Skrop en skuur …
Van pret en
plesier was daar die afgelope tyd volop!
Ek verstaan daai
ding van Jack wat ‘n oninteressante seun raak as hy net werk en nooit speel nie…
Vanoggend was dit
ek en Little Miss Sunshine. Ja, sy het ‘n naam en sy doen haar naam gestand. Sommer
gou-gou woerts-warts ons tweetjies hier om die hoeke en alles is weer reg vir die
naweek.
Huis skoonmaak is
nou wel nie my gunsteling tydverdryf nie, maar mens kan jouself mos maar beloon
met ‘n koppie ordentlike koffie saam met die koerant as die werkie afgehandel
is… En eintlik is dit mos tog te heerlik as alles weer ‘n slag skoon en
afgestof is.
Lank gelede het ek
vir my kind gesê sy moet asb nooit huis skoonmaak omdat ek kom kuier nie. Ek
wil by haar kuier. Nie by haar huis nie. (Wel “in” haar huis!) Ek wonder of sy
dit onthou?
Dis vir my so
hartseer as ek hoor hoe mense skrop en skuur omdat iemand kom kuier. As dit jou
forte is, doen dit, maar moet dit asb nooit doen omdat ek kom kuier nie. Dis so
daai een van “wat sal die mense sê”. Dit plaas darem ‘n geweldige demper op
mens se spontaneїteit. En ja, ek moet hard aan daai een werk om nie self daarin
te trap nie…
Ek bewonder my
vriendinne wat so fluks skoonmaak en wie se huise van voor tot agter blink.
Maar hulle weet as hulle by my instap, is dit nie noodwendig so nie. Ek weet
hulle aanvaar my (en my blyplek) vir wie ek is. Dis tog wat ware vriendskap
beteken. My huis, my identiteit.
By ons
vakansiehuis het ons ‘n reёl gehad: As iets jou pla, maak dit reg of doen iets
daaraan. As jy jou koffiebeker iewers wil laat staan – doen dit. As dit iemand
anders pla – doen iets daaraan! Die ou reёltjie sal ek beslis weer in ons
aftreehuisie instel. Kan net sake meer ontspanne maak!
No comments:
Post a Comment