Thursday 28 April 2016

Positiewe denke.

In my studeerkamer het ‘n kleurryke prent gehang wat jongste kleintyd in die kunsklas geskilder het. Op ‘n dag bestudeer ‘n vriendin die saak en meen daar is beslis ‘n sielkundige verklaring waarom die ma ‘n blou vel het. Ek roep toe sommer vir kleinboet nader om te hoor wat die kunstenaar te sê het. Sy antwoord: “Al die ander kinders was besig met die ander kleur, toe gebruik ek die blou.” Pragtig prakties! Soos ek hom ken! En dankie, my kind, dat jy jou ma mooi kleurvol geskilder het – wat ‘n kompliment!

Dis sommer nonsies dat ons altyd ‘n verklaring wil hê vir alles en elke kunstenaar se skepping wil interpreteer. Dit was vir my so hartsverblydend dat Pieter van der Westhuizen van die mooie Philadelphia gesê het elkeen kan self sien wat hy wil in sy skilderye. Pas my. Geniet wat jy sien!

Vandag is ‘n grys dag hier in Kaapstad. Geen wind – soos voorspel – maar grys. En die reёn syfer so lekker neer. So dat mens se hare mince soos die Kaapse mense voorspel.

Vroeёr vandag was ons voorneme om laatmiddag te gaan stap. Maar as dit nou buite so lyk, is dit mos ‘n heerlike verskoning om binnenshuis te bly… Met wedersydse aansporing het ek en manlief toe wel gaan stap. En hoe heerlik vars en verfrissend! Natuurlik was daar ‘n lieflike koffiewinkeltjie iewers langs die pad…


En ja, dit laat my dink aan Hannah Cheatem, ‘n wyse 8-jarige,  wat meen:
If you’re feeling blue – try painting yourself a different color.


No comments: