Thursday 14 December 2017

Om die eerlike waarheid te sê…

Laat ek dit nou maar erken. Ek is ‘n bedorwe brok. ‘n Yslike een.

As ek aankom by ‘n plek waar ek moet oorbly – gewoonlik na ‘n dag se agterpaaie ry – en die blyplek lyk nie vir my so erg na my smaak nie, is ek ‘n suurknol. Skoonseun het my al goed uitgekyk en troos met ‘n vorige keer se aankoms by ‘n  “vreemde donker plek”: toemaar, môreoggend as die son opkom, lyk dit beter. En ja, dit is so.

Maar hierdie keer is hy nie naby om die grille te laat bedaar nie. En ek gril maklik vir grillerige goed. En vir plekke waar ek moet oorbly wat so effe “donker” lyk. Manlief se sonnige, positiewe geaardheid ken nie neusoptrekkerigheid nie. Alles is vir hom “ag, kyk hoe lekker!”

So kom ons by een van Natalse Parke se blyplek aan in die Oribi Gorge. Basies. Donker. En ek wonder hoe ek drie nagte hier gaan bly. Ook nie veel te doen nie. En dis bewolk en ‘n reёntjie wat elke nou en dan neersif.

Maar ai, as die vuurtjie eers aangesteek is en die eerste sundownertjie geskink is, is alles al so ‘n graad of wat beter.  Muskiete word beheer en die geitjies weggejaag. Die ape het gaan slaap en die eerste loerie kom kuier in die naaste boom.

En met die nuwe dag is daar skielik hoop! Wat ‘n heerlike kuierplek! So eenvoudig en afgesonderd! Ons ontdek nuwe paadjies en avonture in die omtrek. En om nat te reёn, is heerlik vir mense uit die woestynstad.

Om die eerlike waarheid te sê, is Oribi Gorge Reservaat ‘n plek van eenvoud in die natuur. Onopgesmuk. Net wat manlief nodig het. En raai, as die vreemdheid nie meer so vreemd is nie, is dit selfs vir my ook lekker. Dis net daai aankoms en daai kennismaking met al die gediertetjies en dinge…. As my oё net eers gewoond is aan die donkerte van die blyplekkie en die nuwe dag vir my die mooi oopvou...

No comments: