Die vreugde van weersiens
Met ons reis van
suid na noordoos, het ons die luukse om vriende en kennisse op te soek.
Nie
veel wat ons jaag nie. Daar is besprekings gedoen en datums van oorslaap
uitgeruil, maar verder is ons rustig.
Ons kies keurige
kuiers. Elkeen is kosbaar.
Ons mooie land lok
ons na paaie wat ons nog nooit voorheen gery het nie. En hoe lekker om ‘n
afdraaipad te vat tot daar waar die pad doodloop teen die berg! Oraloor ‘n
verrassing wat wag. Die eetplekke en toerisme-plekke laat ons behoorlik voel
soos kuiergaste in ons eie mooie land se kontrei!
Tog te lekker om
uit te kyk by ‘n agterdeur en vir ‘n wyle te wonder oor wie lank, lank gelede
in hierdie ou huis gewoon het! En
opgewonde oor die jong geslag wat moontlikhede sien en geleenthede aangryp om
van ‘n oumagrootjie se huis en kombuis ‘n heerlike uithang kuierplek te maak.
Hier haak ek
alweer vas by Die Stal in Keisie se omgewing naby Montague. Dis tyd dat ons
aanskuif en vertel van die ander heerlike plekke op ons pad. Maar eers tyd om
straataf te stap op soek na ‘n eetplek vir vanaand.
No comments:
Post a Comment