Friday 29 April 2016

Koffietyd

Sommige mense drink koffie. Dan is daar mense wat kuier rondom koffie.

Een van die heerlike voordele van aftrede, is dat mens koffie kan drink. Net dit.
Jy hoef nie koffie te drink terwyl jy koerant lees nie. Jy hoef nie koffie te drink terwyl jy gou ‘n bordjie pap eet nie. Jy hoef nie koffie te drink om te probeer wakker word nie. Jy drink koffie. Net dit.

My skoonseun het my geleer om ‘n absolute koffie snob te word. En ek sal hom ewig dankbaar daarvoor bly!

Die kultuur rondom koffie is verrassend! Selfs tv programme wat gemaak word om te wys hoe koffie hoog in die berge tussen die opium smokkelaars gesoek word! Daai man het waarlik meer moed as verstand … Die hartseer daarvan is dat koffieplantasies opgegee word om liewer opium te verbou.

Sal altyd my laat giggel as ek by ‘n restaurant instap en vra of hulle ‘n barista het, as hulle my iets antwoord soos: “Ek sal op die spyskaart moet kyk”. Of: “Ek sal moet gaan uitvind”. Nee wat, as daar ‘n ware barista op die werf is, sal jy nie hoef te gaan uitvind nie! Hulle is so trots op hul kennis en tegniek, dat jy sekerlik sal weet as daar een in jou omgewing is!


Geniet ‘n heerlike koffie oor die naweek. ‘n Kuier-koffie!


Thursday 28 April 2016

Positiewe denke.

In my studeerkamer het ‘n kleurryke prent gehang wat jongste kleintyd in die kunsklas geskilder het. Op ‘n dag bestudeer ‘n vriendin die saak en meen daar is beslis ‘n sielkundige verklaring waarom die ma ‘n blou vel het. Ek roep toe sommer vir kleinboet nader om te hoor wat die kunstenaar te sê het. Sy antwoord: “Al die ander kinders was besig met die ander kleur, toe gebruik ek die blou.” Pragtig prakties! Soos ek hom ken! En dankie, my kind, dat jy jou ma mooi kleurvol geskilder het – wat ‘n kompliment!

Dis sommer nonsies dat ons altyd ‘n verklaring wil hê vir alles en elke kunstenaar se skepping wil interpreteer. Dit was vir my so hartsverblydend dat Pieter van der Westhuizen van die mooie Philadelphia gesê het elkeen kan self sien wat hy wil in sy skilderye. Pas my. Geniet wat jy sien!

Vandag is ‘n grys dag hier in Kaapstad. Geen wind – soos voorspel – maar grys. En die reёn syfer so lekker neer. So dat mens se hare mince soos die Kaapse mense voorspel.

Vroeёr vandag was ons voorneme om laatmiddag te gaan stap. Maar as dit nou buite so lyk, is dit mos ‘n heerlike verskoning om binnenshuis te bly… Met wedersydse aansporing het ek en manlief toe wel gaan stap. En hoe heerlik vars en verfrissend! Natuurlik was daar ‘n lieflike koffiewinkeltjie iewers langs die pad…


En ja, dit laat my dink aan Hannah Cheatem, ‘n wyse 8-jarige,  wat meen:
If you’re feeling blue – try painting yourself a different color.


Wednesday 27 April 2016

Kindertyd se dinge.

Wanneer ek in ‘n skryfbehoefte- of kunswinkel instap, raak ek kriewelrig opgewonde. Daai reuk van potlode, verf, kryt en nog wat laat al my sintuie gelyktydig op aandag spring. En skoon velle papier van allerlei tekstuur is net genoeg om my drome te laat droom. Dis nou versoekings vir my!

Kleintyd het ek en die kinders Sondae om die tuintafel met potlood en papier gespeel terwyl pa die braaivleisvuurtjie aan die gang gekry het. Dit was gewoonlik iets soos: iemand trek drie strepe op papier en dan moet daar ‘n prentjie van gemaak word.  

Of daar was woordspeletjies soos hangman. Seker die dat ek woorde steeds amusant vind! Scrabble en blokkiesraaisels bly vir my heerlike tydverdryf.  

En om te wonder oor woorde, sal altyd vir my lekker wees. Soos om iewers op ‘n ver pad te ry en te wonder hoekom die man dan tog sy plaas “Verlatenheid” genoem het… Of “Uitkoms”.  En dankie tog dat daar soms ‘n “Goeie Hoop” is. En hoekom is daar ‘n Orphan Street in Kaapstad?

Heerlike speletjies wat ons gespeel het. In die motor om die kinders besig te hou, het ons noughts and crosses  gespeel. Ek leer by my “universiteit” dat dit ook bekend is as tic-tac-toe wat sedert die Romeinse tydperk en ook deur die antieke Egiptenaars gespeel is. Speel deesdae se kinders dit nog?


So kry ek ‘n inkleurboek en kryt present vir my verjaardag. Mandalas van Lize Beekman. En voor ek nog self my eerste een inkleur, sit die jongmense hulself en geniet met mooie patrone wat hulle fassineer en nuwe skerppunt inkleurpotlode. Maar ek sien hoe hulle dit geniet en ek wil sommer vir hulle sê: “Hou aan inkleur! Kyk, mens kan hier absoluut beheer uitoefen oor die eindproduk! Geniet die eenvoud daarvan!” 


Tuesday 26 April 2016

Om herinneringe te skep…

Ons gesin moet moeite doen om almal saam te kuier. Sommige woon ver weg, sommige werk lang ure, sommige kan nie in die hoogseisoen met vakansie gaan nie.

Dus probeer ons iewers in die jaar ‘n spesiale saamkuier-naweek beplan. Nie so maklik nie. Maar soms kry ons dit tog reg. En dan is dit ekstra spesiaal en baie, baie kosbaar.

Onlangs het ons so ‘n naweek afgesluit met ‘n saamkuier by die lieflike Equus Restaurant op die Cavalli Landgoed tussen Stellenbosch en Somerset-Wes. Wat ‘n heerlike bederf!















En van watter kant af jy dit beskou, dit bly indrukwekkend en kos vir die siel.



Dis so kosbaar om terug te kyk na al die foto’s van saamkuier en die “onthou-jy-nog” van lank gelede. Soms met ‘n hartseer, maar altyd met ‘n dankbaarheid vir gedeelde oomblikke. En baie, baie dikwels met ‘n lekker lag oor wat lank, lank gelede gebeur het!


Bou aan daai herinneringe. Dis so nodig!

Monday 25 April 2016

En toe is daar ‘n storm.

Vrydagmiddag glip ons en vriende vroeg genoeg uit die stad uit weg om die verkeer te ontglip.

Ook maar goed so, want toe die Du Toitskloof tonnel ons aan die anderkant van die Kaap uitspoeg, reёn dit behoorlik! Die watervalletjies stroom sowaar hier en daar en dis ‘n digte grys vlaag reёn. Iewers langs die pad is daar ‘n man op ‘n motorfiets wat moet beur om regop te bly. Die wind is woes en ek wonder van die blyplekkie wat ek vir die naweek gereёl het…

Ons stop by Melissa’s om tussen Rawsonville se wingerde ‘n spesiale koppie koffie en wortelkoek te geniet. Maar dit stortreёn en binne vier tree is ons enkeldiep in die water! Nie heeltemal voorberei op die storm nie!!!


Maar dis so lekker om heerlike winterweer te ervaar, dat ons glad nie omgee nie. Binne brand ‘n knus kaggel en ek wonder of ons nie sommer daar bly vir aandete nie… Maar ons moet seker by die blyplek uitkom voor dit donker is…

En Saterdagoggend word ons wakker met voёltjies wat ons wakker tjirp. Sonskyn en geen waterplasse. Die aarde was so droog, dat die watertjies net opgeslurp is. Wat ‘n voorreg om op ‘n plaaspad te kan stap en die natuur te kan geniet!



Ons kuier in die sonnetjie by die vrolike Saggy Stone Bistro en geniet weer al die slimstories van vergange se dae.


En besef net weer – die storms kom, maar daar is ‘n sonnetjie op pad.





Friday 22 April 2016

Vier die lewe!

Ja, dis wat ons wil doen!
Nee, dit ís wat ons doen!

Onlangs lees ek iemand wat sê sy wil nie spyt wees oor wat sy nie gedoen of bereik het nie; sy wil soveel moontlik doen.Kort daarna meen iemand anders sy wil liewer min doen en voel sy het dit wat sy wel gedoen het, goed en deeglik afgehandel.

Oor dié sakie kan ons so lank gesels dat die koffie later wyn word.  

Op ‘n stadium in my lewe het ek besef ek dink gedurig aan “Eendag wil ek nog….” Genadiglik het ek betyds besef daar is nie ‘n “Eendag…” nie. Dis nou.

Aprilmaand kan ons gesinnetjie maar vergeet van binne daai begroting bly. Drie verjaardae binne een maand is ‘n besliste aikôna vir die geldsake. Maar ons werk die sakies mooi en maak plannetjies. Mens kan mos op ‘n goedkoop manier ook lekker kuier.

Nou ja, vandag vier ons manlief se verjaardag. Hy weet seker ek beplan so in die stilligheid ‘n verrassinkie of twee…. Hy sal maar net moet uitvind!


Maar vandag vier ons die lewe!



Thursday 21 April 2016

Skrop en skuur …

Van pret en plesier was daar die afgelope tyd volop!

Ek verstaan daai ding van Jack wat ‘n oninteressante seun raak as hy net werk en nooit speel nie…

 Maar die stoffies vergader en die vuil voetspoortjies vertel ‘n ander storie.

Vanoggend was dit ek en Little Miss Sunshine. Ja, sy het ‘n naam en sy doen haar naam gestand. Sommer gou-gou woerts-warts ons tweetjies hier om die hoeke en alles is weer reg vir die naweek.

Huis skoonmaak is nou wel nie my gunsteling tydverdryf nie, maar mens kan jouself mos maar beloon met ‘n koppie ordentlike koffie saam met die koerant as die werkie afgehandel is… En eintlik is dit mos tog te heerlik as alles weer ‘n slag skoon en afgestof is.

Lank gelede het ek vir my kind gesê sy moet asb nooit huis skoonmaak omdat ek kom kuier nie. Ek wil by haar kuier. Nie by haar huis nie. (Wel “in” haar huis!) Ek wonder of sy dit onthou?

Dis vir my so hartseer as ek hoor hoe mense skrop en skuur omdat iemand kom kuier. As dit jou forte is, doen dit, maar moet dit asb nooit doen omdat ek kom kuier nie. Dis so daai een van “wat sal die mense sê”. Dit plaas darem ‘n geweldige demper op mens se spontaneїteit. En ja, ek moet hard aan daai een werk om nie self daarin te trap nie…
Ek bewonder my vriendinne wat so fluks skoonmaak en wie se huise van voor tot agter blink. Maar hulle weet as hulle by my instap, is dit nie noodwendig so nie. Ek weet hulle aanvaar my (en my blyplek) vir wie ek is. Dis tog wat ware vriendskap beteken. My huis, my identiteit.

By ons vakansiehuis het ons ‘n reёl gehad: As iets jou pla, maak dit reg of doen iets daaraan. As jy jou koffiebeker iewers wil laat staan – doen dit. As dit iemand anders pla – doen iets daaraan! Die ou reёltjie sal ek beslis weer in ons aftreehuisie instel. Kan net sake meer ontspanne maak!




Wednesday 20 April 2016

Mooie, mooie Kaapstad

Gister kom manlief hier ingestap met: Veels geluk! Ek wonder toe dadelik wat ek gewen het, want my verjaardag is pas verby….

Hy soek altyd ywerig na “iets om te vier”. En as hy nie daadwerklik iets kry nie, is daar altyd die voorreg om die lewe (en Die Lewe!) te vier. En dan is ek maar net te gewillig om mee te doen.

Terug na die gelukwensing met die instap.
Dis toe, volgens The Telegraph, vir ons mooie Kaapstad wat benoem is as die mees gewilde stad in die wêreld! Hieronder ‘n uittreksel:

The Telegraph's annual travel survey, based on 75 000 responses from British and European travellers, has named Cape Town its readers' favourite city in the world for the fourth consecutive year, pipping Venice, Italy and Vancouver to the top spot.
The survey by the British newspaper is recognised as the most comprehensive and reliable travel review by British tourists.
The survey highlighted that it was easy to understand why so many travellers, in particular young tourists, picked Cape Town as their favourite city. "The brooding Table Mountain is too recognisable; the beach resorts of Camps Bay too enticing; the history which swirls around the metropolis… too absorbing," the paper reported.

Wat ‘n voorreg om hier aan die voet van ou Tafelberg te kan woon!
En wat ‘n voorreg om dit te kan vier!!!



Oeps! Hier val ek amper van my stoel af soos ek hop van die skrik vir die 12h00 kanon! Ja, soms hoor ek hom glad nie, maar party dae is ek wawyd wakker op die middaguur!!! (My slim vriendin sal kan bevestig dat dit ook te doen het met watter kant toe die luggie trek…)










Tuesday 19 April 2016

Waarmee hou jy jouself besig?

So van tyd tot tyd kom mens tot stilstand en wonder: wat is vir my belangrik?

Hoe belangrik is die dinge waarmee ek besig is? Vir my? Vir ander?

Dikwels is dit finansies wat bepaal waarmee ons besig is. Dis reg so. Ons het mos verantwoordelikhede.

Maar soms – dalk meer dikwels as wat ons wil erken – het ons ook tyd waarmee ons kan maak soos wat ons wil en goed dink (… of dink of doen jy ook, soos ek, dikwels sommer net?)

As ek nou myself moet “kroes” maak, moet ek gaan dink aan al die tyd wat ek al gemors het. Dit sou absoluut wees soos om myself in die voet te skiet, want dit beteken dan dat ek nog meer tyd mors op die onbenullige … wat my verder die diep, donker gat gaan afdryf! Dis verby! Wat belangrik is, is NOU.

“Let whatever you do today be enough.”
– Katrina Mayer.

Die NOU (today) is vir my ook verwoord in DIE WOORD: I AM.

Dit gee energie en rigting vir die dag. Elke dag nuut. Soos genade.





Vriendinne het hulself onlangs besig gehou met ‘n handwerkprojek in Wolseley se omgewing.































Ek deel die foto’s (met toestemming!) en met vreugde! 

Soveel inspirasie! Alhoewel ek weet hierdie is nie die een waarby ek betrokke hoef te raak nie... Iewers is daar 'n nommerpas werkie vir my...


Monday 18 April 2016

Wat regtig saak maak…

WS Gilbert (1836 – 1911), Engelse skrywer, het die insig gehad om die volgende kwyt te raak:

It isn’t so much what’s on the table that matters, as what’s on the chairs.”

Slim man.

Maar ai, dis darem baie lekker om kos te maak. En as mens se manlief en kinders dit ook geniet en waardeer wat op die bord is, is dit dubbel beloning en ekstra plesier!

Heerlik om saam te proe, te wonder, te geniet, heen en weer te proe (jammer vir diegene wat daai ding nie doen nie – dit wys hulle verstaan nie daai diepe smagte van smullers nie….) en om weer met nuwe inspirasie in die kombuis in te stap!

Nie altyd nodig om by die fynste restaurante in te stap vir daai ekstra spesiale disse nie. Tog soms lekker om dit te beleef, maar soos Gilbert tereg opmerk: dis daai boudjies op die bankies om die tafel wat eintlik die ding doen….


Cheers” aan my kinders wat die naweek saam kom kuier het om ons tafel.


Sunday 17 April 2016

Na aan die hart…

Wat lê vir jou na aan die hart?

Oor die jare heen het ons nooit ‘n vreeslike bohaai oor verjaardae gemaak nie.


My kinders kon kleintyd soveel maatjies nooi soos wat daar kersies op die koek was.
En die een wat verjaar, was daardie dag “koning” of “koningin” in die huis en kon die ander opdragte gee. Wat natuurlik uitgevoer moes word!  Maar in die agterkop was die onthou: een van die dae verjaar daai een, dan is ek die onderdaan, dus  … slim wees!

Om die ontbytbord is blommetjies of blaartjies uit die tuin gerangskik vir spesiale liefde. Meer pienk blommetjies vir die sus, meer blaartjies vir die boetas.

Hierdie naweek was my voorreg om al my liewe kinders en manlief om my te kon hê.
‘n Naweek van bederf en saamkuier. Om sommer almal se verjaardae van die jaar te vier. 


Ons het saam gelag en saam gespeel. Ons het die blommetjies en boomtoppe van Kirstenbosch om ons gehad en kon sommer net saam stilstaan en saam verwonderd wees oor ‘n piepklein blommetjie en ‘n blaartjie wat so lekker ruik!  

En onder die groot boom se uitgespreide takke op die gras lê en rus en ver paaie onthou.



Dit lê my oneindig na aan die hart….





















Friday 15 April 2016

KOSBAAR … DIE KINDERS

Wat ‘n voorreg om saam met mens se kinders te kan kuier!

Kosbare herinneringe wat altyd ‘n glimlag sal agterlaat.

Sommer net lekker kuiertyd en laf wees. En om ook saam ‘n traantjie te kan pink oor die dinge wat ons harte aanraak.




Soos die Prediker ons leer: “om tussen al die harde werk deur nog te kan eet en drink en gelukkig te wees is ‘n geskenk uit die hand van God.”


Thursday 14 April 2016

VERJAARDAGVREUGDE

Wat ‘n wonderlike voorreg om met soveel liefde en omgee toegevou te word! Wense vanuit Nederland, ‘n ander van iewers op ‘n groot skip op die wye oseaan, die ou Transvaal, naby en ver…. Oproepe wat ek ongelukkig nie almal kon beantwoord nie – jammer, maar ek het probeer bybly! 

Vanoggend agtergekom ek kan nog (ouderdom ten spyt) aantrek met een hand en bed opmaak met een hand terwyl die telefoon in die ander hand is. Maar een ding weet ek (wysheid met die grysheid) dat ek beslis nie die telefoon in my nek tussen skouer en ken moet vasknyp nie, want dan laat weet daai rugspiere gou-gou dis nie hoe dit bedoel is nie…



Spesiale koffie en koek (natuurlik Brownies!) geniet by BROWNIES & DOWNIES in Langstraat. Wat ‘n spesiale plek! As jy opregte liefde wil beleef, gaan kuier by hulle!
Lees meer oor hulle op hul webtuiste browniesdownies.co.za




Tuesday 12 April 2016

Om beter te kan sien, my kind!

Vandag het ek ‘n afspraak met ‘n oftalmoloog gehad. Elke keer as mens besef hoe belangrik jou oё is, is dit so ‘n ekstra wakkerskrik.


Neem ons nie maar net hierdie “kan sien, kan hoor, kan praat….” sommer net so vanselfsprekend nie????


En waarna kyk ons? Waarna luister ons? Waaroor praat ons?

Ek slaan sommer opnuut my oё op na die berge!


Monday 11 April 2016

MAANDAG

Na aftrede besluit mens watter kleur jou dag is.

Vandag: Blou.

Maar ‘n mooie!

Sagteblou herfslug hier teen die voet van ou Tafelberg. Hier is ‘n mistigheid, maar beslis ‘n sonskyndag. 

Vandag stap ek en ‘n vriendin hier tussen die lieflike ou geboue met ons kameras. Selfoonfoto’s sodat ons nie soos toeriste lyk nie. Haar een versoek: Sy wil ‘n Macchiato iewers drink. Ek doen navorsing by Die Universiteit van Google:

Caffè macchiato (Italian pronunciation: [kafˈfɛ mmakˈkjaːto]), sometimes called espressomacchiato, is an espresso coffee drink with a small amount of milk, usually foamed. 

Ek besluit die beste koffieplek in Kaapstad (volgens ‘my masjientjie’ wat ek raadpleeg) is Bean There in Waalstraat. Lekker stappie. Hoop maar net hulle maak daai saak volgens haar begeerte. [Is toe so...]

Met die treine wat oor die naweek hier by die Kaapse Stasie aan die brand gesteek is, word druk verkeer op die N1 verwag. Vriendin se reis stad toe sal dus langsaam verloop. Maar sy is ‘n dapper vrou en verstandig om nie vroegoggend die tog aan te pak nie. 




Sunday 10 April 2016

SONDAGSTILTE


TRUTH koffiewinkel. Knus langsaan die St Andrew’s Presbyterean gemeente. Hulle roem daarop dat hul die beste koffie in Kaapstad bedien. Aromaties en geurig! En die Presbitereaanse gemeente het die beste nuus in Kaapstad. Vergifnis en bevrydende Vrede! 

Ongekompliseerde kerkdienste in Afrikaans en Engels met ‘n boodskap van eenvoud en waarheid. Onpretensieus. En is dit nou nie kosbaar in hierdie tyd en eeu nie! So bevrydend om gestroop te wees van die “ek moet” en terug te kom na die “ek wil”, want “Hy is”.


So sit ons vir ‘n uur of wat na die kerkdiens in Truth se skadukolletjie en geniet net. Rustig. Genotvol. Tot só ‘n mate dat manlief vergeet om te betaal toe ons wegstap…. Die kelner het maar net rustig agternagekom en gelag! Relaxing to the extreme…






Saturday 9 April 2016






Dis naweek!

Tyd vir ontspan, lees, laat ontbyt …







Vanoggend het ons weer ‘n keer die Oranjezicht City Farm Market Day by Granger Bay langs die V&A Waterfront besoek. Soos altyd, ‘n groot lekkerte! Soveel vriendelike mense, uitstekende produkte en ‘n uitsig wat mens net nie genoeg van kan kry nie! 

Heerlik ongekompliseerd om op die MyCiti bus te spring en nie bekommerd te wees oor verkeer en parkering nie.




Friday 8 April 2016

Vrydagsake!

Heerlike naweek!
Ja, dis die eerste vollengte week (vir die wat nou nie skoolgaan of skoolhou nie) na al die heerlike langnaweke.
Mag almal se In-boxe leeggewerk wees!
Lieflike weer in die stad en omgewing. Dis tyd om die knope los te maak en  bietjie te ontknoop.

Wat is nou lekkerder as ‘n biertjie en ‘n chippie as die skaduwees langer raak en die week se sorge so stadigaan wegkwyn….

Maar in ons huis mag ons eers daai biertjie knak nadat ons span hul eerste drie gedruk het! Mag die Stormers my nie te lank laat wag nie!







Thursday 7 April 2016

'n Mooie Herfsdag in die Mooie Moederstad

Vandag is 'n wondermooie skone herfsdag.
Van Hunks het nie eens sy pyp uitgehaal nie.
Hier in die stad is soveel toeriste - mense wat ons stad bewonder en geniet. En wat weet hulle moet streetwise wees. Want, soos oral in die wereld waar mense is, moet mens maar weet wat om jou aangaan.


Wednesday 6 April 2016

dis die BEGIN van iets NUUTS


New kid on the block. Ek dink dit word vertaal met: die groentjie wat begin blog.

Ek mag ‘n ou bogger wees, maar beslis ‘n spiksplinternuwe blogger. 

Die blog-ding voel net vir my soveel beter / veiliger as van die meer exposed sosiale netwerke. Gits, ek is mos van daai impulsiewe siele wat hardop dink. En dan, heelwat later – na die skade – bedink. 

Iets soos wat Flannery O’Connor verwoord: I write because I don’t know what I think until I read what I say maak absoluut vir my sin…. Dis nou hoekom ek hou van skryf. Soms verstaan ek wat ek dink… of sê. Soms nie.