Wednesday 27 April 2016

Kindertyd se dinge.

Wanneer ek in ‘n skryfbehoefte- of kunswinkel instap, raak ek kriewelrig opgewonde. Daai reuk van potlode, verf, kryt en nog wat laat al my sintuie gelyktydig op aandag spring. En skoon velle papier van allerlei tekstuur is net genoeg om my drome te laat droom. Dis nou versoekings vir my!

Kleintyd het ek en die kinders Sondae om die tuintafel met potlood en papier gespeel terwyl pa die braaivleisvuurtjie aan die gang gekry het. Dit was gewoonlik iets soos: iemand trek drie strepe op papier en dan moet daar ‘n prentjie van gemaak word.  

Of daar was woordspeletjies soos hangman. Seker die dat ek woorde steeds amusant vind! Scrabble en blokkiesraaisels bly vir my heerlike tydverdryf.  

En om te wonder oor woorde, sal altyd vir my lekker wees. Soos om iewers op ‘n ver pad te ry en te wonder hoekom die man dan tog sy plaas “Verlatenheid” genoem het… Of “Uitkoms”.  En dankie tog dat daar soms ‘n “Goeie Hoop” is. En hoekom is daar ‘n Orphan Street in Kaapstad?

Heerlike speletjies wat ons gespeel het. In die motor om die kinders besig te hou, het ons noughts and crosses  gespeel. Ek leer by my “universiteit” dat dit ook bekend is as tic-tac-toe wat sedert die Romeinse tydperk en ook deur die antieke Egiptenaars gespeel is. Speel deesdae se kinders dit nog?


So kry ek ‘n inkleurboek en kryt present vir my verjaardag. Mandalas van Lize Beekman. En voor ek nog self my eerste een inkleur, sit die jongmense hulself en geniet met mooie patrone wat hulle fassineer en nuwe skerppunt inkleurpotlode. Maar ek sien hoe hulle dit geniet en ek wil sommer vir hulle sê: “Hou aan inkleur! Kyk, mens kan hier absoluut beheer uitoefen oor die eindproduk! Geniet die eenvoud daarvan!” 


No comments: