Verskeidenheid
Die verskeidenheid
blaartipes het my verras!
Manlief het my
oorreed om die Drakensberge te oorwin. Wel nie “kaalvoet oor die Drakensberge”
nie, maar ewenwel erg genoeg na my sin. So mor-mor met die eerste paar honderd
tree, wonder ek toe hoekom ons dit nou weer doen? Liefie noem vinnig ‘n hele
paar redes: om die natuur te geniet; vir oefening; omdat dit lekker is; sodat
ons hierna weer lekker kan eet; vir ‘n koue bier…. Mmmm, sommige van die redes
klink vir my meer aanvaarbaar as ander.
Dis ‘n heerlike
koel dag. Bewolk. En die humiditeit glad nie hoog nie.
Ons hoop om nie
nat te reёn nie en om nie in die mistigheid ingesluk te word nie. Nie verdwaal
nie. Nie van die paadjie afdwaal nie. Nie val nie. Oorleef.
Dis stil en
wonderskoon mooi. (Dis nou nadat ek my gesindheid bietjie aangepas het.)
Maar steil. Die
stappaadjie is gerieflik uitgekap uit die rots en stap eintlik heel gemaklik –
selfs ek moet dit erken! ‘n Ouerige paartjie kom van voor af en gee uitstekende
raad. En ek beskou hulle so op ‘n afstand: as hulle kan, kan ek ook. Altyd
goeie motivering.
Die plantegroei
verras my. Ek het nog nooit soveel verskillende blaartipes om my gesien nie! En dit lig die staptog tot 'n nuwe hoogte! Dit maak die tred effe ligter. En die veld is vrolik en blom oraloor. Tog te mooi! En elke
hier en daar ‘n blommetjie of plant wat ons nog nooit gesien het nie!
En die bier aan
die einde van die stap was heerlik yskoud en verfrissend. En met dié merk
manlief so ewe op: die motor is nog so ‘n halfuur se stap van ons af….
No comments:
Post a Comment