Friday 29 April 2016

Koffietyd

Sommige mense drink koffie. Dan is daar mense wat kuier rondom koffie.

Een van die heerlike voordele van aftrede, is dat mens koffie kan drink. Net dit.
Jy hoef nie koffie te drink terwyl jy koerant lees nie. Jy hoef nie koffie te drink terwyl jy gou ‘n bordjie pap eet nie. Jy hoef nie koffie te drink om te probeer wakker word nie. Jy drink koffie. Net dit.

My skoonseun het my geleer om ‘n absolute koffie snob te word. En ek sal hom ewig dankbaar daarvoor bly!

Die kultuur rondom koffie is verrassend! Selfs tv programme wat gemaak word om te wys hoe koffie hoog in die berge tussen die opium smokkelaars gesoek word! Daai man het waarlik meer moed as verstand … Die hartseer daarvan is dat koffieplantasies opgegee word om liewer opium te verbou.

Sal altyd my laat giggel as ek by ‘n restaurant instap en vra of hulle ‘n barista het, as hulle my iets antwoord soos: “Ek sal op die spyskaart moet kyk”. Of: “Ek sal moet gaan uitvind”. Nee wat, as daar ‘n ware barista op die werf is, sal jy nie hoef te gaan uitvind nie! Hulle is so trots op hul kennis en tegniek, dat jy sekerlik sal weet as daar een in jou omgewing is!


Geniet ‘n heerlike koffie oor die naweek. ‘n Kuier-koffie!


No comments: