Thursday 29 September 2016



Ons almal het ons redes

Die afgelope paar maande het ons die voorreg om heel dikwels saam met ‘n verwer en sy seun (soms ‘n ander jongman as die seun nie kan saam nie) in ons voertuig tyd deur te bring. ‘n Kosbare en baie insiggewende oefening.

Die tale wat ons praat is verskillend. En as daar een ding is wat ek sal mis as ek ooit die mooie land van my hart moet verlaat, sal dit die Capies wees met hulle eiesoortige uitspraak. Sien, ek met my Bolandse uitspraak, is self ook mos eiesoortig.

So vertel die omie anderdag dat hy baie betrokke is by die kerk. Siende dat die kerk oorkant die straat van sy huis is, is dit heel gerieflik. Maar die omie gaan nie kerk toe soos wat ek en jy verstaan nie. Die omie hou die “kêk” se gronde en gebou in stand. Hy versorg die houtwerk en tuin en verf waar nodig. Hy is baie trots op sy deel wat hy doen. 

Toe ons hom bietjie uitvra oor die saak, is hy baie ernstig dat hy nie kêk toe gaan nie om drie redes: Dominee nommer 1 skinder te veel; Dominee nommer 2 steel die kerk se geld; Dominee nommer 3 vat aan die vrouens se boude.

Ek sal ook nie na daai kerk toe wil gaan nie. Mens weet nooit….


Wednesday 28 September 2016

Dinge wat my ma my nooit vertel het nie…

So saam met die vryery wat begin het, het my ma ook maar besorg geraak oor die spruite. Dit was in toeka se dae. Geen televisie wat mens vertel het van sakies waaroor jy nie eens gewonder het nie. En kuis tydskrifte.

In (aanstaande) skoonma se geselskap mag mens nie eens die woord “koei” gebruik het nie. Toe kry haar enigste kind vir my. Wat geweet het van koei en ook die ding by haar se naam genoem het.

Maar ons het baie behoudend grootgeword. Ai, selfs die woord wil my in ‘n boks indruk!

Eendag vra ek my ma: “Wanneer vertel ma ons van daai dinge.” En haar wyse antwoord: “Vra wat jy wil weet, dan vertel ek jou!” Slim antwoord vir ‘n ongemaklike vraag. En my “Hoe moet ek weet wat ek nie weet nie?” het geen verdere klarigheid op die onderwerp – of gebrek daaraan – besorg nie.

Wat my ma my nie vertel het nie (seker omdat ek nie gevra het nie), is dat die ouderdom mens bespring met ‘n ongekende aggressie. Sonder waarskuwing. Wreed.  En as jy nie saamstem nie, is dit omdat jy nog jonk en jeukerig is. Indien dit die geval is, het ek vir jou ‘n waarskuwing (en moenie eendag sê niemand het jou vertel nie) dat jy jou jonkheid moet geniet! Geniet dit uitbundig! Geniet dit uitspattig! Geniet dit met oorgawe!

Maar onthou: ek waarsku jou dat wat jy in jou jonkheid doen, in jou ouderdom jou gaan beetkry…. 

Tuesday 27 September 2016

Die lekkerte en slegte

My rekenaar is my maatjie. Ek is baie lief vir my rekenaar. Ons speel baie saam.

Maar soms gesels ons – eintlik net ek - sommer hard. As hy (ja, ‘n rekenaar is manlik – nie maklik, manlik). Die saak is mos maar so. As dinge werk, is dit heerlik. As dinge haak, is dit nooit lekker nie. Nie met ‘n rekenaar nie, nie met ‘n ritssluiter (wat haak) nie, nie met enigiets anders nie. Haak laat my sommer staak.

Dan vra ek vir my liefie: “Kyk gou hier! Die ding wil nie wat ek wil nie…”. Dan staan liefie rustig en geduldig en (ek hoop) liefderik nader. En kyk. En vra: “Nou wat is fout? Dit werk dan!” Ja, ja, ja. Dit is soos dit is. As hy naby is, werk die goed.

Gister sit ek in iemand anders se huis en werk op my rekenaar. S-t-a-d-i-g. Die seine is swak. Ek moet rustig wees. Geduldig. Tydsaam. Nie haastig nie.


Maar ek is so lief vir my maatjie. Ons speel so lekker saam. Solank maatjie net nie dwarstrekkerig raak nie…. Foeitog, dis seker ‘n virus. Moet ook seker verstaan dat seisoensveranderinge dalk iets te make het met die saak. My maatjie het seker ‘n verkoue onder lede…. Of dalk raak my  maatjie senuweeagtig as ek so sukkel....




Monday 26 September 2016

Dobber en dryf

So dobberend soms op die oseaan. Soos die golwe en die winde beweeg, so dobber ek. Soms bo-op die kruin, soms onder in die laagte sonder uitsig op land.

Partykeer is ek in ‘n kano. Alleenvaart. Beweging hang af van wat ek aanvang. Of nie aanvang nie! As ek nie balans hou terwyl daai brandertjie kom nie, tip ek om en val ek uit en spartel vir die vales. Maar soms, o soms vang ek daai brandertjie perfek en gly al langs die wit skuim uit tot op die strand. Heerlik! Onbevange!

Ander kere is ek op ‘n seiljag. Wind in my gesig! Bewus van die elemente. Ingestel op hoe daai seile gespan moet word. Bewus daarvan dat die beste seilervarings gebeur as mens skuins op teen die wind seil. Om te luister na die een in bevel en saam in die span te speel en hard te werk om maksimum uit die ervaring te kry.

Op die vissersbootjie moet ons saamwerk om die nette vol te skep. Om kos op die tafel te kry. Dis harde werk. Sommige dae is die vangs min. Die son bak warm, die diesel en aas se klankies trek in die neusgate op… As die net ingetrek word met of die handlyn opgetrek word met daai vereelte hande, is dit opwinding soos min! Maar die wispelturigheid van die groot dam met sy donker dieptes, mag nooit as te nimmer onderskat word nie. Dit laat my dink aan Uys Krige se pragtige gedig: Ken jy die See.
“Ken jy die see, Meneer, ken jy die see?
….
Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur.”



Maar vir seker verkies ek om ‘n skipper of stuurman in beheer te hê. Sommer een wat op die water kan loop en ‘n storm kan stilmaak. En vir my kan sê waar, o waar, daai vissies lê. Sekuriteit. Veiligheid. Geborgenheid. Dis al hoe ek daai storms sal kan trotseer. Beslis nie alleen en op my eie nie.   

Friday 23 September 2016

Om Ligter te Loop

Sal so graag  ligter wil loop. Klink vir myself selfs vreemd. Ek het dan afgelope jaar begin ligter maak aan goeters

Dis nie oor lyf se ligter maak nie (ouderdom en gravitasie werk nogal hard teen mens aan daai kant…). Dis ook nie om van goeters afstand te doen nie.

Ek kan tog so ernstig raak oor bollies. Nee, nie oor sake van die dag nie. Sommer myself inwerk in goeters wat  my lewe kompliseer.

Of is dit?

Afgelope tyd het ek myself besig gehou en lekker gemors met nuwe verftegnieke en dinge. Lekker morsig. Nuwe horisonne verken.

En groot frustrasie op myself gehaal.

Vir wat?

Nes ek ligter loop en die dag fladderend tegemoet huppel, besluit ek self om weer iets nuuts te probeer. En ai, dan kan dit tog so dralend en donderend hier in en om my raak. Die tegnologie wil nie altyd saamspeel nie. Die hand en verstand wil nie mekaar op die regte plek ontmoet en aangee nie. Wat in my kop en hart is, wil nie by die vingerpunte uitvloei op die doek nie. Irritasie. Frustrasie.

Dan raak ek so de vieste in vir myself. Hoekom sit ek nie rustig op die bank en lees my boek nie?

Omdat dan sou ek nie Linna wees nie! Hmpf, ook nie altyd maklik nie! En manlief “takes it in his stride….”    


Tuesday 20 September 2016


So bekruip daai ding(e) mens…

So ‘n paar dae gelede het ek die voorreg (ja, dis voorwaar ‘n voorreg, want daar is baie wat dit nie het nie!) om ‘n slag by die slim mense met die kennis oor wat hier binne-in mens aangaan te gaan kuier. Weliswaar duur dit toe die hele middag…. Sien, hulle het my gewaarsku dit gaan lank neem, maar toe raak my lêer op iemand se lessenaar verlore tussen ander papierwerk. Soos my ander vriendinne altyd geduldig bly, het ek ook my bes probeer en my intussen besig gehou met ‘n blokkiesraaisel en ‘n boek. Maar toe die horlosie net aanstap en niks gebeur nie, vra ek toe gelukkig! En hier sien hulle my toe darem weer raak. (Moet darem byvoeg daar was genoeg om verskoning gevra na die tyd!)

Wel, dis altyd interessant om so ‘n klomp mense in ‘n wagkamer dop te hou. En die slag is dit mos nou meesal oumense. En praat mos maar harder as wat moet. So almal hoor al die klagtetjies en skandetjies en so aan, ensovoorts.

Maar raak ‘n mens nou bewus van swakheid van die vlees! Siestog, een klou aan die kierie, een blaas en hyg na asem, ‘n ander is gryserig en het ‘n pyn op die borskas…  Ouderdom is nie ‘n maklike ding nie. En snaaks genoeg raak ek mos nou al meer bewus daarvan!

Die masjinerie wat in daai manne se spreekkamers en kantoortjies en kamertjies is, is legio! Dit pomp en flikker en piep vir ‘n vale. En die indrukwekkende personeel vleg heen en weer tussen die kranklikes en hoopvolles deur.

Genadiglik kon ek met geruste (letterlik en figuurlik) hart huis toe gaan. Darem nie sonder die nodige skrikkies nie! Dis mos nou so dat die dinge mens stadig bekruip en dan skielik op jou spring!


Soos nig vanoggend opmerk: die inkopielys word al langer… Al meer pilletjies wat gedrink moet word. Maar dankbaar dat daar slim mense is wat met hul slim masjiene kan sien en hoor hoe tik dit daarbinne. Uiteindelik kan hulle so slim wees soos hulle wil, maar ek is mos aanmekaar geweef deur my Skepper.


(Ja, dis 'n koek! En nee, ek het dit nie gebak nie!)





Sunday 18 September 2016

Dit roer my hartsnare…

Op die tv program, Varsity Sing, hoor ek die inspirerende hartstorie wat die dirigent (Michael Barrett) van Tukkies se koor vertel oor die koorstuk wat hulle gekies het om te sing. I believe in the sun is gedurende die Tweede Wêreldoorlog deur ‘n Joodse gevangene teen ‘n muur geskryf terwyl hy in die Cologne konsentrasiekamp was.

“I believe in the sun
even when it is not shining
And I believe in love,
even when there’s no one there.
And I believe in God,
even when He is silent.
Hierdie is die woorde waaruit die koorstuk bestaan. En dan gaan die res van die gedig so:
I believe through any trial,
there is always a way
But sometimes in this suffering
and hopeless despair
My heart cries for shelter,
to know someone’s there
But a voice rises within me, saying hold on
my child, I’ll give you strength,
I’ll give you hope. Just stay a little while.
I believe in the sun
even when it is not shining
And I believe in love
even when there’s no one there
But I believe in God
even when he is silent
I believe through any trial
there is always a way.
May there someday be sunshine
May there someday be happiness
May there someday be love
May there someday be peace….”
– Unknown


Saturday 17 September 2016

Prentjiemooi

McGregor is ‘n pragtige klein dorpie tussen die berge. ‘n Plekkie waar kunstenaars wegkruip en waar die stadsgewoel mens nie inhaal nie. Rustig.

Ons gaan tuis by Sunbird. ‘n Pragtige, knus klein huisie met alles wat mens nodig het. Nogal honeymoon suite waar ons bespreek is…  (Gits, ek wonder of my flennietjie nog netjies gestryk is na die gedruk in die tas.) Groot bad in die kamer en ‘n gesellige fire pot kaggel. Net reg vir die naweek se koue wat voorspel is en wat ons weliswaar aan ons bassies voel!

Ons maak ‘n draai in die dorpie om te hoor waar ons Saterdagoggend kan rugby kyk. Die vriendelike – Ier of Skot? – verseker ons sy televisiestel sal die wedstryd ontvang en uitsaai, maar hy bedien nie kos nie. Hy vra dat ons sommer vir hom ook ontbyt moet saambring. Toe koop ons solank 4 pakkies Simba skyfies om saam te neem. Mens weet nooit wat mens alles moet doen om jou dors aan te help nie…

Die eienaar van die gastehuis vertel ons dat sy einde van die jaar emigreer na Australië waar haar kinders woon. So as jy soek na ‘n nuwe uitdaging – ‘n lieflike ene – kom kyk hoe lyk haar mooie plek.


En hoe verras die lieflike McGregor ons! Kruip in ons harte in! Die tuine van Tebaldi’s is ‘n plek waarheen ons weer wil terugkom. ‘n Plek van stilte.


Nou is dit eers tyd om uit te vind of die streek se wyn op standaard is. Die blyplek is.

Thursday 15 September 2016

A girl’s got to do what a girl’s got to do…


Jammer, maar daar is nie ‘n krummel oor nie.

En ja, dit was heerlik!

En nee, ek wil dit nie gou weer doen nie!

So nou en dan moet ‘n meisie net af-vat van die koskook-en-skottelgoedwas ding. Dis goed vir die naels (ha-ha!) en hande, dis goed vir leeswerk inhaal, dis goed vir algehele rustigheid skep. Dan is daar die “wat sal ons kies?” wat interessant kan wees, aangesien die opsies baie groot is hier waar ons woon!

Pappie is verbaas as hy agterkom daar word nie ‘n uitjie geskil of ‘n poging aangewend as die sonnetjie sak nie.

En dan kom die toevou boksie te voorskyn. Heerlike geure, aanloklike disse in hopeloos te veel weggooibare houertjies en goetertjies met geur wat propvol preserveermiddels en giffies verpak is in omgewings-onvriendelike materiaal.

Wel, dit het heerlik gesmaak en hierdie keer het ek reg gekies!

Maar nou sien ek so daarna uit om ‘n slag ‘n uitjie te skil en ‘n knoffeltjie by te sit in my lieflike Jamie Oliver pan. Om te speel en te omtower. En om agterna my geel handskoene aan te trek om daai skottelgoed te was!

Nee wat, so nou en dan is dit ‘n bederf (‘n meisie se hande moet mos so nou en dan rus), maar kitskos is nie vir my nie!


En manlief glimlag.

Wednesday 14 September 2016

Waar pas jy in?

Pas jy hoegenaamd in?

Móét mens inpas?

Van die bevrydende dinge van in die stad woon – vir my – is om net myself te kan wees. Ja, ja, ek weet dis wat ek altyd moes doen, maar dis nie soos dit was nie. En ook soms nie is nie. Tog te maklik probeer ek “inpas”. By ander se reëls en grille en giere?

Is dit meer ‘n ding van die vroulike geslag?

Op hierdie lieflike sonnige dag sit ek en ‘n pragtige jong meisie en gesels oor ‘n koppie koffie met ‘n vrolike skuimprentjie. Ons gesels sommer oor alles en nogwat. En om ons stap interessante siele. Elkeen besig met sy eie ding. En elkeen in sy eie patroon. Of dalk is dit net ‘n front? Maar tog lyk selfs die een met die afgeskeerde hare en poniestert tjorts oppie kop wat pas van die oefensessie af kom – met ‘n lyf wat lyk of sy die winter geniet het – heeltemal tevrede met haarself. Good for her!  Ons wonder so by ons selwers wat onse manne sal sê as ons met so ‘n kapsel by die huis instap…

Dit is tog so dat sommige mense (mens noem dit tog seker nie vriende nie?) mens net laat voel you just don’t make the grade, dude!

Ek bid dat ek nie ander so moet laat voel nie. Ons is elkeen uniek. Kosbaar.


Stephan Joubert se e-kerk boodskap van onlangs laat my dink:  


In gesonde verhoudings manipuleer mense mekaar nooit om aandag te kry nie. Wanneer ons dus in die teenwoordigheid van iemand anders voel ons skiet te kort omdat ons hom/haar nooit tevrede stel nie, dan word ons uitgebuit. God wil ons nooit in emosionele afhanklikheid van ander mense laat leef nie.”

Tuesday 13 September 2016

‘n Storie so na my hart!

Ek hou van kos.

Ek hou van stories.

Seker dié dat ek Lynn Bedford Hall se boek raakgevat het in die biblioteek. In Fig Jam and Foxtrot skryf sy die lekkerste lekker stories oor die Karoo en sy mense. En die kos wat hulle maak. En die resepte is aangepas dat dit in lyn is met ons kosmodes en –smake van vandag. Die stories in die boek is so aangepas dat die name fiktief is en die dorpie ‘n storieboek naam gekry het. Maar dat daar ‘n bergie in die dorp is, laat my wonder ….



Sjef Marco Pierre White (daai aantreklike restauranteur en televisie persoonlikheid agter die kospotte wat spog met 3 Michelin sterre) deel met my die hunkering na ‘n storie. Die storie om die resep lê vir my ook dikwels nader aan die hart. Of is dit net bloot dat ek bietjie lui is om ‘n resep tot op die letter te volg? Ek lees die resep, lees weer en maak dikwels die boek toe om my eie proe te volg. Sekerlik die dat ek nie so suksesvol is met koekbak nie – dis glad te wetenskaplik en verg sekuur werk. Nie vir loskopdollas nie!

Monday 12 September 2016

Loer soms om die hoekie

Dis so lekker om rond te loop en sommer te kyk wat die omgewing oplewer.
En dikwels is daar ‘n allerheerlikste verrassing net om die draai! Soms moet mens net so ‘n bietjie om die hoekie loer om meer te ontdek!

So stap ons weer onlangs in die lieflike Kompanjiestuine. Die eekhorings kry so nou en dan ‘n grondboontjie – dis nou as ek dit nie klaar geniet het nie! Die bome is so majestieus en lieflik. Om die draaitjie by een van die ou grotes is ‘n put. Maklik om die put raak te sien. Die put dateer vanaf 1842. Dit is ‘n simbool om te herinner aan die belangrikheid van water vanaf Tafelberg. 

Maar dan is dit nodig om net so bietjie om die hoekie te loer! Net langs die put is ‘n handpomp wat in ‘n akkerboom (nou nie meer lewend, maar ‘n stewige stomp) se stam versteek is. Die boom het skynbaar homself staangemaak neffens die waterpomp – om seker te maak daar is genoeg water deur die jare! Dit lyk nou of die handpomp, wat soos ‘n reuse-kraan lyk, uit die boom uit groei. Die handpomp is blykbaar steeds verbind met die put met behulp van ‘n ondergrondse pyp.


En toe kom loer astrante eekhoring net om te sien of ek nie dalk een van daai lekkernytjies in my hand het nie… 

Kom kuier dan gaan wys ek jou! Die eekhorings kry dalk selfs 'n grondboontjie of twee!

Sunday 11 September 2016

‘n Dag van onthou

Vandag, 15 jaar gelede, was my pa se begrafnis. ‘n Dag om te onthou.

Dit was ‘n spesiale geleentheid met vriende se ondersteuning, familie se bymekaarkom, kosbare herinneringe se opdiep en die. besef van God se genade.

Na die begrafnisdiens, is manlief en die kinders terug Kaap se kant toe. Ek het vir ‘n week agtergebly om by my ma te wees. Kort nadat hulle die middag vertrek het, skakel een van my ma se bure ons om te sê ons moet die televisie aanskakel om te sien wat besig is om in New York te gebeur.

Ja, dit was die val van die Twin Towers. Die lugaanval wat soveel vernietiging meegebring het. Menselewens wat verwoes is. Geboue wat inmekaargetuimel het. Ek het met verslaentheid dit dopgehou.

En op ‘n manier het dit vir my vertroosting gebring. My pa het ‘n wonderlike lang en gesonde lewe gehad. Baie van die mense wat hul lewens verloor het, was in die fleur van hul lewens. Hul kinders en gades se lewens het in ‘n oogwink verander.  Ek het soveel gehad om voor dankbaar te wees. Die hartseer en nood en lyding van die derduisende mense wie se lewens geraak is deur daardie ramp, het my perspektief gegee.


Die datum sal altyd kosbaar bly. En my pa, wat so lief was vir sy tuin en sy blomme, sal altyd ‘n spesiale plek in my hart hê. 

Saturday 10 September 2016

Daai dag wat jy jou hande vuilmaak…

Naweke is sekerlik vir baie mans ‘n “ai tog, hier gaan ons alweer…!”  Dis mos dikwels die dag waarop mammie se drome van die afgelope week omskep moet word in realiteit. Dis daai een van ‘kan ‘n man dan nie”…. En pappie moet doen. Mmmm, soms ‘n resep vir drama en druk op daai verhouding!

Maar deesdae is die wyfies ook darem nie heeltemal so afhanklik van die manne se spierkrag soos in die ou dae nie! Die tydskrifte en televisie is vol inspirasie. En die hulpmiddels is legio om daai werkie makliker af te handel. Dis nou as jy nog kan.  En as jy wil. En natuurlik die ou sakie van as jy dit kan bekostig!

Soos voorheen, gaan ‘n gesprek die afgelope week oor verf van houtmeubels. Vir my is dit ‘n saak van: verf as jy moet om die meubelstuk in die familie te hou. Gaan krap maar bietjie daar aan die binnekant van ouma se kas. Jy sal verstom wees oor hoeveel lae en kleure verf al op daai kas was! Dit verseker soms dat die hout beskerm word. Maar die volgende geslag wil dit weer ‘n ander kleur hê of skielik skryf die mode voor dat dit afgeskuurde rou hout moet wees. Altyd iets nuuts wat hulle uitdink om die ekonomie aan die gang te hou! Maar hoe lekker tog om daai verfkwas te gryp en ‘n donker saak in ‘n fleurigheid te omskep! 

Jammer, oupa, maar soms is dit maar wat mens moet doen om die erfenis te bewaar.

En nee, dis nie 'n advertensie vir die produk nie! Daar is baie ander wat baie suksesvol is....

Friday 9 September 2016

Ruitewasdag

Oudste en sy oulike vriendin kom vanaand by ons eet in onse kasteel. Ek sien daarna uit om vir hulle lekker “huiskos” te maak. Synde dat almal in die gesin (en hul aanhangsels) hou van kosmaak – en nogal baie weet van bestanddele en die nuutste neigings – is dit lekker om te weet my tafel gaan waardeer word, al is dit net gewone spyse, maar met baie liefde voorberei.

So beskou ek vanoggend die ruite en besef dis nie heeltemal so ‘n grys dag soos wat ek aanvanklik gedink het nie. Dis net dat die ruite gewas moet word…. En dis nou een van daai dinge wat ek glad nie kan doen nie! As ek klaar is, is dit ‘n groter gemors met vaal blertse en strepe en kolle wat voorheen nie eens in sig was nie! Dus is dit een van die (min) takies wat manlief moet verrig. Hierdie jaar is mos nou sy laaste “buite-die-huis” werksjaar. Hy word vrygeskeld van die sleurwerkies (mmmm, meer hieroor vertel ek dalk op ‘n latere stadium) siende dat hy saans sy sakke moet uitdop om sy dagloon te wys. Maar die ruite is sy werk. Gelukkig is hier ook nou maar net twee mure waarin vensters is!

Ek sit en werk gou op my rekenaar voor ek onder die stort spring. Maar daar is ‘n vreemde geluid of twee hier naby my. Altyd interessant om te gaan kyk wat nou weer aan die gang is hier om ons. En daar skrik ek toe amper my cholesterol heeltemal weg so met die omdraaislag! Op die balkon hier neffens my hang ‘n man aan ‘n kabel en was ons ruite! 

So ‘n vriendelike man! Ek wonder darem wat diesulkes so met die wassery alles sien van wat binne-in die woonstelle en kantore gebeur….. Sal beslis seker maak die blindings is stewig toe – en die badkamerdeur ook – as ek onder die stort wil in…. 


Liefie, dis darem seker nie jy wat dit gereël het nie? Die ruitewas is darem seker nie só erg nie????

Thursday 8 September 2016

Speel jy nog?

Soos julle sekerlik weet (of dink), het ek ‘n baie goeie verbeelding! Dis nou nie daai een van “sy verbeel haar sy is beter as ander” nie. Nogal glad nie!

Dis lekker om so nou en dan minder ernstig te wees. Ja, selfs bietjie laf! Ek glo ook die lewe is daar om geniet te word. En nee, nie die wanopvatting dat sommige in die Bybel lees: “Beproef alle dinge en behou die goeie” nie. As jy dink dis wat daar staan, moet jy weer – en verdeer – gaan lees!

Alle mense het ontspanning nodig. En dit hoef nie ‘n klomp geld te kos nie!

Sit ‘n slaggie stil en bedink wat dit is wat vir jou laat ontspan. Die dinge wat vir jou vir ‘n rukkie laat vergeet wat in die nuus verkondig word of wat op die voorblad van die koerant staan.
En die belangrike deel: gaan doen dit dan! Speel ‘n slag!


Laat jou verbeelding vir ‘n keer met jou op loop gaan. Vat ‘n stuk papier en ‘n potlood en krap daarop. Dit hoef nie eens ‘n prentjie te wees nie! Doodle sommer net ‘n bietjie. Raak bietjie los van die ou wêreld waarin ons so vasgevang kan word!

Wednesday 7 September 2016

Hoesit daar met jou en sukses?

Gister het die grysheid my toe heeltemal oorval. Darem net ampertjies!

As die dag grys is en ek sukkel met tegnologie, raak die lont al korter, die moer al suurder en die hele ou besigheid sommer beneuk. Gister was so ‘n dag. Om geen rede nie. Was seker maar net my afdag.

Maar dit laat my ook in die aand op my kniegies gaan en vra dat ek beskerm word teen die dinge wat my aftrek donkerte toe. Eindelik toe ‘n goeie oefening. Maar dankie, nie een wat ek gou weer wil doen nie! Ek kry agterna so skaam dat ek my so laat opwerk oor masjientjies en dinge….

Met ‘n nuwe, vars ingesteldheid het ek vanoggend die (weer grys buite!) dag aangepak. En wat ‘n lieflike dag is dit nou nie! Niks met grysheid te doen nie!

Nee, die tegnologiese knoop is nog nie uitgesorteer nie, maar ek het hoop!

En ja, die vriendin wat ‘n wye draai deur die stad kom saamstap het, het natuurlik my dag verder opgevrolik! Ons het uiteindelik by Haas gaan koffie drink. ‘n Koddige plek - dié wat hou van hul gemaksone, moet maar liewer nie daarheen. Maar dis heerlik! En dalk moet jy kom kuier dat ek jou gaan wys waar Dawid die wortels begrawe het. Of hoe is dit nou weer van die haas en die wortels? En waar kom Dawid in die storie? Gits, dit klink nou skielik alles vreemd. Dalk moet ek kyk waar die hardebolkeil is en die haas weer terugsit in die hoed….


Die hele saak dat dit vandag met my goed gaan, laat my glo ek was vandag suksesvol!


Tuesday 6 September 2016

Koelte in die Kaap

Nie lente vandag hier nie. Dis sommer koud. En grys.

Die Clivias in die Kompanjiestuin vertel dat ons nie moet moed verloor nie. Die somer is op pad! Een van die dae is dit plate blomme wat die grysheid sal verjaag!

So is dit mos maar met ons ook! As jy ‘n gryserige dag beleef: moenie moed verloor nie! Daar is ‘n sonnetjie wat een of ander tyd sy kop gaan uitsteek!

Interessant hoe verskillende dinge verskillende mense kan opbeur. Vir sommige is dit ‘n besoek aan die winkels, vir ander ‘n bord kos. Of ‘n lekker boek! 

Op die oomblik is ‘n lekker manier om die koue te verdryf, die luukse om my met ‘n stomende koppie koffie voor die televisie tuis te maak en te kyk hoe die mense daai geel balle oor die net klits! Tennis bly darem ‘n lekker sport om te kyk! So min reёls: die bal is in of dis uit! Maar altyd interessant om te sien hoe die persoonlikhede na vore kom! En nes jy dink jou speler is die wenner, kom daar tog so maklik ‘n ou glipsie!



Een van die dae gaan kyk ons hoe die plate Clivias in vol blom staan en pronk!

Monday 5 September 2016

Maandag se dinge

Maandag. Blou? Watwou! As mens afgetree is, doen jy wat jy wil!

Sê wie?

Daai huisie moet skoongemaak word. Daar moet gestap word om die naweek se verleidelikhede weg te werk. Wasgoed het opgehoop.

Maar dis ‘n nuwe maand en boonop ‘n nuwe seisoen! Tyd vir ou spinnerakke wegmaak!
Hoe lyk dit met iets nuuts? Daai ding wat jy nog altyd wou…? Nee, nie die onverantwoordelike goed nie! Ons is mos mooi groot en wys. Moet nou nie iets staan en doen waaroor jy later spyt kry nie. Los dit vir die tieners.



Doen gou daai huiswerkies klaar, kry die skoentjies aan en dans deur die lewe! Sorg self vir die pret as dit nie so maklik sommer vanself na jou kant toe wil kom nie!

Die foto is van 'n kunswerk in 'n gallery in Franscchoek. Vir die een mag mens die Engelse woord gebruik: "Precious!" Dalk is dit haar naam....

Sunday 4 September 2016




Die stilte waar die fyn taal van die woestyn gehoor word,
is ook die doelgerigte ruimte-maak om na God te luister.”


Ronell Bezuidenhout



Friday 2 September 2016

Al die veld is vrolik!

Lentedag het darem nie sommerso by my verbygegaan nie!

Soos dit maar in onse Kaapland gaan, is dit koud hier in die begin van September. Dis mos weer tyd dat Oompie Suidoos sy verskyning maak. En Van Hunk stook hierdie kant vir die eerste span!

Maar ons laat ons mos nie sommerso onderkry van ‘n windjie nie! Ons weet mos dat ons nie ons warm baadjies kan wegpak voor die somer behoorlik aangekom het nie – en hier beteken dit nie voor November nie. Die warm dae wat ons beleef het, was net waarskuwing om die somerkleertjies uit te skud en reg te kry vir die fleurige dae wat voorlê. Hou maar nog die truitjies byderhand.

Lentedag laat my altyd glimlag oor manlief se studentedae. Hy het te doen gehad met Lentedag-vieringe by die kollege. Mooie Mej Lente, so ‘n blonde enetjie vol pret en plesier, moes op die sierwa sit met haar prinsesse naderby. Harde werk nagte deur om al daai kreukelpapierblommetjies te vou vir die vlotte…. Weliswaar goeie verskoning wat hy gehad hetom nie vir my te kom kuier nie, maar ook heerlike verskoning om klas te bank en te vergeet van boeke! En toe breek die langverwagte dag aan. Stortreёn. En die koningin se rokkie is kaal en koud. Darem een voordeel wat die fotograaf gehad het: hy moes besluit watter kant van die kouetjies die lang string krale moes hang…. tussenin of weerskante verby…. Ek sal nie vertel wie die fotograaf was nie.













Thursday 1 September 2016

So ry die boere sit-sit-so!

‘n Hele paar jaar gelede droom ‘n vriendin hardop: “Ek sal darem graag eendag een van daai groot vragmotors met die 16 ratte wil bestuur.” So stap die jare aan en ons wonder of dit nog haar begeerte is. Een manier om uit te vind: verras haar met ‘n rit in ‘n lorrie!

Vanoggend was die groot dag! Groot opgewondenheid om alles te reёl en dit geheim te hou. Dis mos ‘n gawe verrassing vir ‘n 60ste verjaardag!

Ek het niksvermoedende vriendin opgelaai, nog ‘n vriendin bygekry en daar gaan ons drie toe op die uitstappie. Die koringlande is geil en mooi en die beeste vet en gesond en vol in die melk!

Wat ‘n heerlike kuieroggend! Die boer en sy seuns het uit hul pad gegaan om ons dag spesiaal te maak. En ons het van boerdery baie geleer!

Vriendin het haar nie tweekeer laat nooi nie en daai grote lorrie (toe weliswaar met 18 ratte!) geklim en gery! Ons ander kon saamry – en ons was verstom oor die gerief en ruimte in daai reuse International 700600i.


‘n Dag om te onthou! Droom daai droom – eendag word dit dalk waar!

Nee, dis nie die ryding waarmee ons vandag gery het nie! Dit was 'n groot meneer!!!