Friday 26 August 2016

Dit lewe en bewe hier om my!

Vandag is dit ‘n bedrywigheid soos min hier om my in “New York” (soos my op-en-wakker jong vriendin onse kasteelblyplek noem! Voorwaar ‘n ge-buzzzzzz soos seker in enige groot stad.

Maar vandag is hier baie meer as net die gewone geroesemoes van stadslewe.

Hoog teen die Cape Sun se bekende glashysbakke, hang vier werkers aan toue – as ek moet skat, so teen die tiende verdieping (gister het hulle min of meer aan die twintigste verdieping gewerk!) om glaspanele te vervang. Elke paneel is seker maklik 3 meter hoog; op sigself ‘n kaskenade om die paneel tot daar bo te kry. Om glaspanele te vervang, is ‘n uitdaging. Om dit te doen sonder vastrapplek onder jou, moet ‘n fiasko wees. Genadiglik is dit ‘n windstil dag. Moet seker maar warm wees om so in die son teen daai glaspanele te hang en te werk om klaar te kry! Ek vermoed die versekering van die hele spulletjie is ‘n aardige bedraggie.

Net oorkant die straat is Woolworths. Die afgelope tyd is daar soggens ‘n groep mense wat soggens oefeninge bo-op die gebou se dak doen. Ek vermoed dit is van die werkers wat ‘n gesonder leefstyl wil volg (sal gaan uitvind as ek weer daar instap, want dis vir my verblydend om te sien wat ek sien!). Vanoggend was die instrukteur so luid met sy aanmoediging, dat ek op ‘n stadium gaan kyk het of daar ‘n optog onder in die straat verbygaan! Maar nee, toe is dit net die man wat daai spul inspireer om meer as een kilojoule vir die oggend te verbrand! En aan die ander kant van die gebou is werkers besig om groot nuwe masjinerie bo-op Woolworths se dak te vervang.

Dan is daar natuurlik Poi (aan wie ek julle voorheen voorgestel het) wat nie ‘n asemteug laat verbygaan sonder om klante nader te roep om in die taxi in te spring nie!


Dis ‘n lieflike sonskyndag in die stad. Ek is seker almal werk fluks om seker te maak die naweek begin al vroegmiddag. Daar is al so ‘n sweempie van lente in die lug…. Mmm, maak mens lus vir gaan kyk wat die omgewing alles aan te bied het op ‘n Vrydag!  

No comments: