Wednesday 31 August 2016

So lekker

Een van die groot lekkertes is om saam te kan kuier. Lag en gesels en sommer net jouself te kan wees saam met mense wat omgee. En om sommer net ‘n stukkie van mens se hart te mag deel.

Na baie jare van altyd bewus wees van “hoe laat is dit?” is dit vir my ‘n ekstra spesiale luukse om te kan agteroorsit en vergeet van tyd! Geen gaste wat ontvang moet word nie, niemand wat iets nodig het nie.

‘n Wyse man merk onlangs op: “O ja, julle het mos ‘n gastehuis gehad. Dis mos daai werk wat bestaan uit wag!” Slim man. Hy weet van. As mens nie wag vir gaste wat moet aankom nie, wag jy vir gaste wat (vir ontbyt of aandete) moet inkom, of moet vertrek! Dan wag jy vir gaste om te bevestig of hulle wel gaan kom bly, of jy wag vir die betaling. Tussendeur wag jy dat hulle moet uitgaan sodat jy hul beddens en baddens kan gaan skoonmaak. En wag net ‘n bietjie, ek wil hoor waarheen ek vandag kan gaan om die mooie Kaap te besigtig! Maar voor ek gaan, kan my hemp asseblief gestryk word? En ai tog, ek het my selfoonlaaier tuis vergeet – het jy dalk een?


Dit alles was vir my ‘n groot voorreg, maar hoe heerlik dat ek nou dit in my herinneringe boksie kan gaan soek … en weer daarin mag gaan wegbêre vir ‘n ander dag se onthou!

Tuesday 30 August 2016

Droomdorpie…

Die afgelope naweek het ek die voorreg gehad om in die lieflike Greyton te kuier. Pragtige, mooie dorpie met vriendelike mense.

Dis hul jaarlikse kunsnaweek. Dis bedrywig en vol interessante kuns. En mense! Hier sien jy nou kreatiewe siele! Sommige is daar om die naweek te beskou wat uit kunstenaars se kwaste vorendag kom. Daar is iets vir elkeen se smaak! Sommige van die skeppings is vreemd, sommige sag op die oog, sommige (vir sommige) skreeulelik, sommige o, so mooi!
Inspirasie soos min!

Ons stap ‘n hele paar kilometer en besef die dorpie is besig om in ‘n dorp te verander! Dis baie groter as wat ons ooit kon dink! Nie sommer net so ‘n stappie om rondom die dorp te stap nie!

En die natuur! Asemrowend!

Ons wonder hoekom dit so mooi is vir ons en besluit dis die landelikheid. Berge en bome om my sal altyd my hart raak. Op ‘n manier het die dorpsbewoners dit reggekry om die natuurlike plantegroei deel te laat bly van die dorp. Eenvoudig. Onopgesmuk. Onpretensieus. Mag dit so bly!

Nog nooit het ons soveel Camelia Japonicas in blom gesien nie – sommige hoog soos bome! En die Camelfoot bome stoot hul blomme in helder kleure uit vir ieder en elk om te sien! Saam daarmee voёltjies wat enigeen se hart verbly!



So met die stap “koop” ons vir ons ‘n huisie. En droom tog te lekker! Tot ons by die volgende watergat kom en heerlike koffie geniet! Gemaklik op die Post House se stoep om die hele bedrywigheid om ons gade te slaan! 

Monday 29 August 2016

Golwende geilte

Dit moes sekerlik hierdie tyd van die jaar gewees het. Ons het deur die Overberg gery. Ek was hewig ontsteld oor die geelgeit. Gewoond aan die groen koringlande waaroor ons so lekker gesing het, was die nuwe kleur vir my eens te veel. Dit het vir my te neon en te onnatuurlik gelyk!  Skielik was dit ‘n “indringer” wat die koring en hawer en gars se plek kom steel. Wat ek voorheen so hier en daar gesien het as mosterd, was heel waarskynlik so met die tyd kanola wat aangeplant is.

Dit laat my dink aan ons Karoo-vriende en hul kinders wat by ons see-huis kom kuier het. Die wuiwende groen koring het heuphoogte gestaan en mens sou sweer ek en manlief het iets daarmee te doen gehad, so trots was ons op die landerye oraloor. Vir die Karoo-kinders was dit net te veel! Soveel groen was net nie waaraan hulle gewoond was nie!

Ons ry anderdag deur die Overberg. In sommige landerye staan die kanola gelyk met die grensdrade. In die laatwinter sonnetjie golf die landerye oor die bulte en laagtes. En raai, dis vir my mooi! Pragtig! Manlief moet selfs stop vir ‘n fotosessie. En ek kry so lus om dit te skilder!



So raak ons ongesiens aan nuwighede gewoond… 

Sunday 28 August 2016


Die Here is my herder
Niks sal my ontbreek nie
Hy laat my neerlê in groen weivelde
Na waters waar rus is, lei Hy my heen
Hy verkwik my siel …

Psalm 23 Ou vertaling

Friday 26 August 2016

Dit lewe en bewe hier om my!

Vandag is dit ‘n bedrywigheid soos min hier om my in “New York” (soos my op-en-wakker jong vriendin onse kasteelblyplek noem! Voorwaar ‘n ge-buzzzzzz soos seker in enige groot stad.

Maar vandag is hier baie meer as net die gewone geroesemoes van stadslewe.

Hoog teen die Cape Sun se bekende glashysbakke, hang vier werkers aan toue – as ek moet skat, so teen die tiende verdieping (gister het hulle min of meer aan die twintigste verdieping gewerk!) om glaspanele te vervang. Elke paneel is seker maklik 3 meter hoog; op sigself ‘n kaskenade om die paneel tot daar bo te kry. Om glaspanele te vervang, is ‘n uitdaging. Om dit te doen sonder vastrapplek onder jou, moet ‘n fiasko wees. Genadiglik is dit ‘n windstil dag. Moet seker maar warm wees om so in die son teen daai glaspanele te hang en te werk om klaar te kry! Ek vermoed die versekering van die hele spulletjie is ‘n aardige bedraggie.

Net oorkant die straat is Woolworths. Die afgelope tyd is daar soggens ‘n groep mense wat soggens oefeninge bo-op die gebou se dak doen. Ek vermoed dit is van die werkers wat ‘n gesonder leefstyl wil volg (sal gaan uitvind as ek weer daar instap, want dis vir my verblydend om te sien wat ek sien!). Vanoggend was die instrukteur so luid met sy aanmoediging, dat ek op ‘n stadium gaan kyk het of daar ‘n optog onder in die straat verbygaan! Maar nee, toe is dit net die man wat daai spul inspireer om meer as een kilojoule vir die oggend te verbrand! En aan die ander kant van die gebou is werkers besig om groot nuwe masjinerie bo-op Woolworths se dak te vervang.

Dan is daar natuurlik Poi (aan wie ek julle voorheen voorgestel het) wat nie ‘n asemteug laat verbygaan sonder om klante nader te roep om in die taxi in te spring nie!


Dis ‘n lieflike sonskyndag in die stad. Ek is seker almal werk fluks om seker te maak die naweek begin al vroegmiddag. Daar is al so ‘n sweempie van lente in die lug…. Mmm, maak mens lus vir gaan kyk wat die omgewing alles aan te bied het op ‘n Vrydag!  

Thursday 25 August 2016

Lewensessens

So met die intrapslag by die nuwe aangetroude gesin van destyds, het ek interessante kennis opgedoen. In die hoekkassie in die kombuis, hoog - sodat mens nie eens daarvoor hoef te buk nie - was die doepa vir overdaad: Lewensessens, Jamaika  Gemmer, Wonderkroonessens… Klein botteltjies met hopelik groot skop om die oormatige eet, en wat mettertyd daarmee gepaard gaan, teen te werk. Vrek sleg vir my gewees! Net om daaraan te ruik was gagga!  Dit was altyd vir my vreemd dat die skoonfamilie se tantes bietjie te veel ingeskep het en dan agterna die slegte goed gedrink het! So verkeerdom geklink vir my.
Later jare, toe my spysverteringstelsel ook nou nie meer so lekker wil saamspeel nie, het ek agtergekom dat druppeltjies wat uit botteltjies kom nogal wonderlik help! Nou ja, dis altyd beter om voorkomend te lewe en minder in te skep, maar soms raak mens weggevoer deur disse en dinge… En die gevolge word gedra: hoe later, hoe kwater!

