Sunday 17 April 2016

Na aan die hart…

Wat lê vir jou na aan die hart?

Oor die jare heen het ons nooit ‘n vreeslike bohaai oor verjaardae gemaak nie.


My kinders kon kleintyd soveel maatjies nooi soos wat daar kersies op die koek was.
En die een wat verjaar, was daardie dag “koning” of “koningin” in die huis en kon die ander opdragte gee. Wat natuurlik uitgevoer moes word!  Maar in die agterkop was die onthou: een van die dae verjaar daai een, dan is ek die onderdaan, dus  … slim wees!

Om die ontbytbord is blommetjies of blaartjies uit die tuin gerangskik vir spesiale liefde. Meer pienk blommetjies vir die sus, meer blaartjies vir die boetas.

Hierdie naweek was my voorreg om al my liewe kinders en manlief om my te kon hê.
‘n Naweek van bederf en saamkuier. Om sommer almal se verjaardae van die jaar te vier. 


Ons het saam gelag en saam gespeel. Ons het die blommetjies en boomtoppe van Kirstenbosch om ons gehad en kon sommer net saam stilstaan en saam verwonderd wees oor ‘n piepklein blommetjie en ‘n blaartjie wat so lekker ruik!  

En onder die groot boom se uitgespreide takke op die gras lê en rus en ver paaie onthou.



Dit lê my oneindig na aan die hart….





















No comments: