai, ek is darem jammer vir die fietsryers wat jaar lank oefen en spaar en uitsien na die saak. (Ek hoor darem die V&A Waterfront het die saak deeglik benut!)


En al wat hulle toe ervaar, is hoe die Kaapse Dokter die kieme (en fietse en al wat voorkom) wegwaai!


Friday 10 March 2017

Kultuurklanke
Groot bederf! Gister vroegaand sit ek en manlief agteroor by die Woordfees om na Bibi Slippers te luister. Sy gesels oor haar nuwe boek (deel was van haar meestersgraad) genaamd “Fotostaatmasjien”.  Haar wens is dat dit nie “net ‘n boek” is nie, maar ‘n objek.
Aan die einde van die bespreking - wat knap gelei is deur Tertius Kapp, haar uitgewer – is daar ‘n versoek uit die gehoor dat sy dié gedig voorlees. Dis as opdragwerk geskryf tydens Versindaba se huldiging van Adam Small en sy werk.


Bibi Slippers: 15 fotostate vir Adam Small

ek het gehoop vir insig maar na ’n week in die biblioteek
het ek net ’n vae idee vir ’n gedig. o, en ’n fotostaat
van jou gesig

dis ’n swart-en- wit kopie waaruit jy terugstaar deur ’n sexy bril
met jou hare se sjarmante krul en ek dink hmmm, as dinge darem
anders was …

ek fikseer vir ’n tyd op die nael, netjies geknip aan die einde
van die vinger waarop jou ken so kunstig rus die manier
waarop jou lippe saampers kry my lus

om nog ’n fotostaat te maak: ’n vergroting sodat ek jou swart oë
van nader kan bekyk en presies kan sien hoe jou wenkbroue lyk en nog een
waarin ek meer detail kan ontdek

soos die lig wat in ’n halfmaan aan jou oor kom lek

’n fotostaat is soos ’n verhouding vol grys areas en ek wonder of jy steeds
oortuig is dat alle probleme deur die liefde opgelos kan word.

in die era post-apartheid en post-photoshop maak ek swart-en- wit fotostate
heel bewus dat ons almal volgens Plascon tinte van Raw Oats is
iets wat ons almal eenmaal geweet het
en toe eenvoudig vergeet het

maar jy het onthou, sien ek nou, en daarom raak jy elke keer as die strook lig
onder die glasblad gly nog 20% groter, met elke afskrif
meer onskryfbaar

ek het gemik vir ’n hele gedig maar ek het steeds net ’n blank vel en, wel,
15 fotostate van jou gesig

Thursday 9 March 2017

Dit mag wees. Of dalk nie.

Hope smiles from the threshold of the year to come, whispering, 'It will be happier.'
- Alfred Lord Tennyson

Die aanhaling klink so mooi. So vol belofte. Vol hoop vir beter. Vir sagter. Vir makliker.
Maar so eenvoudig is die lewe ook nie! Ons is nie hier om met “lekkerkry klaar te kry” nie. Dan sal ons almal slap ruggraatjies hê.

Lank gelede luister ek iewers na iemand :
- ons het arms gekry om iets mee te dra; dalk vuurmaakhout?
- ons het hande gekry wat moet vat en doen; dalk plant, oes, knie?
- ons het voete gekry om te loop; moontlik om water te gaan haal by die rivier?
- ons het bene gekry wat kan klim; miskien teen die bult uit om te kyk wanneer die son opkom?

En toe begin ons sit. En knoppies druk. En epos stuur om iets by die voordeur afgelewer te kry.

Genadiglik kan ons arms nog iemand vashou, troos en koester.
Met ons hande kan ons mekaar aanraak en ‘n mooi blom rangskik.
My bene neem my voete na daar waar ek iets vir iemand anders kan doen.

Dalk moet ons weer self die hout gaan soek, die takke saag, die stompe kloof sodat ons arms sterk bly. Met die huidige droogte leer ons sowaar weer om water in ‘n emmer te dra!

Ja, ek weet spiere word deesdae gebou deur oefening, in ‘n gym, op jou fiets – en hoe erg ookal, soms sommer via ‘n groot blik aanvulling wat wie-weet-werklik (behalwe die vervaardiger) wat alles in daai konkoksie is!


En ja, die jaar is dalk tot dusver makliker of happier, maar niks is ons gevrywaar nie. En as jou jaar tot dusver hartseer en goor was, hou moed: jy bou kosbare spiere! Daar is hoop vir beter dinge!


Wednesday 8 March 2017

Letters, woorde, sinne, stories

Lekkerte van luister was gister my voorreg! Vir ‘n hele uur kon ek in die Boeketent by die Woordfees agteroorsit en luister na Annelie Botes!

Sjoe, dis nou ‘n vrou wat ‘n pad stap! En ja, baie van die draaie en opdraendes wat sy uitbeur, skep sy vir haarself! Maar sy kan! En sy doen!

As sy haarself voorstel as ‘n eerlike skrywer, is dit wat jy kry. Eerlike waarhede. Soos die ding is, so noem sy hom en so skryf sy hom en so is dit! Nie altyd gemaklik vir die leser nie, maar heerlik kloof sy bietjie daai toegeboute gedagtetjies van ons oop! Om weer vars te kyk, goed te luister, mooi te kyk….

