Friday 29 December 2017

Vier met vonkel (in die oog)

Hier is dit nou: laaste Vrydag van die jaar.  En wat ‘n jaar!

Vanoggend luister ek op RSG hoe die jaar deur die kundiges bedink word. Die intree-spreker is positief. En ek skep sommer moed vir die nuwe jaar wat voorlê. As ‘n Suid-Afrikaner – wat weet van – positief kan reageer op 2017, sien ek ook kans. En ek besef net weer dis belangrik met watter ingesteldheid mens na iets kyk. Die man noem dat ons in 2017 ervaar het dat die juridiese stelsel in onse mooie land ruggraat het. En ja! Dis goed om dit te weet!

Kyk, onse land en onse mense is keer op keer omgekeer in 2017. As dit nie ander land se mense is wat hier ingevlieg kom en maak of hulle plek het op ons werf nie (sjoe, dit was amper!) is dit hoge mense met perdekarre vol geld wat ons so gerus gemaak het met hul kundigheid, dat ons verstom gestaan het met wat man-alleen (werklik?) die ekonomie se pilaartjies laat kantel. En dan was daar natuurlik nog die kantelings in ons buurstaat. En ons sien uit na wat die politiek in die toekoms inhou hier op ons eie werf.

Maar intussen moet ons ons eie huishoudinkies se boeke laat klop.  En ons moet ons bes doen om veilig tuis te kom en veilig in ons eie blyplekke te woon.

En sorg vir nog iemand(e) in die nuwe jaar? Bietjie hoop gee vir iemand anders? Dalk iemand wat bietjie “anders” is as ek self?


Maar kom ons vier met ‘n vonkel die wonder van die lewe. Die oorvloed, die vreugde – ten spyte van. En sien uit na wat die nuwe jaar ons kant toe gooi. Soms met 'n vonkel in die oog.

Wednesday 27 December 2017

Tyd om jou vere reg te skud

Uiteindelik is die kalkoen se laaste boudbeen skoongesny. Van die laaste skyfie ham is ‘n middagete-broodjie gemaak – met mosterd en ‘n pikante piekeltjie.

Nou kan ons fokus op die jaareind.

Maar iewers, so met die jaar se draai, is daar sekerlik ‘n partytjie te hou? Lekker opskop om die lewe te vier?

Dit laat my dink aan my ma se mooie rooi rok. Ek onthou een van die danse waarheen sy gegaan het as Queen of Hearts  met dié einste rok. Daar was speelkaarte – natuurlik net dié van koningin van harte – oral op die rok se onderkant vasgewerk. Een of ander tyd was die rok langer – so net bokant die enkels. En toe word dit vir ‘n later partytjie afgesny tot so net onderkant die knie. Gewaagd!!!

En toe kry my kinders die rok om mee konsert en tannie-tannie te speel. Maar ai, dis so ‘n harde materiaal. Krapperig. Grof. Ek kan net dink hoe mens hier by die onderarms voos geskuur moes wees teen die einde van die aand. Dis nou van al die dans.


Nou ja, gaan skud jou vere reg vir die opskop! Dis nou tyd vir joligheid en vrolikheid. Later raak ons weer ernstig as die nuwe jaar ons vasvat met al die nuwe uitdagings.  

Tuesday 26 December 2017

Hier gaan ons alweer!

Kersfees is verby. (Ek hoop joune was ook heerlik en vol vreugde.)

Teen die tyd is die koekieblikke ook al meer vol krummels as koekies, die vullisdrom is vol geskenkpapier en die blinkertjies lê oral op die matte.

Hier waar ons vakansie hou, is dit die “in-ding” om jou huis en tuin se buitekant te versier met wat jou plesier gee. Soos jy dalk gedink het, is dit in ‘n sekuriteitsarea. Anders het die opgeblaasde kersvader van die bure inderdaad die eerste dag al sy ry gekry!

Altyd interessant om te sien wat die industrie nou weer uitgedink het om die verbruiker te verlei. Iets nuuts wat die koper sal laat hand in die sak steek. Hierdie jaar is hier nogal baie takbok-effekte.  Gelukkig is dit nie hierdie somer warm in Natal nie, so die takbokke kry nie te warm nie.

En hier gaan ons alweer! Op galop na die einde van die jaar.

Gelukkig is dit ons gebruik om ons kersboom nog tot 1 Januarie te probeer hou soos dit aanvanklik staangemaak en versier is. Dit laat die blinkigheid in ons oë en ons harte nog bietjie laat stand hou. En onse boom herinner ons aan die lekker staptog in die woud hier naby waar ons kon stokke bymekaarmaak sodat manlief ‘n eksklusiewe boom kon bou. ‘n Onthou-boom. Van ‘n Kersfees wat nie net blink is nie. 

Friday 22 December 2017

Mooi getooi

Teen hierdie tyd is jou Kersboom seker al opgeslaan en mooi getooi. En jy het darem al so ‘n ietsie vir al die gaste wat om jou tafel gaan aansit vir die Kersete.

So van die tafel gepraat. Dis een van die lekker dinge vir my – om daai tafel te dek. En so lekker dat daar nie reels en regulasies is van hoe dit moet lyk nie. Dis jou eie keuse. As jy die messegoed op ‘n hoop wil stapel of in ‘n boksie wil staanmaak, en of jy formeel wil tafel dek – dit bly jou keuse.

Wat jy ookal doen, die belangrikste is dat jy dit moet geniet! Daar is gans en al te veel goeters wat ons moet doen omdat ons dit moet doen!


Dek jou tafel, maak jou lippe rooi, gooi jou voordeur oop en nooi jou gaste binne na ‘n maal geskik vir ‘n Koning!

Thursday 21 December 2017

Bedreigde spesie?

Na aanleiding van die kunswerk van Clarke & Duffield se kunswerk in 1989, is dit ‘n bedreigde spesie om so onder die sonsambreel te sit. Sal dit die “sit in die son” wees, die persoon self of waarom sal die naam van die werk “Endangered species” wees?

Dis voorwaar ‘n voorreg om agteroor te sit en niksdoen. Vra my. Ek weet van daai voorreg.
Maar dalk is die betekenis totaal iets anders. Die kunstenaar(s) het waarskynlik ‘n agenda van heeltemal ‘n ander aard gehad. Dis mos wat sommige kunstenaars doen. Hul kuns is vir hulle ‘n platform om hul sê te sê. Sommige meen selfs as jy net “mooi” prentjies wil maak met die talent wat jy ontvang het, kan jy maar liewer laat staan. Die ekstremiste glo mens moet bietjie omdolwe en skok met wat jy as kuns ten toon stel.

Genadiglik mag ons almal verskillende menings hê! Ek dink nie ek sal ooit enige van daai absurde kunswerke – daai soort wat jou in jou spore laat vassteek om terug te draai en weer te gaan kyk of dit regtig is wat jy gesien het / besluit jy loop liewer verder aan en maak asof jy glad nie gesien het nie - teen my huis se mure hang nie. En tog is dit dikwels die werke wat fenomenale pryse op veilings behaal en kunskenners na gallerye laat stroom.

En wat ook al die bedoeling was met “Endangered Species” destyds op ‘n uitstalling in Stellenbosch, bly die uitbeelding vir my kostelik en dierbaar. Kan myself absoluut daarmee vereenselwig.


Lekker sit onder die sonsambreel! 

Wednesday 20 December 2017

Wat ek sou wou doen

Om saam met vriendinne om ‘n tafel te kuier, is baie spesiaal. Ek dink ek het dit te min gedoen in die verlede. Beslis te min in die afgelope twee jaar. Dalk moet ek dit meer dikwels doen in die jaar wat kom.

Mmmm, maar dan moet ek eers ‘n sleutel kry wat ‘n huisie se voordeur kan oopsluit. En ‘n stoof om ‘n koek in te bak. Ek het darem een koekpan. Nie meer ‘n menger nie, maar daarvoor is manlief mos naby met stewige spiere in sy bo-arms en altyd ‘n entoesiastiese bereidwilligheid.

Met manlief se aftrede het ek vir hom ‘n geskenk gegee. Die nuutste Kook en Geniet. Hy wil meer dikwels kosmaak. Ons albei sien uit na die eksperimente en die disse wat opgetower gaan word. Sus en skoonseun is al verras met ‘n heerlike moussaka. En vandag vir middagete het ek ‘n heerlike geposjeerde eier bo-op die slaai gekry. Pure Dijon-styl!

Dalk leen hy my sy resepteboek om ‘n koek te bak.


Maar eers moet ek die huis kry.

Tuesday 19 December 2017

KERSINKOPE

So van markies en dinge gepraat… Hierdie tyd van die jaar is daar mos om elke hoek en draai ‘n Kersmark.

Oor die naweek loop ons rond en snuffel oral waar ‘n plek interessant lyk. En vind ook plekke wat van naderby geensins interessant lyk nie! Kan nie glo wat sommige verkopers aanbied vir moontlike klante nie! Wat gaan die mense doen met al die goed wat oorbly na die Kersseisoen? En hoeveel uitgawes het hulle gehad toe hulle met groot drome beplan het vir hul “marktafel”? Volgende jaar is dit immers “uit die mode”. Iewers gaan iemand finansieel swakker daaraan toe wees as wat hulle was voor markdag.

Hier en daar is daar tog iets nuuts en interessants wat dalk iemand se kerskous kan vol maak en dalk kan sorg vir 'n glimlag.

En hier en daar loop ons selfs Kersvader se werkertjies raak.


So loop ons onder andere ‘n tipiese hippiemark raak. Dit voel vir my ek is terug in die 70’s! En nee, dis nie my smaak nie. Ek was sekerlik na aan ‘n hippie op my dag, maar dié mark in Botha’s Hill is een te erg vir my. Kostelik om die mense dop te hou. Daar is heelwat van my ouderdom. Wat is die definisie van ‘n droё rangskikking? ‘n Bejaarde hippie. Ja, so kom daai ding ons almal oor – of jy nou wil of nie, of jy nou hippie is of nie, die blommetjies verlep uiteindelik almal….

Monday 18 December 2017

Merkwaardige markdag

Skoonseun gaan wys ons hoe lyk ‘n ordentlike mark. Ons dink ons weet, maar jongmense weet dikwels beter.

Dis redelik ver buite die stadsgebied en ek wonder so by myselwers of dit ‘n plaasmark is. Shongweni  Mark. Indrukwekkend! Duisende besoekers. 

Stalletjies wat elke denkbare land verteenwoordig. Ek en manlief kies kos by die vriendelike Italianer.  Heerlike varsgebakte fritattas. Die porsie genoeg om my vir die res van die dag gelukkig en tevrede te hou. (Slim skoonseun!) Ons bestel ook koffie by die Deutsche Herr en hy skink uit sy silwer koffie kan vir ons elkeen ‘n vol beker moerkoffie. Nie ‘n plastiese - of papierkoppie nie, maar ‘n regte, egte stewige beker. Hy ken van. En hy vertrou sy kliёnte – ons kan maar doer ver die koffie iewers by ‘n oop sitplekkie gaan geniet en die bekers later terugbring!

Daar is iets van alles. Baie goed wat ek nie nodig het nie. Goed wat ek asseblief tog nie present wil hê nie. So hier en daar iets wat “vars en nuut” is. En baie, baie kos – vir elke lekkerbek ‘n polfyntjie om aan te proe.

Die area leen hom tot lekker kuiertyd. Lieflike grasperke vir piekniek hou, ‘n reuse onderdak kuierplek, gerieflike sitplekke vir dié wat nie so maklik tot op die grond kan buk en weer opstaan nie (praat van ondervinding).  En die mooiste uitsig oor die klowe en heuwels en waterval wat van hoog af tuimel.


By dié mark kan ‘n paar ander maar kom leer: Só maak mens.

Friday 15 December 2017

Boeretroos

Genadiglik het ek nie vandag troos nodig nie. Maar tog  bly dit vir my ‘n mooi woord. Seker baie mense oor die eeue heen getroos, so ‘n koppie koffie.  Blykbaar het ons dit van ons Nederlandse voorsate geёrf – dié lekker ou gewoontetjie. Ook seker die dat my Nederlandse vriendin sulke spesiale koffie maak!

Vandag het ons in ‘n lieflike koffiewinkel agteroorgesit en ‘n koppie koffie geniet. Dis nou nadat ons ingepak en die langpad gevat het terug Durban se kant toe. Maar die bekertjie koffie langs die vuurtjie met die ape wat ons dophou, was glad nie te versmaai nie.

Die Kaapse vriende begin verneem wanneer ons weer tuis is. “Tuis” is nogal vir ons ‘n interessante gespreks-onderwerp. Waar presies is “tuis” op die oomblik? Synde nie ‘n voordeursleutel te hê nie! 

Ek verlang daarna om weer bietjie nes te skrop. En om saam met vriende langbeen te sit met ‘n koppie koffie. Boeretroos. Want dan verlang ek weer na die kinders wat ver weg woon!  

Thursday 14 December 2017

Om die eerlike waarheid te sê…

Laat ek dit nou maar erken. Ek is ‘n bedorwe brok. ‘n Yslike een.

As ek aankom by ‘n plek waar ek moet oorbly – gewoonlik na ‘n dag se agterpaaie ry – en die blyplek lyk nie vir my so erg na my smaak nie, is ek ‘n suurknol. Skoonseun het my al goed uitgekyk en troos met ‘n vorige keer se aankoms by ‘n  “vreemde donker plek”: toemaar, môreoggend as die son opkom, lyk dit beter. En ja, dit is so.

Maar hierdie keer is hy nie naby om die grille te laat bedaar nie. En ek gril maklik vir grillerige goed. En vir plekke waar ek moet oorbly wat so effe “donker” lyk. Manlief se sonnige, positiewe geaardheid ken nie neusoptrekkerigheid nie. Alles is vir hom “ag, kyk hoe lekker!”

So kom ons by een van Natalse Parke se blyplek aan in die Oribi Gorge. Basies. Donker. En ek wonder hoe ek drie nagte hier gaan bly. Ook nie veel te doen nie. En dis bewolk en ‘n reёntjie wat elke nou en dan neersif.

Maar ai, as die vuurtjie eers aangesteek is en die eerste sundownertjie geskink is, is alles al so ‘n graad of wat beter.  Muskiete word beheer en die geitjies weggejaag. Die ape het gaan slaap en die eerste loerie kom kuier in die naaste boom.

En met die nuwe dag is daar skielik hoop! Wat ‘n heerlike kuierplek! So eenvoudig en afgesonderd! Ons ontdek nuwe paadjies en avonture in die omtrek. En om nat te reёn, is heerlik vir mense uit die woestynstad.

Om die eerlike waarheid te sê, is Oribi Gorge Reservaat ‘n plek van eenvoud in die natuur. Onopgesmuk. Net wat manlief nodig het. En raai, as die vreemdheid nie meer so vreemd is nie, is dit selfs vir my ook lekker. Dis net daai aankoms en daai kennismaking met al die gediertetjies en dinge…. As my oё net eers gewoond is aan die donkerte van die blyplekkie en die nuwe dag vir my die mooi oopvou...

