Sing, sing, sing!
Hoe heerlik om te
luister na die lieflike universiteitskore wat op tv uitgesaai word! En onlangs
die skoolkore wat op RSG gehoor kon word. Dit bring sommer baie, baie lieflike
herinneringe terug! Ja, en dan is daar nog die Ser-kompetisies!
Op skool het ons
nie ‘n koor gehad nie. Op ‘n stadium is daar toe oudisies vir koor en ek staan
letterlik en figuurlik “voor in die koor”. Dit was met die oefeninge. Toe, op ‘n
dag, is daar skielik net aangekondig dat die koor nie gaan optree nie. Later
jare het ek twee en twee bymekaar gesit en agtergekom die probleem was nie by
die koorlede nie …
So gaan ek toe
universiteit toe en het die voorreg om in die koshuiskoor te sing. Nee, ek het
nie eens geweet hoe werk daai besigheid van universiteitskoor nie – net geweet
hulle het voorregte van elke aand uitgaan en laat inkom en ek het net geweet
hulle is op ‘n taamlike trappie bokant my! Ek sou nie nog tyd gehad het om dit
ook in te pas nie (nie dat ek daarvoor gekeur sou word nie!), want ek het lang
ure ingesit vir daai studies – en tussendeur moes ek tyd inruim vir bietjie
studentepret!
En toe is onse
dogtertjie in die skoolkoor. Eers in die Voorbereidingskool se koor by die
geliefde “Juffie”. Toe later in die Laerskool se koor met netjies gevlegde hare
het hulle baie kompetisies gewen en geleer van dissipline en harde werk wat
goeie resultate lewer. Daai soet stemmetjies sal ek nooit vergeet nie. Dit was
al die opoffering werd! As daar iets is wat my aan die hemel laat dink, is dit
kinderstemmetjies wat sing! Hemels!
No comments:
Post a Comment