Wasgoed wapperdag
Vandag was dit die
ideale dag vir wasgoed was. Die reёn is vir eers weg en die sonnetjie het alte
lekker kop uitgesteek. ‘n Ligte briesie het gesorg dat die wasgoed vinnig droog
word.
Ek verstaan maar
te goed wat ‘n vriendin bedoel het toe sy meen sy sal nie wasgoed kan was as
daar nie ‘n wasgoedlyn en sonskyn is om dit in op te hang nie. Op ‘n tv program
sit en luister ek na die jong egpaar wat besluit hulle wil ‘n bietjie in Afrika
gaan woon en werk. Mannetjie is in ‘n pos aangestel in een van die groter stede
in die noorde van Afrika. Wyfietjie sal vir eers tuis bly om gewoond te raak
aan die vreemde. Synde Britte te wees, is dit nogal ‘n taamlike aanpassing wat
op hulle wag. Hulle kyk na ‘n paar huise en vroutjie wil weet waar die
tuimeldroёr is. Waarop die huisagent opgewonde beduie na die agterdeur: “Look
at the wonderful washing line in the backyard!” Maar die jong vroutjie verstaan
glad nie wat dit beteken nie….
Vandag kon ek my
hare was terwyl die wasmasjien sy ding doen. En terwyl die wasgoed opgehang
word, blaas die windjie sommer my hare droog. Dit kan dalk vir ‘n Britse meisie
bietjie erge blootstelling wees. Maar ai, vir ‘n boeremeisie is dit darem alte
lekker om so die natuurlike elemente te benut!
En die
middagslapie daarna is een van die voordele van afgetree wees! Hier op die werf is dit rustig genoeg ... nie eens die vinke kan my wakkerhou nie!!!
No comments:
Post a Comment