Golwende geilte
Dit moes sekerlik
hierdie tyd van die jaar gewees het. Ons het deur die Overberg gery. Ek was
hewig ontsteld oor die geelgeit. Gewoond aan die groen koringlande waaroor ons
so lekker gesing het, was die nuwe kleur vir my eens te veel. Dit het vir my te
neon en te onnatuurlik gelyk! Skielik
was dit ‘n “indringer” wat die koring en hawer en gars se plek kom steel. Wat
ek voorheen so hier en daar gesien het as mosterd, was heel waarskynlik so met
die tyd kanola wat aangeplant is.
Dit laat my dink
aan ons Karoo-vriende en hul kinders wat by ons see-huis kom kuier het. Die
wuiwende groen koring het heuphoogte gestaan en mens sou sweer ek en manlief
het iets daarmee te doen gehad, so trots was ons op die landerye oraloor. Vir
die Karoo-kinders was dit net te veel! Soveel groen was net nie waaraan hulle
gewoond was nie!
Ons ry anderdag
deur die Overberg. In sommige landerye staan die kanola gelyk met die
grensdrade. In die laatwinter sonnetjie golf die landerye oor die bulte en
laagtes. En raai, dis vir my mooi! Pragtig! Manlief moet selfs stop vir ‘n
fotosessie. En ek kry so lus om dit te skilder!
So raak ons ongesiens
aan nuwighede gewoond…
No comments:
Post a Comment