Thursday, 19 October 2017

Arch for Arch

Die afgelope maand of wat hou ons die sakie dop. Wat is hulle besig om te doen aan die onderpunt van die Kompanjiestuin? Daar waar Government Avenue tussen die bome begin – net daar waar Adderleystraat besluit hy word Waalstraat – is ‘n doenigheid.

Elke nou en dan stap ons verby om die vordering dop te hou. Indrukwekkende hout strukture word opgesit. En nee, dis nie sommer net ‘n tydelike besigheidjie vir ‘n konsertjie of opvoerinkie wat daar gehou word nie. Hier is iets groters en meer permanent aan die kom.

Dis toe ook een laatmiddag ‘n goeie verskoning om oorkant die pad agteroor te sit met ‘n skuimkop-biertjie om die doenigheid gade te slaan. Die werkers weet wat hulle doen en werk fluks.

En uiteindelik sien ons die indrukwekkende eindproduk. Soos Design Indaba berig:

Arch for Arch is a commissioned architectural structure that commemorates the work and life of one of South Africa’s most celebrated figures, Archbishop Desmond Tutu. The project celebrates its namesake Tutu (lovingly nicknamed “the Arch”), and its design is meant to be a physical representation of his strength and resilient humanity.
The wooden arches were bent by Croatian boat builder Dario Farcic in Johannesburg. Each strand of wood bears a single line from the South African Constitution’s preamble, signifying the founding principles on which the country is built.
Ons was gelukkig om Desmond Tutu se toespraak oor die radio te hoor tydens die onthulling. Op 86-jarige ouderdom raak hy steeds harte aan. Ernstig, eerlik met sy uitbundige lag en sin vir humor.
‘n Baie besonderse arch vir ‘n baie besonderse man.

Wednesday, 18 October 2017

Oomblikke

Wanneer mens inpak, is daar oomblikke. Iets wat uit die laai uit kom wat jou aan iemand herinner. ‘n Kaartjie in jou kind se handskrif. ‘n Boodskappie van ‘n geliefde. ‘n Strikkie wat om ‘n pakkie gebind was.

En ‘n gedagte wat in ‘n boek neergeskryf is.

So kom ek af op die inskrywing van 1 Julie 2013 uit Lukas 10:37(b):

“Word ‘n medemens vir elkeen met wie jy elke dag te doen het maak nie saak wie of wat hulle is nie”, het Jesus geantwoord.

Met JA Doolder se aanhaling daarby: De omgewing van de mens is de medemens.

En ek wonder hoekom dit op daardie dag vir my belangrik was om dit neer te skryf.

En ek weet ek het die afgelope twee jaar intens bewus geraak van my medemens. Op verskillende maniere. Wie my medemens was. En wie se medemens ek was. Dis dieselfde persoon. Maar ook tog nie.

Tuesday, 17 October 2017

Opgaarsels

Vandag ‘n paar maal daaraan gedink dat ons darem baie soos eekhorings is. Dra gedurig goed aan nes toe. Bly tog maar lekker.

Tot dit tyd is vir inpak en oppak.

Dis ‘n ander storie. Ek het nog nie so baie verhuis in my lange leeftyd nie. Maar ek moes al so ‘n paar maal vir ander mense huis opruim. Nie ‘n snaaksigheid nie. ‘n Liefdestaak.
So is dit tyd hier op onse werf hier in die lug om te begin inpak. Hierdie keer is dit makliker omdat dit eenvoudig en min is. En tog verstom ek my oor hoeveel goetertjies ek (weereens) hier om my vergader het.

En ek weet ek gaan dit weer doen. Want dis tog die kleure kryt wat die prentjie kleurvol maak! Kan tog darem nie net bed en stoel en tafel hê nie. Die kersie op die tafel is dan dit wat die atmosfeer skep!


So met die inpak gaan my gedagtes maar weer en weer terug na siek buurvrou se huis wat uitgesorteer en ingepak moes word. Met ‘n knap vriendin wat kom help het, was alles onder beheer. En elke keer as ek iets hier by my wil inprop, praat ek so met myselwers: “Huh-uh! Dis nie netjies soos sy dit sou gedoen het nie!”

Friday, 13 October 2017

Kaapse kuiers

Wat ‘n fees om saam met mens se kinders Kaapstad te kan platloop! Met kronkelpaadjies die stad verken, instap by winkeltjies, verras word deur menige nuwe entrepreneurs se dinge.

So besef ons ook weer dat die Kaapse toeriste-seisoen met ons is. Skielik is die winter specials by die eetplekke iets van die verlede. En volgende winter gaan ons hierdie somer se hoё pryse betaal as ons onsself wil bederf. Ja, dis kwaliteitkos wat ons hier in die Kaap geniet, maar sommige plekke is darem net te snoep! Dit inspireer ons dadelik om in die toekoms meer tuis te kook en te kuier. Die spyskaart verlei ons om avontuurlustig te wees en te bestel wat ons nie ken nie. Dis altyd lekker om nuwe smake en disse saam met ons kinders te toets.

Ons vat die bus Kampsbaai toe. Dis ‘n wonderskone mooie aand en die sonsondergang betower soos gewoonlik. Die laaste sonbaaiers pak traag hul grafies en emmertjies op. Die honde geniet die stappie langs die strand voor hulle weer tevrede moet wees om agter slot en grendel te wag tot baas na nog ‘n dag se werk tuiskom.


Met groot ontsteltenis verneem ons die volgende dag van die brand teen Kampsbaai se berghange. Ai, die winter was skaars hier en brandgevare dreig reeds weer oraloor in die fynbos met die somerseisoen met ons.

Thursday, 12 October 2017

Vreugdefees

Na ‘n week se feesvieringe, is die kasteel vanoggend ekstra stil. En eensaam. Ek mis my mense hier om my.

Intussen het ek ‘n dogter ryker geword. Kosbaar. So mooi om die liefde te sien. Daar is min dinge wat by ‘n bruid se skitterende oё kom as sy in die paadjie afstap - haar bruidegom tegemoet. Geen diamant kan helderder skitter nie!

Die beplanning, opwinding, viering is verby. Nou sien ons uit na die foto’s en die heerlike herinneringe wat ons met mekaar kan deel.


So word ‘n opwindende nuwe hoofstuk begin.

Wednesday, 4 October 2017

Om fees te vier

Soveel redes om fees te vier. Al skep mens jou eie fees. Sommer net om die lewe te geniet. Om vir vriende te wys jy gee om; hulle maak saak.

Anderaand doen ons moeite om by mekaar se dagboeke aan te pas - ‘n komende verjaardag moet gevier word.  Die seuns en hul liefies kom doen mee – elk met ‘n geskenkie in die hand. Dis die verjaardag van ‘n eenkantvrou. ‘n Alleenvrou wat niks verwag van ander mense nie. En wat toentertyd anders gewoond was. Dit was vir ons almal om die tafel ‘n meer spesiale ete as baie ander wat ons al geniet het. Eenvoudig, maar opreg uit die hart uit. So gedoen en so aanvaar en waardeer.

Hier in die kasteel is vandag skoongemaak dat die skuimbolle by die vensters uitgewalm het. Heerlik om ‘n slag stof uit te wiks. Spring cleaning op sy beste! Maar dankie, dit was nou eers genoeg daarvan vir ‘n wyle.


Maar eers is dit tyd vir ‘n fees van ‘n ander kaliber vir die kasteelbewoners. Die komende week gaan ons saam met ons kosbares kuier. Bruilofsfees vier. En die lewe vier. Sommer net in mekaar se oё kyk en dankbaar wees vir soveel onvoorwaardelike liefde. Met diepe dankbaarheid vir grenslose genade.

Monday, 2 October 2017

Die tyd stap aan

Dis mos daai tyd van die jaar wat mens somer- en wintersklere omruil. In die Kaap is dit nie so ‘n eenvoudige sakie nie. Vandag is dit beslis hoogsomer hier. (Met die hoop dat dit môre koue, nat weer gaan wees!) Indien vandag se temperatuur ‘n voorspelling is van wat hierdie somer vir ons wag, dink ek dis 'n slim plan om in Alaska te gaan vakansie hou.

Oral om my is hopies. Hopies klere wat nie meer gedra kan (of gaan) word nie. Hier ‘n stapeltjie boeke wat moet terug biblioteek toe. Daar ‘n paar tydskrifte wat deurgeblaai moet word om te besluit: bly of gly.
‘n Pakkie wat moet saamgaan vir iemand se verjaardag. Nog ‘n sakkie met goetertjies in wat moet saam na ‘n jolige geleentheid. ‘n Verwarmer wat weggepak moet word, winterklere wat stoorplek toe moet gaan.

En dan is daar die naderende wegtrek uit onse kasteel uit. Dit op sigself veroorsaak interessante gesprekke rondom inpak, tydelik stoor en saamneem vir vakansie. 

Praat van hopies maak! Met manlief wat nog so 10 werksdae oor het, is dit nou beslis nodig om te besef die tyd stap aan. Sommer op ‘n drafstap!