Salige stilte
In my gedagtes is
Sondae die stil dae. Vandag is Dinsdag. Dis doodstil hier naby Hluhluwe teenaan
die St Lucia meer. Hoe stil sal dit dan op ‘n Sondag wees?
Die droogte is
hier duidelik sigbaar. Die meer se water, wat gewoonlik tot teenaan die
Sobhengu Lodge reik, lê ver anderkant die vlakte. Die veldwagter vertel dat dit
die afgelope 10 jaar droog is. ‘n Onlangse reёnbui het gesorg dat ‘n bietjie
water versamel het en dat dit effe modderig is. Vra my – ek en manlief het
vanoggend die vlakte aangepak en met gekoekte modderskoene teruggekom by ons
verblyfplek.
Die boot wat
besoekers moet vermaak, is verlate op die sand. Die derduisende skulpies wat
oor die hele strandgebeid verstrooi is, vertel van skulpkrappies wat op soek na
water verdwaal geraak het. Die diere se spore wat op die strand is, is die van
die beeste van die omgewing.
‘n Trop apies
vermaak ons vroegoggend en ek wonder of hulle verwaand genoeg is om die vrugte
uit my papbord te steel. Ek sal nie ‘n kans met hulle waag nie – al lyk hulle
so onskuldig, kan ek my net voorstel wat van ‘n kabaal ek sal opskop as een op
my skouer sou beland….
Dis tyd om te gaan
stap en te luister na die voёltjies se getjirr. Hoe wens ek my slim vriendin
kon saamstap om vir my te laat luister en te laat hoor wat ek moet hoor! Daai
beskrywing in die boek en die geluid wat ek hoor, kom nie altyd vir my ooreen
nie… Maar die jongelinge saam met ons leer fluks aan die name – hulle sal maar
geduldig my moet leer.
No comments:
Post a Comment