Monday 25 April 2016

En toe is daar ‘n storm.

Vrydagmiddag glip ons en vriende vroeg genoeg uit die stad uit weg om die verkeer te ontglip.

Ook maar goed so, want toe die Du Toitskloof tonnel ons aan die anderkant van die Kaap uitspoeg, reёn dit behoorlik! Die watervalletjies stroom sowaar hier en daar en dis ‘n digte grys vlaag reёn. Iewers langs die pad is daar ‘n man op ‘n motorfiets wat moet beur om regop te bly. Die wind is woes en ek wonder van die blyplekkie wat ek vir die naweek gereёl het…

Ons stop by Melissa’s om tussen Rawsonville se wingerde ‘n spesiale koppie koffie en wortelkoek te geniet. Maar dit stortreёn en binne vier tree is ons enkeldiep in die water! Nie heeltemal voorberei op die storm nie!!!


Maar dis so lekker om heerlike winterweer te ervaar, dat ons glad nie omgee nie. Binne brand ‘n knus kaggel en ek wonder of ons nie sommer daar bly vir aandete nie… Maar ons moet seker by die blyplek uitkom voor dit donker is…

En Saterdagoggend word ons wakker met voёltjies wat ons wakker tjirp. Sonskyn en geen waterplasse. Die aarde was so droog, dat die watertjies net opgeslurp is. Wat ‘n voorreg om op ‘n plaaspad te kan stap en die natuur te kan geniet!



Ons kuier in die sonnetjie by die vrolike Saggy Stone Bistro en geniet weer al die slimstories van vergange se dae.


En besef net weer – die storms kom, maar daar is ‘n sonnetjie op pad.





No comments: