Monday 31 July 2017

Patroontjies

Nee, nie vandag die soort wat met jou hand in die sand getrek word nie. Ook nie die soort wat met verfkwas op die doek gemaak word nie. En nie die soort wat deur plante in jou tuin gevorm word nie.

Vandag laat die woord my dink aan die patroontjies waarin ons so maklik vasval. Gewoontetjies. Sommige goed, sommige bitterlik sleg. Party stuitig en stout.

Omdat hier soveel lieflike eetplekke en doendinge is, sê ons dikwels vir mekaar dat ons net een keer ‘n plek besoek. Maar toe nie so maklik om daarby te bly nie! Want ai, daai lekker kos op die spyskaart wat jy “’n volgende keer” wil bestel…. En daai heerlike ondervinding wat jy “net nog weer ‘n keer” wil beleef!

So ontdek ons Giovanni’s Deli (gelukkig?!) so in die laaste kwart van ons verblyf in Kaapstad. Dis so ‘n lekker stewige stappie tot daar en terug op ‘n Vrydagmiddag. Ver genoeg dat mens ‘n nagereggie ook in die winkelmandjie kan pak. En omdat dit ‘n hele paar duisend tree is, moet ons iewers langs die pad ‘n ruskansie vat met ‘n koppie goeie kwaliteit koffie of ‘n koue biertjie. Verlede week het ons onsself halfpad bederf met ‘n beker warm sjokolade. Genoeg woema teruggesit om die terugtog met ywer en sonder pyne aan te pak!

Tydens ons verblyf (lank gelede) in Corniglia, Italiё, het ons geleer hoe mens op ‘n bekostigbare manier van die puik Italiaanse gerookte vleise en disse kan geniet. En hier by Giovanni’s doen hulle dit ook so. Die sorg waarmee elke papierdun skyfie vleis verpak word, en die lekkerte om dit met liefde weer hier in die kasteel kan kom oopvou en geniet, bring kosbare herinneringe terug.

Die personeel by Giovanni’s begin ons al herken….. Oops! Dis ‘n patroontjie wat vas is! By hierdie patroontjie sal ons maar bly vassteek terwyl ons nog hier woon. Dis te lekker!
Ek tel die dae af tot Vrydag….. 

Friday 28 July 2017

Opslaantyd

Vanoggend staan ek met my koppietjie oggendkoffie op die balkon. Die dag het al sy gang gekry. ‘n Besonder warm wintersdag.

Die manne met hul negosiegoedjies is besig om rond te beweeg – kronkelend tussen die voetgangers en motors deur. Hulle stuur besonder behendig daai swaargelaaide kontrepsies van hulle. Ek kan net dink hoeveel skade dit aan ‘n voertuig kan maak as die man beheer oor daai besigheid verloor! Want dis baie, baie swaar en die staalpenne steek alkant ver verby. Dis ‘n aardigheid om te sien hoe netjies hulle elke liewe stukkie plankie en produk na ‘n dag se werk pak en stewig vasmaak – die plankie en produk ewe kosbaar en belangrik om hul dagtaak te verrig. Dit was nogal vir ons ‘n belewenis om te sien hoe en waar al daai trollietjies saans hier in die stad rond op spesiale plekke gestoor word. En wie die “base” is wat kom geld insamel en boeke opmaak as dit huis toe gaan tyd raak.  

Op so ‘n twee vierkante meter afgemerkte plaveisel tussen ‘n groot winkel en ‘n nog groter hotel, is ‘n ander man wat parfuum verkoop, besig om sy waentjie staan te maak. Hy is duidelik in ‘n hoёr inkomsteklas as ek sy toerusting so van ver af beskou. Eers word die raamwerk opgeslaan, ‘n gerieflike stoel oopgeklap. En dan kom sy handlanger aangestap om te help om die plastiekbedekking te help oortrek. Sykante word stewig vasgemaak, die opvoutafel word oopgemaak, ware uitgestal en siedaar! Reg vir die dag se handel.

Ek wonder so by myself of dié man dalk ‘n kampeerder in sy hart is. Sy vrou dalk nie? Laatmiddag vou hy weer alles netjies op, pak in en gaan huis toe na ‘n dag se werk. Hy, tevrede na die uitkampering, sy vrou bly om hom weer te sien! En môreoggend is hy opgewonde om weer te gaan uitkamp vir die dag. Ek sien nooit veel klandisie by sy hiper-netjiese stalletjie nie, maar hy is elke dag op sy pos.


Om elke dag so winkel op te slaan en uit te stal – net om laatmiddag weer elke dingetjie netjies op te vou en in te pak – dit bly harde werk. Hiervoor moet mens sekerlik deursettingsvermoё hê! Ek het respek vir iemand wat kans sien vir so ‘n bestaan en om nie maar net rond te staan en hand uit te steek vir ‘n pasella nie. Kyk bietjie met nuwe oё as jy weer by die informele verkopers verbystap. Sommige is puik entrepreneurs. 

Thursday 27 July 2017

Sappigheid

So met die tyd het baie mense gewoond geraak aan die snaaksigheid van sappige kombinasies. Wel, sommige het daaraan gewoond geraak. En natuurlik is daar diegene wat nie nou nie – en ook nie later nie – hul mond daaraan sal sit nie.

Ek moet erken sommige van die konkoksies lyk vreemd. Veral die groenes. Maar soos die kenners meen, is die groenes juis die goeies! Hoe dieper die groen, hoe meer sien ek die monsters daarin raak! Dis nou die monsters wat die kieme moet vernietig!  Die groenes nie so maklik vir my nie, maar ek weet dis gesonder en dus kies ek dit so nou en dan as ek die dag dapper voel. Nie verniet dat dit as "groen mamba" in ons huishouding bekend staan nie!

Knap by ons gebou se ingang het ‘n nuwe kosstalletjie so paar maande gelede hul bedryf begin. Hulle maak ‘n sappie wat jou kiertsregop sal kry as jy net so effens verlep voel. Heel bekostigbaar. 'n Kombinasie na jou keuse. En hulle maak dit vars terwyl jy wag!

Anderdag koop ek vir ons elk ‘n houertjie om die verkouekieme hok te slaan. Myne ‘n kombinasie van wortel, gemmer, suurlemoen, appel. Liefie s’n beet, appel, wortel.
Met die eerste sluk is dit gewoonlik ‘n skok vir my gestel, maar ai, hoe heerlik verfrissend as mens eers gewoond is aan dié sappies!

Langs my staan ‘n kantoordametjie wat gou vir haar ‘n heilsame en vullende drankie kom koop tydens haar middagete. Ons begin gesels en ek vra haar wat sy bestel het. Piesang, grondboontjiebotter, heuning. Verpulp saam met ‘n paar ysblokkies tot ‘n heerlike sagte drankie. Klink vir my of ek ook een of ander tyd daai een kan probeer! 

Wednesday 26 July 2017

Sou wou

Sou nog graag dit wou sê.

Sou graag nog dit saam wou doen.

Te laat. Geen kans meer daarvoor.

Min van ons het die luukse van met no regrets lewe. Daar is gewoonlik iets wat mens nog wou doen of wou sê of saam gaan verken. En dan is daar ook die goed waaroor jy spyt is wat jy wel gesê het – op verkeerde tyd. En goed wat jy gedoen het – in ‘n onbesonne oomblik.

Vandag is my ma se verjaardagdatum. Ek en een van die jonger geslag het oor middagete die voorreg gehad om saam koffie te drink en ‘n geselsie gemaak. En so ‘n paar foto’tjies bygehark om die onthou nog meer spesiaal te maak. En om sommer nefie se verjaardag ook te vier.

En later vanmiddag is ek op pad na ‘n begrafnis van ‘n veraf aangetroude. ‘n Man wat baie jonger as ek is. Iemand wat dalk nog “sou wou”.


Dit laat mens stilstaan. En dink. En momentum gee om te doen. Voor dit te laat is. Voor ek sê: Ek sou nog wou….

Tuesday 25 July 2017

Gesondheid

Hierdie jaar se goggas maak die mense diep siek. Van heinde en ver hoor ons van erge koors, bronchitis, verkoue wat net nie wil wyk. Papsiek in die bed vir ‘n week of wat – dis nou as die werksopset dit toelaat. Anders is dit maar warm aantrek, mus en serp, ekstra sneesdoekies in die sak, werk toe!

Rooibostee met ‘n skeutjie heuning, ‘n stukkie vars gemmer, ‘n skyfie suurlemoen. Lyk my dit het die brandewyn en heuning - voor slapenstyd vir die bors - vervang? Of dalk nie? Dalk moet mens sommer dit ook wegslaan vir ‘n rustige slapie?

My spesiale beker (geskenk van dogter vir Moedersdag iewers in die verre verlede toe Room Service nog deel van my bestaan was) staan altyd gereed. Die gedagte aan die gewer maak dit sommer nog meer spesiaal om daaruit te drink. Dan verbeel ek my sommer sy sit hier neffens my om saam ‘n koppietjie te geniet.

‘n Vriendin dra eksotiese tee aan. ‘n Ander houertjie op my kombuiskas het heerlike kombinasies van smake wat uit Duitsland aangestuur is. Elkeen spesiaal, maar onse eie rooibos bly darem maar ‘n staatmaker. Vanoggend se koerantbylae beaam net die saak.

So van my spesiale beker gepraat. Eendag sit ek en ‘n gas (wat ‘n sielsvriendin geraak het) diep sake en gesels. Ernstige goed waaroor mens so half wil frons. Skielik bars sy uit van die lag! Ek is half verbaas-verstom: dis niks om oor te lag nie! Dis diep dinge! Maar sy lag nie vir dit waaroor ons gesels nie. Haar oog het skielik die prentjie op my beker gevang….

Tyd om die ketel aan te skakel! Dankie, sus, dat jy gereeld my dag opvrolik! Ek verlang daarna om 'n rooibossie met jou te deel!

Friday 21 July 2017

Klein dingetjies


‘n Vriend sit een aand en kyk na die swartbord in ons kasteel. Die een waarop ek soms iets uit my binneste uit skryf. En soms iets daarop skryf om my dag op te vrolik. Dit werk voorwaar om so ‘n ietsie positiefs te skryf en gedurig in die verbystap te sien.

Op die swartbord skryf mens iets wat almal kan sien. En dit is dikwels sommer ‘n heerlike gesprekspunt. Soms is dit om die lewe se lawwigheid te deel. Soms sommer net om ‘n kosbare paar woorde vas te pen.

Interessant dat gaste soms ‘n paar uur in die vertrek is en nie lees wat daarop geskryf staan nie. Dikwels is die vreemdheid van ons veranderde leefstyl vir party net te ‘n groot skok! 

En dan kom hier soms ‘n vreemdeling in en lees onmiddellik wat op die bord staan en reageer daarop.

Ja, daar was al info op die bord geskryf wat ‘n siel hier en daar glad nie kon verstaan nie. En nie omdat ek “te diep” gedelf het nie…. Dalk net effe uit die boksie uit….

Vriend merk op dat die woorde op die bord vir hom so waar is. As oftalmoloog is dit vir hom van kardinale belang dat dit “die klein dingetjies is wat saak maak”. Die fynste besonderheid is belangrik. Presiesie is sy werk.

Dis glad nie wat in my gedagtes was toe ek dié woorde op die bord geskryf het nie! Dis net dat die “Hoe-Ha” nie vir my belangrik is nie. Vir my is dit die klein dingetjies wat saak maak. Soos ‘n glimlag – nie noodwendig ‘n verduideliking. Soos ‘n drukkie – nie noodwendig ‘n omhaal van woorde. ‘n Glas water – nie noodwendig die duurste vonkelwyn. Die eenvoudige. Met opregtheid. 

Maar ja, vriend, ek sal jou vertrou met my kosbare ogies! Die werk wat jy doen, verg dit dat die klein dingetjies saak maak op die manier soos jy dit beskryf. En dit laat my op 'n ander manier kyk wat ek daar geskryf het.


Tyd dat ek begin dink aan ‘n nuwe wysheid op die swartbord in onse kasteel….

Wednesday 19 July 2017

Planne met proteas

Die blommeverkoper verseker my sy proteas kom van Botswana af. Ja, mevrou, en dan kry ons ook hier van Gansbaai se kant af.

Maar dié mevrou weet darem nie so mooi van proteas van Botswana af nie…. Maar as ons rose van Kenia af kan kry, kan ons seker proteas van Botswana af kry?! 

Soos eie aan die blommeverkopers oraloor, is dié man ook erg bekkig. Niks fout met sy kommunikasie-vermoёns nie. En oortuigend!

Die blomme is glad te duur na my sin. Maar manlief het my pas bederf met ‘n pragtige nuwe blompot. Blomme is nodig. Proteas. 

Dis koud en daar is nie kans vir verder soek nie. Ook nie lus nie. In die verbyry die blomme gesien en besluit ons stop daar op pad huis toe. Nou gaan ek nie nog ‘n plek soek nie. En heel waarskynlik is die ander ook duur.  Ek het lanklaas blomme gekoop en weet nie werklik wat die prys deesdae is nie.

So met die gekibbel roep die verkoper so na sy maat: “Pissie!” Ek dink eers ek hoor verkeerd, maar nee, dis die man se naam. Hy is die baas. Hy sien seker met dié vrou gaan hy nie veel wins maak nie. Ek kry ‘n paar takkies blare by vir special. Tog te dankbaar is ek, want mos nou nie meer tuin om gou ‘n takkie of wat te gaan knip nie! En so met die wegstap vra ene Pissie my of ek die chocolate proteaspesie ken. Agter die bure se heining haal hy dit uit. Nee, broer, dis ou proteas wat bruin gekleur is (dalk met tee?). Ek kom van protea-wêreld af. Hy glimlag vir my so met ‘n knipoog en gee my ‘n bossie pasella so ook van agter die heining uit: hoeka ‘n donkerbruin protea’tjie of twee, ‘n paar verlepte pap blare en sowaar ‘n slap takkie bougainvillea ook in die ruikertjie vasgevang! 

Dankie, Pissie! Waar kry mens deesdae sommerso ‘n geskenk saam as jy iets koop!

Monday 17 July 2017

Weird & Wonderful

Oor die naweek sit ons knus in ‘n straatkafeetjie en eet heerlike sop en broodjies. Wat ‘n lekker bederf! En ons gesels oor alles en nog wat.

En ons geniet die weird & wonderful wat hier om ons rondhang en rondloop. Verstom dat meeste Afrikaanssprekend is. En so met elke een wat meer uitheems en boheems (is daar verskil?) lyk, wonder ek hardop wat hul ouers dink van hul kinders se styl. Baie koddig! Ek vra vir manlief: “Wat dink jy sal die pa sê as dogter met daai een (wat sy so onder haar jas toevou) met die dreadlocks by die huis aankom?” En sonder huiwering antwoord manlief: “Welkom hier by ons huis!” Uitgevang! Jou dogter is klaar getroud! Te maklik geantwoord!

Natuurlik is die uiterlike nie belangriker as die innerlike nie! En natuurlik sal ek lief bly vir my kinders – maak nie saak hoe hulle lyk of aantrek nie!

Maar ai, sekerlik nie altyd maklik vir diegene wat in stywe rigiede boksies leef nie! Maar so allerheerlik vir my om te weet onse Afrikanervolkie het ook uit ons kakiekleertjies uitgeklim en ons Voortrekkerkappies losgewikkel. Wel, sommige van ons!

Vanoggend lees ek dié wysheid raak.
“If you want to know what a man’s like, take a good look at how he treats his inferiors, not his equals.” Sirius Black


En toe is dit ook baie makliker gesê as gedaan, want Sirius Black is nie ‘n man van vlees en bloed nie. Dis een van Rowling se karakters in haar Harry Potter reeks. Maar dis tog iets om oor na te dink en na te streef. Want, soos ek weet, gaan dit oor optrede en vir seker nie voorkoms nie.

Maar o, so dankbaar dat die manne in my lewe die ene verstaan. En leef.

Friday 14 July 2017

Sonskynstad

So ‘n lieflike sonskyndag hier in die stad. Maar, soos ons mos weet, is dit deesdae “mooi weer” wanneer dit reёn. Dus is dit vandag ‘n “skoon” dag, maar nie ‘n “mooiweersdag” nie.
Skielik is ons tyd hier aan die voet van die ou grote aan die uitloop. En ons koester elke tydjie hier.

Ons wil nie meer naweke iewers heen nie. Ons wil net hier wees en elke oomblik opslurp en vashou en deel maak van kosbare herinneringe.

Rondloop in die stad bly vir ons ‘n ervaring. Soms moet ons spring as ‘n motoris besluit hy weet nie wat die goed aan pale is wat so van kleur verander nie. En alhoewel die taxi’s hul eie reёls maak en self oortree, is dit dikwels die deftiger motoriste wat tog so die kanse waag! En op hul selfone gesels terwyl hulle bestuur! Ander kere loop ons sorgloos oor die straat sonder ‘n voertuig in sig! Ja, naweke is die middestad gewoonlik stil en rustig.

En soveel mense vra ons oor veiligheid. Nee, ons het nog nooit onveilig gevoel nie. Dis mos so dat mens moet weet wat om jou aangaan. Waar jy ookal op hierdie aarde woon, moet mens streetwise wees. En dit bly vir ons wonderlik as die sekuriteitsbeamptes (wat oraloor baie sigbaar is) mens vriendelik nader en versoek dat jy jou handsak toerits en dalk jou rugsak (met rekenaar in) voor jou dra in plaas van op jou rug. En ja, steek maar die juweliersware bietjie weg. Want eintlik weet ons mos: “moenie ander in versoeking lei nie”.

Van vriendelikheid op voetsoolvlak kan ons met vreugde getuig! En ja, die bedelaars is lastig. En daar is altyd iewers iemand wat net ‘n kansie soek. Maar ‘n vriendelike antwoord is steeds beter as om op iemand anders te skel. Om nooit die wyse woorde (wat ek al voorheen gedeel het) te vergeet nie: 







Thursday 13 July 2017

Sneeuwitjie


Gister het ek toe ook vir Snowy ontmoet. Die wit eekhoring in die Kompanjiestuin.

Om die regte hoek te kry om die sakie van eekhorings voer op “film” vas te lê, is ook ‘n missie op sy eie. Die skaduwees moet nie te veel wees nie, die voerder moet darem uit die regte hoek afgeneem word. En die fotograaf moet betyds besluit of dit ‘n foto vanuit sittende posisie moet wees. Want om plat op die grond te gaan sit en op te staan vanaf “platvoerse”posisie is nie meer so maklik soos in die jongdae nie!

En dan is sommige van die eekhorings letterlik en figuurlik uitgevreet.

So met ons stappie op soek na nog ‘n eekhoring om te voer, loop ek en nig toe vir Snowy raak. Onbewus daarvan dat dié spesiale eekhorinkie moontlik die enigste wittetjie in die omgewing is, lok ons haar(?) toe ook nader vir ‘n grondboontjie of twee. Gelukkig kry ek die skoot toe perfek reg.


By nadere ondersoek kom ek toe agter dat die wit eekhoring geruime tyd in die omgewing is. Ons het die diertjie nog net nooit voorheen opgemerk nie. Nou sal ek vir seker weer moet gaan soek. Ek wonder of Snowy altyd in min of meer dieselfde omgewing woon. Sal moet gaan kyk!

Tuesday 11 July 2017

Altyd ‘n rede

Om koffie te drink, is een van die groot lekkertes in ons huishouding. Om goeie kwaliteit koffie te drink, is ‘n reuse voorreg! En dalk, net dalk, is die mense wat nie van koffie hou nie, nog nooit getrakteer op goeie gehalte koffie nie?

En dan is daar ook nog altyd ‘n rede om saam met die koffie ‘n lekkernytjie by te werk. Daar is mos altyd iets wat gevier moet word!

Sondag het ons die rusdag gevier met rustigheid, stiltyd, kwaliteit tyd. Laatmiddag ons dik baadjies aangetrek en ver gaan stap. Op pad deur die Kompanjiestuine vasgehaak by die heerlike knus restaurant.



En ons kon my ouers se huweliksherdenking van 9 Julie 1949 vier! Ja, die sjokoladekoek was heerlik! En dit was ‘n goeie viering! Want die tweetjies het hul verskilletjies gehad, maar uiteindelik baie jare saam die lewe geniet.


Bederf jouself met ‘n heerlike koppie koffie! Hierdie kant word die koffiemasjien aangeskakel vir ‘n stomende bekertjie genot. Ongelukkig nie varsgebak vandag byderhand nie. Dalkies is daar iets in die koekieblik?

Monday 10 July 2017

Vitamien-warmte

‘n Lekker pot sop op die stoof. Manlief se bestelling vir vanaand. Met baie groente en volop geur. En ‘n stukkie vleis moet by volgens vriend van vergange. En net die regte weer daarvoor! 

As kind was ek nooit gaande oor sop nie. Maar so met die ouderdom het ek agtergekom hoe heerlik dit is! Die verskeidenheid soorte sop van oraloor geїnspireer, maak dit nog soveel lekkerder.

So van lekker gepraat. Gister kyk ons na ‘n tv program waarin iemand vra: Wat beteken “mooi” en “lekker” vir jou? Wat is vir jou mooi? Wat is vir jou lekker?

Dit het nogal interessante denke tot gevolg gehad. En vir myself is die twee nogal soos Siamese tweeling. Wat vir my mooi is, is ook vir my lekker. Wat vir my lekker is, is ook vir my mooi. Maar sê nou net die twee mag nie dieselfde wees nie? Mmmmm, wag laat ek nog verder dink…. Manlief se antwoord oor wat vir hom mooi en lekker is, was verrassend insiggewend. Gedink ek ken hom na soveel baie jare! 

Friday 7 July 2017

Maak foute!


Wat ‘n heerlike uitnodiging!

Deesdae is ek weer bietjie meer kreatief. En maak meer foute. En leer daaruit! En ja, geniet dit!!!

Opstaan en val is juis hoe ‘n kind leer om te loop.

En ene Mary Lou Cook wat die wysheid kwytgeraak het, het die rype ouderdom van 95 behaal en was bekend as kunstenaar, skrywer, kalligrafis, voorstander van vrede en nog vele meer. En sy is oral herken aan die (soms) eienaardige hoede wat sy gedra het.

Nou ja, dit is ‘n uitstekende plan om ‘n hoed op te sit as mens ‘n “bad hair day” het. En om die son uit te hou. En om die wind af te weer. En sommer net vir die lekkerte daarvan!
Dalk moet ons minder bang wees vir “foute maak”. Dapperder lewe!


Sit op daai hoed, waag, maak ‘n fout en leer! Maar belangrikste: GENIET DIT! 

Thursday 6 July 2017

Hunkeringe

Nou het ek hierdie behoefte om voor ‘n warm stofie saam te kuier met mense wat omgee.

Ek onthou so goed my ouma se kombuis. Op die plaas was daar soms ‘n bakkie kaiings op die stoof. Vir kaiingkoekies. En soms het ouma koekiedeeg aangemaak waarmee heerlik gespeel is voor dit in die koolstoof gebak is. Gemmerbroodmannetjies! (Weer daai ding van –mannetjies! Nou wat van die vroutjies? Daai dae was daar nog nie so ‘n woord soos “seksisties” nie.)

Stoele is nadergetrek om naby aan die stoof se hitte te kom. Oupa met knipmes. En dalk net ‘n boekie wat uit die biltong gekerf word?

Later jare, nadat hulle van die plaas af dorp toe getrek het, het ouma ‘n AGA stoof gehad. Hoe sou sy dit geniet om te weet dis deesdae weer hoogmode! En die koperpype om die stoof is blink opgevryf. Selfs die vensterknippe en skarniere is gereeld blink gepoets.
Oupa se tuin het die heerlikste vars groente opgelewer. Met die surplus in die koelkamer of pakkamer op die werf. En flessies en botteltjies ingemaak. Konfyt gekook.


Maar nee, ek verlang nie na die ou dae nie. Ek verlang net na saamkuier. Na stories luister. Sommer net warmte ervaar. Voor die stofie. In my hart.  

Tuesday 4 July 2017

Die rooipen

Gister staan ek in die ry by ‘n DStv winkel hier om die draai. Om die verveling hok te slaan, begin ek lees aan elke stukkie advertensie wat binne sig is.

Dis beslis nie ‘n Engelssprekende persoon wat DStv se advertensie in hul winkel geskryf of vertaal het nie! Nie spelfoute nie (dis nou as mens “u” met “you” as korrek kan laat deurgaan), maar sommer net so ‘n deurmekaarspul dat mens wonder wat die boodskap is. Eerste persoon is skielik derde persoon en iewers in die stuk verloor hulle my totaal en al.

En dan besef ek net weer dat ek maar voor my eie deurtjie moet begin vee…. So met die blog skrywery glip daar voortdurend lettertjies deur wat op verkeerde plek inspring. En ek tel dit beslis nie sommerso op nie! Soms is ek net te haastig, te lui of te onoplettend!

Om gedagtes vas te pen en deur my vingers te laat glip, is vir my ‘n groot lekkerte! En lekker van dit wat ek hier doen, is dat ek nie eens weet wie dit lees of nie lees nie! So nou en dan kry ek ‘n boodskap wat verklap dat iemand lees. En dan moet ek keer dat dit nie ‘n invloed het op wat ek skryf nie!

Maar dit laat my ook weer besef hoe lekker dit is om te blog. Geen Mnr Van Zyl met sy rooipen wat kruisies maak of pyltjies trek oor watter werkwoord liewer waar moes pas nie! En selfs niemand wat vir my kan vertel dat rooipen dalk rooi pen moet wees nie! Want, nadat ek daaroor gedink het, het ek wel spesifiek besluit hierdie keer moet dit rooipen wees. Want sien, die onderwyser het nie sommer met enige pen met rooi ink in gemerk nie. Nee, die meneer se rooipen was ‘n gedugte wapen!

Jy mag maar verskil met my taalgebruik en manier van doen. Ongelukkig gaan ek dit nie noodwendig weet nie! Indien jy my graag wil reghelp, sal ek dit verwelkom! Maar geen meneer of juffrou met ‘n rooipen nie, dankie! Dis so heerlik bevrydend!


Die hele storie van opstel skryf laat my dink aan my skooldae – ‘n maatjie het ‘n “algemene” opstel uit haar kop uit geleer en dit dan aangepas by die tema wat in die vraestel gevra is. Hoe oorspronklik kan dit dan wees!!?? En die ergste van alles vir my was dat die onderwysers dit nooit agtergekom het nie.