Ek sien uit na Lugkasteel, maar wonder of ek dapper genoeg is om dit saans te lees…. Volgens Annelie is dit regtig waar dat sy bedreig gevoel het in daai kasteel. En klink my dit was meer as net ‘n gevoel….


Monday 6 March 2017

Replay

Saam met televisie, het ”replay” deel van ons lewens geword. Daai nuttige knoppie wat ek kan druk om “gou weer te kyk” of “gou weer te luister”.

So is ek dikwels ingedagte en wil net gou “weer luister” – tot ek besef dis radio waarna ek luister. Hoekom hulle nog nie daai dingetjie by die radio se opsies het nie, weet ek nie. Ja, ek weet ek kan die opname aflaai, maar dis ‘n heel ander storie.

Vanoggend is ek hier doenig in die kasteel. Skielik hoor ek ‘n kreet van hier buite. Dis ‘n hele klomp mense se stemme wat skielik op dieselfde oomblik protesteer. En ja, die geluid van die gepaardgaande stamp so saam daarmee. Nog ‘n voetganger is raakgery.

Met die uitstap op die balkon wil ek so ampertjies die “replay” knoppie druk. Ek het mos nie gesien hoe dit gebeur het nie. Maar, soos meeste dinge, in die lewe is daar een keer. Nie ‘n weer-‘n-keer of nog-‘n-kans nie.

Mooi kyk! Mooi luister! Vir die voetgangers as jy bestuur, vir die motors as jy ‘n voetganger is, vir wat om jou aangaan. Dis heel waarskynlik die enigste kans wat jy kry, want daar is nie ‘n “replay” knoppie nie.

Thursday 2 March 2017

Die luukse van ‘n lekker leesboek

Ai, maar dis lekker om mens in te leef in ‘n lekker leesboek! En nee, ek doen nie die op-die-skerm ding nie. (Dalk omdat ek nie een het nie?) Ek hou van die reuk van die papier en die gevoel van bladsye tussen my vingers.

Manlief kla as die boek wat ek vir hom van die biblioteek af saambring, swaar is. Dis seker ook te doen met veiligheid. As mens insluimer met ‘n swaar boek in die hand, kan dit lei tot ongemaklike kneusplekke…

Om ‘n maat te hê wat ook lief is vir lees, is ‘n bonus. En om vriende te hê wat goeie (en lekker en opbouende) literatuur aanbeveel, is kosbaar. Soos my vriende van mekaar verskil en my lewe verryk, so verskil die leesstof wat hulle aanbeveel om my lewe te verryk. En ek waardeer iedere wenk wat my woordkennis verruim.

Vanoggend het ek die luukse voorreg gehad om ‘n boek klaar te lees sonder enige steurnis of onderbreking. Sjoe, dis min mense wat so ‘n voorreg het! Ek het my lekker toegesnuffel in ‘n kombers en die drama laat ontvou…. Glad nie ‘n letterkundige werk nie, glad nie eens ‘n boek wat ek vir iemand sal aanbeveel om te lees nie. Dit was sommer net die regte boek vir die oomblik.

Dit laat my met kosbare herinneringe verlang na Anna. Anna het my help kinders grootmaak. Sy het my geleer (probeer leer) om sagter met my kinders te praat. Anna kon nie lees nie. Toe begin sy met leeslesse in Morning Star. Heel dikwels het ons lees huiswerk oor die kospotte geoefen. Hoe trots was sy toe sy woorde kon herken! Anna, dit was vir my hartverskeurend toe ek besef jy ry met ‘n bus om by jou vriendin te gaan kuier en jy moet landmerke eien en onthou, want jy kan nie die naam van die busstop lees nie. En Anna, dankie dat jy vir my geleer het om nie sommer net te aanvaar dat almal kan lees nie. Jy het my geleer om met sagter oë te kyk. En met dankbaarheid te lees.

Wednesday 1 March 2017

Mmmmmm, Maart

‘n Nuwe dag, ‘n nuwe maand, ‘n nuwe seisoen.

Wat sal die nuwe seisoen vir ons bring? Saam met die nuwe seisoen kom nuwe uitdagings, nuwe dinge waaraan ons moet gewoond raak. Ook nuwe seisoene in ons lewens.

Maar ook varsheid. Herfs gee weer hoop op nuwe lewe. Nuwe groei. Nuwe geleenthede.

Nee, ek is nog nie gereed vir die kouer weer nie. En nee, ek het nie hierdie somer so warm gekry soos verlede somer nie. En ja, ek weet dis na die kouer weer waarna ek moet smag, want dis wat die reën gaan bring.

Ek het nog nie genoeg perskes geëet nie. En ek soek nog waatlemoen en sappige vrugte wat somer spel! Elke winter neem ek my voor dat ek meer somervrugte gaan eet. En hier is dit alweer aan die einde van die somerseisoen en ek het sowaar weer nie genoeg gehad nie!

En daar is nog so baie somerresepte wat ek wil probeer! Ek wil nog kaalvoet langs die see gaan stap en langbeen die koue witwyn saam met my piekniekkos geniet!

Gelukkig is die Kaapse herfs ‘n lieflike tyd! Nog lang middae en soel aande.
Met die hoop op reën om die droogte te breek.


Ja, Maart bring hoop! En dalk kry ek nog ‘n paar sappige somervruggies om te geniet!