Wednesday 13 December 2017

Hoe goed is jou connection(s)?
Tuis is mens se elektroniese goeters min of meer uitgesorteer en in plek.
Wanneer mens op reis is, is dit gans en al ‘n ander saak. ‘n Perd van ‘n ander kleur. A total different ball game. Eintlik sommer net ‘n frustrasie.
Of die kabel is te kort om by te kom, of die ontvangs is swak, of die battery is nie gelaai nie. Een of ander uitdaging wat mens in die gesig staar. Eintlik is dit die rekenaar se dooie skerm wat vir ‘n mens terugstaar….
So dat ek sommer belangstelling in die besigheid verloor.
Maar sonder my rekenaar en my tegnologiese wonderbaarlikhede en lekkertes, is ek ook maar ‘n ekstra vaal meisie.
Ek hou van bietjie weet wat aangaan. En nou deesdae sonder koerant van papier, is dit ‘n groot aanpassing. Eerstens vergeet ek om “koerant” te lees omdat dit nie iewers op die tafel of stoel lê nie. En indien ek onthou, is dit eers ‘n uitdaging om ordentlike ontvangs te hê – om eers reg te connect – voor ek kan lees. Eers nog mik en druk en die regte plek kry voor ek kan lees. Nee wat, glad nie dieselfde nie.

Hier waar ons tans in die boendoes rondkuier, is dit net nog veel erger. Op die oomblik ontspan ons in die Oribi Gorge omgewing. Grys en vaal en koud. En as ek gou bietjie wil inhaal met my rekenaarsakies terwyl die reentjie buite neersif, is dit nogal ‘n taamlike stryd. 
Manlief vang ‘n middagslapie. Dalk moet ek unplug en vergeet van moderne tegnologie…. 

Friday 8 December 2017

Wasgoed wapperdag

Vandag was dit die ideale dag vir wasgoed was. Die reёn is vir eers weg en die sonnetjie het alte lekker kop uitgesteek. ‘n Ligte briesie het gesorg dat die wasgoed vinnig droog word.

Ek verstaan maar te goed wat ‘n vriendin bedoel het toe sy meen sy sal nie wasgoed kan was as daar nie ‘n wasgoedlyn en sonskyn is om dit in op te hang nie. Op ‘n tv program sit en luister ek na die jong egpaar wat besluit hulle wil ‘n bietjie in Afrika gaan woon en werk. Mannetjie is in ‘n pos aangestel in een van die groter stede in die noorde van Afrika. Wyfietjie sal vir eers tuis bly om gewoond te raak aan die vreemde. Synde Britte te wees, is dit nogal ‘n taamlike aanpassing wat op hulle wag. Hulle kyk na ‘n paar huise en vroutjie wil weet waar die tuimeldroёr is. Waarop die huisagent opgewonde beduie na die agterdeur: “Look at the wonderful washing line in the backyard!” Maar die jong vroutjie verstaan glad nie wat dit beteken nie….

Vandag kon ek my hare was terwyl die wasmasjien sy ding doen. En terwyl die wasgoed opgehang word, blaas die windjie sommer my hare droog. Dit kan dalk vir ‘n Britse meisie bietjie erge blootstelling wees. Maar ai, vir ‘n boeremeisie is dit darem alte lekker om so die natuurlike elemente te benut!


En die middagslapie daarna is een van die voordele van afgetree wees! Hier op die werf is dit rustig genoeg ... nie eens die vinke kan my wakkerhou nie!!!


Thursday 7 December 2017

Groen is die land van Natal

Voorwaar ‘n lieflike groen land hier waar ons in Natal rondkerjakker.  En uiteindelik verstaan ons ook hoe dit moontlik is dat dit hier so grasgroen en welig is.
Dit reёn dae aaneen. Tussendeur is dit grys. En die weerlig en donderweer laat nie op hul wag nie.

Die klowe vang my heeltyd onkant. As ek dink ek is dié kant van die kloof, is ons aan die ander kant. En omdat dit bewolk is, is wes en oos ook glad nie waar ek dink dit moet wees nie. My rigting is totaal van koers af.

Maar mooi is dit vir seker! Die staproetes in die klowe en reservate is baie en hou ons aan die gang. Watervalle en stroompies oraloor.

Anton de Waal se liedjie oor Natal kom in my gedagtes op. En ja, ek verstaan nou vir die eerste keer hoe dit is dat die land van Natal so immergroen is!

GROEN IS DIE LAND VAN NATAL

Groen is die land van Natal;
wyd lę die velde omheen.
Wolke seil hoog in die blou hemelboog

en 'n arend vlieg na die son...

Wednesday 6 December 2017

As die skoolklok lui

Heerlike lang, lui vakansiedae wat voorlê vir derduisende kindertjies! Toe die klok vandag gelui het om die somerskoolvakansie aan te kondig, was daar sekerlik baie voetjies wat gespring en gehuppel en gedans het!

Maar ai, dis ‘n lang vakansie om kinders besig te hou! Ek kry altyd die werkende mammas baie jammer. Groot uitdagings wat vir hulle wag. En ‘n dure storie is ‘n skoolvakansie – of mens nou tuis bly of gelukkig is om iewers heen met vakansie te gaan.

En dan is daar die studente wat studies voltooi het. Nuwe, vars leerkragte wat volgende jaar voor ‘n klas moet staan. Gegradueerdes wat in ‘n nuwe pos moet instap. Matrikulante wat hard moet werk om ‘n aanstelling te kry.

Met ons onlangse kuier in die Karoo was hierdie skoolklok by Rietbron se laerskool so oorspronklik! As daar nie meer water is wat die windpomp kan uitpomp nie, is dit ‘n gawe plan om die skoolklok te monteer. ‘n Boer maak ‘n plan. En ‘n slim juffrou ook.


Tuesday 5 December 2017

Skop jou skoene uit

Tog te lekker om mens se skoene uit te skop.

Nie nodig vir opdress vir kantoor toe of vergadering toe of winkel toe nie.

En saam met die skoene-uitskop-stadium kom ‘n heeltemal nuwe stel reёls. Amper soos toe die kinders nog tieners was en ons enigste reёl by die strandhuis was: As iets jou pla, maak dit reg.

Skielik kan mens boek lees wanneer jy wil, so lank jy wil.

Dit voel kompleet soos skoolvakansie van ouds. Sonder die rapport.

Maar dan kom die verantwoordelikheidsin. Die stukkie wat ek moet uitvind: wat maak my lewe op hierdie stadium sinvol? Wat is dit wat ek moet doen wat ‘n verskil maak aan die nabyheid en nabywees hier om my? En verder weg?


Want net skoene uitskop kan tog nie al wees nie. Daar is immers iewers ‘n klippie met ‘n skerp randjie of ‘n dorinkie wat iewers pla. Met reg. Iets wat iewers dringend aandag vra. Die keuse bly myne: ignoreer ek dit of doen ek iets daaraan? Sekerlik nie nodig om oorboord te gaan nie, maar soms tyd om weer die skoene aan te trek. Al is dit vir net ‘n rukkie. Om weer later die skoene uit te kan (en te mag) skop.

Monday 4 December 2017

Die lig in die tonnel

Sal daar altyd ‘n lig aan die einde van die tonnel wees? ‘n Stukkie hoop?

Skoonseun gaan wys vir ons die tonnel waardeur die trein ry. Dis in die Shongweni area by die lieflike waterval by Dellville Wood. Maar voor ons by die mooie waterval kan kom, moet ons deur die tonnel. ‘n Mensgemaakte tonnel. Vir voertuie. Baie oud. Piknagdonker. Ek wil uit die motor klim om ‘n foto te neem, maar dis erg grillerig. Ek kan nie my hand voor my sien nie!

Uiteindelik is ons deur die tonnel. En daar is die lieflike waterval! Met water wat neerstort! Die trein ry by ons verby – ons is opgewonde dat daar nog treine is wat vir mens “toet-toet” in die verbygaan! Ons waai vir die "oom in die lokomotief" soos lank, lank gelede.

Vroegmiddag staan ons by jongmense se huis – vriende van ons kinders. Inbraak. Ontsteltenis. En ek wonder oor daai lig voor in die tonnel.

En ek bid dat hulle ‘n lig voor in die tonnel sien waarop hulle kan fokus. 

Friday 1 December 2017

Verskeidenheid

Die verskeidenheid blaartipes het my verras!

Manlief het my oorreed om die Drakensberge te oorwin. Wel nie “kaalvoet oor die Drakensberge” nie, maar ewenwel erg genoeg na my sin. So mor-mor met die eerste paar honderd tree, wonder ek toe hoekom ons dit nou weer doen? Liefie noem vinnig ‘n hele paar redes: om die natuur te geniet; vir oefening; omdat dit lekker is; sodat ons hierna weer lekker kan eet; vir ‘n koue bier…. Mmmm, sommige van die redes klink vir my meer aanvaarbaar as ander.

Dis ‘n heerlike koel dag. Bewolk. En die humiditeit glad nie hoog nie.

Ons hoop om nie nat te reёn nie en om nie in die mistigheid ingesluk te word nie. Nie verdwaal nie. Nie van die paadjie afdwaal nie. Nie val nie. Oorleef.

Dis stil en wonderskoon mooi. (Dis nou nadat ek my gesindheid bietjie aangepas het.)

Maar steil. Die stappaadjie is gerieflik uitgekap uit die rots en stap eintlik heel gemaklik – selfs ek moet dit erken! ‘n Ouerige paartjie kom van voor af en gee uitstekende raad. En ek beskou hulle so op ‘n afstand: as hulle kan, kan ek ook. Altyd goeie motivering.

Die plantegroei verras my. Ek het nog nooit soveel verskillende blaartipes om my gesien nie! En dit lig die staptog tot 'n nuwe hoogte! Dit maak die tred effe ligter. En die veld is vrolik en blom oraloor. Tog te mooi! En elke hier en daar ‘n blommetjie of plant wat ons nog nooit gesien het nie! 

En die bier aan die einde van die stap was heerlik yskoud en verfrissend. En met dié merk manlief so ewe op: die motor is nog so ‘n halfuur se stap van ons af…. 

Thursday 30 November 2017

Soet en suiwer stemme


Gister het ons die Drakensberg Seunskoor se Woensdagmiddag-uitvoering bygewoon. Wat ‘n heerlike geleentheid!

Om soveel jong seuns te sien en te hoor is kos vir die siel! Vol energie! Die eerste gedeelte van die vertoning was ‘n verskeidenheid van liedere – meesal met ‘n Kersfees boodskap. (Hierdie naweek is hul Kersuitvoerings.) Die tweede gedeelte van die konsert se tema handel oor die diere van Afrika. Daai seuntjies dans in hul gumboots dat die sweet hulle aftap! En die primêre tema: Red ons renosters! Een van die hoogtepunte vir my, was die aasvoёls wat met liggaamsbeweging en swiepende geluide uitgebeeld is. Met soveel emosie en passie dra hulle ‘n belangrike boodskap oor en vertel 'n storie wat almal se harte raak.


Alhoewel ons stapafstand vanaf die skool tuisgaan, moes ons tot daar ry – ‘n heerlike donderstorm het kort voor die konsert losgebars. Dis die weerpatroon hierdie kant. En ons verlekker onsself voortdurend in die nattigheid en waters wat val!

Wednesday 29 November 2017

Leefstyl aanpassing

Ja, alles is vir ons van nuuts af kosbaar en mooi. Hier is dit vanoggend stiller as stil om ons. Ek hoor nie ‘n voertuig nie. Ek hoor net voёltjies. En die andersheid van verlede maand en nou is fassinerend! Hoe aanpasbaar is ons tog nie!

Ek en manlief kuier in die Drakensberge. Dragon Peaks. Lieflik tussen die heuwels en berge. Groen en water oraloor. Vir ‘n Kapenaar is dit ekstra mooi!

Vroegoggend het ons die rugsak gepak en gaan stap. Een of ander tyd moet mens oefening kry… Hier is verskeie staproetes. Ons het die River Trail gekies en een of ander tyd gesien ons het teen Chicken Hill afgekom. Redelike klim op gewees en baie steil af. Genadiglik het die knieё en die heupe gehou!

Na ‘n heerlike laatontbyt kon ons sonder enige skuldgevoelens bietjie rus. Met die weerligstrale en donderweer wat die reёnbuie aangekondig het, was dit glad nie vreemd om ietwat later te besef ons het ‘n heerlike uiltjie geknip nie!


Gisteraand het die brulpadda sy maat(s) gesoek. Die paddakoor was ‘n aardigheid. Baie dankbaar dat daar nie net ‘n seiltent tussen my en die geluide was nie, kon ek die skuifdeur dig trek en my toewikkel vir ‘n heerlike nagrus!  

Friday 24 November 2017

Die ding met die bokke

“Dis ‘n nuwe jaar, ‘n nuwe span.” Dis nou die rugbyspan wat die naweek spiere moet bult teen die Italianers van wie so gepraat word in een van die nuusblaaie.

Maar dis nie oor daai bokke wat ek wil droom nie… dit raak te maklik ‘n nagmerrie!

Die bokke waaroor ek droom, is daai troppe wat sekerlik die heuwels van die Karoo versier het. Eeue gelede. Wat ‘n wonderlike gesig moes dit wees! 

Ons sit anderdag so teen die middaguur op ‘n stoep – starend oor ‘n diep kloof hier in Natal. En wonder oor al die wilde diere wat sekerlik oor die heuwels en valleie en in die vlaktes rustig rondgewei het. Hoe sou hulle op die eerste geweerskoot gereageer het? En watter aaklige “onthou” sou dit in hul binneweefsels vasgevang het? Onmenslik. En wreed. Ja, ek weet ons moet eet. En ek weet hoe smaak ‘n lekker stukkie biltong en ‘n sappie Springbokfilet’tjie.


Maar uitroei is ‘n ander saak. Wreed. Snoep. Onnodig. Hoe het ons dan so geraak?

Thursday 23 November 2017

Wingerdwonders

Terwyl ons so rustig agteroorsit en spekuleer oor die lewe, klink ons ‘n glasie op die voorregte en vreugdes wat ons beleef. Die opbrengs van die wingerd word ernstig beoordeel. En ons raak weer in vervoering oor die ou wingerdstok wat ons in Graaff-Reinet by die museum beskou het.   

Die Swartakker wingerdstok wat in 1870 geplant is, is massief groot. Die wingerdstok het voorheen ’n enkele stam met ’n omtrek van 3,10 m gehad en was die dikste wingerdstok ter wêreld. Dooie hout moes in 1983 verwyder word nadat dit deur ’n swamsiekte beskadig is. Mens kan nie anders as met respek en waardering voor die ou reus stilstaan nie.

Dit neem die gesprek na die wingerde in die Boland. Wat sal die effek van die droogte op die vrugte van die wingerd wees? Seker ‘n soeter druif? ‘n Wyn van gehalte wat nuwe kwaliteit na vore bring? Dis mos so met ons – swaarkry suiwer ons. Dalk bring die wingerdstokke wat hul water dieper onder die grond moet gaan soek nog lekkerder wyn?


Dis iets waarvoor ons sal moet wag. Geduldig tot ‘n volgende oesjaar.

Wednesday 22 November 2017

Gedagtes oor Graaff-Reinet

Dié plek het ons harte gesteel.

‘n Pragtige, ou dorp met die sjarme en bekoring wat dit meebring. En die vars, moderne aanslag wat ‘n nuwe generasie teweegbring. Vir die geskiedkundig-gieriges, is daar oorgenoeg om te sien en te bestudeer.

Die Drostdy Hotel is pas teen ‘n astronomiese bedrag opgeknap. En dis lieflik!  As dit nie was vir die nare maagvirus wat my beetgekry het nie, het ons ons vakansie-spaargeldjies uitgeblaas op ‘n ete by die hotel.

Die Jakarandabome het ons bekoor. Koeltebome in die Karoo is oral welkom! En hier is mens net soveel meer bewus van ‘n kolletjie skadu in die somerson.
In die dorp is ‘n area geoormerk as die Culinary Route. Voorwaar ‘n heerlike straat om in te kuier! Soveel kreatiwiteit! Nuwe idees! Heerlik om te sien hoe ieder en elk nuut dink en vars plaaslike produkte voorsit om die toeriste in te lok en te verlei.

Aan gastehuise is daar geen gebrek nie! Iets vir elkeen.

Die projek in die dorp wat plaaslike inwoners oplei vir die gasvryheidsbedryf, werp beslis vrugte af. Die professionele manier waarop mens behandel word – al stap jy net verby op die sypaadjie en wonder nog waar om vas te haak – is opvallend. Ons gasvrou vertel ons van die projek. ‘n Slim manier om die gemeenskap te help om vorentoe te gaan en hoop te bou.


Die rustigheid wat mens kry van ‘n Karoordorp, maar tog die gevoel dat alles nie tot stilstand gekom het nie. Vredig, maar vars! Dis in my gedagte as ek aan Graaff-Reinet dink.


Eendag gaan ons terug vir daai ete in die Drostdy Hotel…..

Monday 20 November 2017

Kombuiskuiers

Kaiingkoekies wat my ouma in die houtstoof bak.

Popkastrolletjies wat ons eenkant op die AGA kan sit – met wortelringetjies wat kan sagkook vir later opskep. Susan, alias Hillie, se geduld met ons wat tussenbeide wil kom speel as daar werk is wat gedoen moet word.

‘n Kristalkoue nag in die Oos-Kaap saam met skoonfamilie met wie ons gaan kennis maak het. Manlief wou seker sy nuwe bruid gaan voorstel…. Ai, toe was ons nog kinders!! Dis baie jare gelede, maar ek onthou die warmte van gasvryheid in Oom Andries en Tannie Kathleen se huis – al kan ek glad nie onthou wat ons geёet het nie. Ek het net geweet hulle arms en harte het hulle vir ons oopgemaak.

So kuier ons met ons toertjie van huis tot huis en van kombuis tot kombuis. Elkeen spesiaal. Elkeen uitgesoek met ‘n spesifieke rede. By elkeen met ope arms en warm harte ontvang en bederf. 

Met diepe waardering. En die heerlike wete net weer: dit gaan uiteindelik oor die kuier meer as oor die kos! Dis daai warm gevoel om die hart wat uiteindelik die warm gevoel om die maag oorskadu…. 

Friday 17 November 2017

As Kapenaars kuier in die Karoo

Om met ‘n “Dubbelbrak” verwelkom te word in die Karoo, is heerlik verfrissend na ‘n lang dag op die pad. Net so verfrissend is die mense van die Karoo. Hartlik. Heerlik.

Maar die droogte knyp oral. Verrassend vir ons, word ons genooi om te bad. Oral is voldoende ondergrondse water. Genoeg vir mens en dier. Maar die veld kry swaar en dus is daar nie genoeg kos in die veld nie. Dus, as dit nie reёn nie, gaan daar in sommige gevalle nie Kersfees gehou word weg van die plaas af nie. Die diere se kos moet aangery word. (Genadiglik het dit toe paar dae later gereёn, so die koekblikke word volgemaak om saam te neem!)

Afgesonderd en ver weg van die dinge wat stedelinge sommerso vanselfsprekend aanvaar. Maar kan hulle planne maak! En goed beplan! En gasvryheid is vir hulle iets waaroor nie gedink word nie. Hulle doen dit sommer net so gemaklik!

Met ons wegry van die Karooplaas af, bewonder ek weer ‘n keer die plaasvrouens wat hul mans bystaan, ondersteun, help, bemoedig. Want maklik kan dit nooit wees nie. Deel van jou herkoms, ja soms, maar sekerlik nie vir sissies nie. (Ek het weer besef ek is ‘n sissie….)


Tuesday 14 November 2017

Stilte

Dis die Karoo.

By een van ons staninge vra ons gasheer vir sy aanvallige jong vroutjie wat vir haar die meeste spesiaal is van in die Karoo woon in vergelyking met hul vorige leefstyl. Sy sê: die stilte.

Na ons verblyf in die stadskom, het ek nogal gewonder oor wat dié “oorverdowende” stilte met my gaan maak. Of dan liewer: wat ek daarmee gaan maak.

Maar wat ‘n vreugde! Rustigheid, kalmte, skoonheid, vrede!

Dis meditasie op sigself.

Nie die stilte wat veroorsaak word as vroutjie haar gatjie wip vir haar maat se aweregse aanmerkiing of mannetjie wat sy stert in ‘n krul sit as hy nie sy sin kry nie! Dit noem mens stilstuipe. En daar is geen, maar geen rustigheid, kalmte, vrede, vreugde of skoonheid by betrokke nie!


Nee, die Karoo se stilte is ‘n statige stilte. Mens werk daarmee met groot respek.

Monday 13 November 2017

Die vreugde van weersiens

Met ons reis van suid na noordoos, het ons die luukse om vriende en kennisse op te soek.
Nie veel wat ons jaag nie. Daar is besprekings gedoen en datums van oorslaap uitgeruil, maar verder is ons rustig.

Ons kies keurige kuiers. Elkeen is kosbaar.

Ons mooie land lok ons na paaie wat ons nog nooit voorheen gery het nie. En hoe lekker om ‘n afdraaipad te vat tot daar waar die pad doodloop teen die berg! Oraloor ‘n verrassing wat wag. Die eetplekke en toerisme-plekke laat ons behoorlik voel soos kuiergaste in ons eie mooie land se kontrei!

Tog te lekker om uit te kyk by ‘n agterdeur en vir ‘n wyle te wonder oor wie lank, lank gelede in hierdie ou huis gewoon het!  En opgewonde oor die jong geslag wat moontlikhede sien en geleenthede aangryp om van ‘n oumagrootjie se huis en kombuis ‘n heerlike uithang kuierplek te maak.


Hier haak ek alweer vas by Die Stal in Keisie se omgewing naby Montague. Dis tyd dat ons aanskuif en vertel van die ander heerlike plekke op ons pad. Maar eers tyd om straataf te stap op soek na ‘n eetplek vir vanaand.

Wednesday 8 November 2017

Jou smaak of myne

Wat jy sien, moet jou nie sommer dadelik tot ‘n besluit of ‘n mening dwing nie!

Ons bespreek aandete by ‘n lieflike klein eetplekkie in die platteland. Straat-op en straat-af ry ons op soek na die adres. Nie dat ons ver hoef te soek of eintlik kan verdwaal nie, want dorpie is piepklein en ieder en elke inwoner sal sekerlik kan help om te beduie.

Met die oor-die-straat-stap sien ek die plastiek blomme. Kitsch. En ek wonder. Ons stap nader. Nog meer. Kitsch. En ek wonder nog meer.


Tot ek instap en sien. En ruik. Hier word kos gemaak uit die hart uit. Met respek omgegaan met proviand. Niks wat nie eg en opreg is nie.


Moenie sommer besluit voor jy nie die binnekant gesien en beleef het nie. Nie met plekke nie. Ook nie met mense nie.

Tuesday 7 November 2017

Kuierkans

Of mens in die Karoo kuier en of mens by die see kuier - saamkuier bly spesiaal!

So het ek en manlief die kans om te kuier. Oraloor. Met niks wat ons jaag nie. Kosbaar.

Op die oomblik het ons nie ‘n huissleutel nie. Ongekompliseerd is die woord. Nie ‘n hond of ‘n pappegaai of ‘n plantjie waaroor ons ons hoef te bekommer nie.

Die kinders is groot en selfstandig en dis tyd dat hullle en hul liefies mekaar versorg en bederf. Nie nodig om aldag van ma te hoor nie. Ook nie nodig dat ma weet wat heeltyd op hul werf aangaan nie.

Vir eers is dit tyd dat ons bietjie onsself gewoond maak aan “sonder horlosie of wekker” leef. 

Ons doen daai ding wat ouer mense doen: kuier by mekaar oor ‘n koppietjie of ‘n glasie gedurende “kantoorure” of “skoolaande”.  Tog te lekker! 

Monday 6 November 2017

Terwyl jy kan

Klim daai rant uit. Al tap die sweet jou effens af
Want jou knieё kan dit nog doen.
Eet daai lekker stuk koek en geniet elke happie
Want jy doen dit nie elke dag nie en vandag mag jy maar.
Wikkel jou tone in die sand
Want vandag is die strand onder jou voete.
Kyk op in die lug en tel die skittersterretjies
Want vandag het jy die voorreg om ver weg van die stadsgewoel te wees.
Klim in jou motor en ry die langpad
Want vandag het jy die voorreg om ‘n voertuig te kan besit en bestuur.
Gesels met jou maat langs jou
Want wie weet wat bring die dag van môre?
Klink ‘n glasie saam met vriende en skaterlag oor die vreugdes
Want dis ‘n groot voorreg.
Beskou daai fyne takkie met die brose blommetjie teen die ruwe klip
Want vandag kan jy dit nog raaksien.                         
Tel jou seёninge
Want jy kan dit nooit genoeg doen nie.

Thursday 2 November 2017

Wie is in beheer

Laasnag het die donderstorm hier om ons losgebars. Waenhuiskrans was verlig deur weerligstrale en het geskud van die donderslae. Of so het dit gevoel. Dit was mos darem nie ‘n aardbewing nie, so dit het seker nie geskud nie. Maar naby was dit wel.


Ek hou van die swaar weer. Dit laat my altyd dink aan God se stem. Sterk en hard en helder, maar ook heerlik bemoedigend om te weet van die nabyheid.

Dit laat my dink aan een van Juanita du Plessis se liedjies waarin sy sing:
“Wie regeer
Wie is in beheer
Wie’s die Begin en die Einde…”

Goed om so midde-in 'n storm te wees met daai seker wete in jou binneste. Om te weet wie in beheer is.

En toe val daar ‘n allerheerlikste reёnbui. En ons kan dit hoor teen die ruite! En ons kan dit hoor op die dak!