Maar ware Lewensessens beteken eintlik: die sin van die lewe. Heel filosofies. En diep en lank kan mens hieroor gesels.


Dalk moet ons wees soos Vanielje Essens. As daai botteltjie oopstaan, omwalm dit oral die heerlikheid! ‘n Lieflike geur – dis wat ons moet versprei!

Wednesday 24 August 2016

Koek en kekkel en kuier


Vandag was een van daai spesiale dae wat mens diep bêre om anderdag weer oor te droom.

Vanoggend verras ‘n oulike dogter haar ma met ‘n verrassingstee vir haar verjaardag. Ek is bevoorreg om genooi te wees en geniet die groot bederf. Heerlik om “ou” bekendes weer te sien en in te haal met die nuus. Heerlik om vars nuwes te ontmoet.

Maar nog is het einde niet! Ek besluit dis my dag van kuier saam met vriendinne. Dis ‘n dag vir koek en kuier en kekkel.

Kosbaar om verder saam te kuier met ‘n vorige buurvrou en nog vriendinne – sommige van naby, een van baie ver wat spesiaal kom kuier om net weer te kom uitvind hoe lief ons haar het!

Vanaand klim ek in die bed met ‘n warmte om my hart. Hoe bevoorreg is ek om soveel spesiale mense te kan ken en soveel liefde te ervaar. Opnuut bewus van die dapperheid en terselfdertyd broosheid van ons spesie.


My keel is droog van al die gesels! Mmmmmm, ook dié dat dit tyd is vir instap by die kasteel met ‘n man wat my met ope arms (en ‘n glasie rooiwyn) inwag! Wat ‘n feestelike dag! Tyd dat ek by die kombuis uitkom om ‘n feesmaal te gaan berei!

Tuesday 23 August 2016

Nie daai een gekry

My ma kon getalle onthou. Sommer lang rye syfers. Sekere tye van die jaar het sy by my pa-hulle se kantore gehelp met waardasie van eiendom. Ek onthou hoe gefassineer ek was met die rubber vingerhoedjie wat sy om haar vinger gedra het om die papierwerk mee vas te vat! Glad nie agtergekom oor die syfers wat sy onthou nie! Dit het sommer net so vanself gekom – ek dink nie sy het dit eens probeer memoriseer nie.

So het sy ook ieder en elk in die dorp en distrik se registrasienommers van hul voertuie geken. Dus het sy natuurlik ook altyd geweet wie ry wanneer waar rond … En wie stop wanneer waar. Mmmm, dit kan nogal interessante inligting wees! Maar sy het dit nooit met ons gedeel nie!


Maar dit was darem in daai dae toe die registrasienommers uit een of twee syfers bestaan het! Ons motor was CS 21. So het almal geweet in watter dorp ons bly. En as ons die langpad gevat het (weliswaar dalk net tot in Kaapstad) was dit lekker om die boekie in die cubbyhole te raadpleeg om te sien watter registrasienommer pas by watter dorp. Dis nou nogal vir my ‘n gemis! Die nommerplate wat deesdae enigiets kan vertel – en tog niks verklap van waarvandaan of waarheen nie!


Wat my wel laat wonder, is hoekom mense deesdae daai woorde op nommerplate aanbring. Glad nie in geheimeskrif nie…. Sommige (dalk) onskuldig. Vandag ry ons verby ‘n Turtle 2. Sou daar ‘n eerste skilpad voor die tweede een wees? Dan is daar ook die “Skattie” en “Liefie” wat my ook laat wonder of dit Nommer ! of Nommer 2 is…

My eie motor het ‘n maklike nommer gehad, maar manlief s’n kan ek net nie onthou nie! Sien, ek het dit nie van my liewe moeder ge-erf nie!

Monday 22 August 2016

Kies jy boosheid of broosheid?

Vroeёr die jaar is een van die opskrifte in Die Burger “Boosheid kan verslaan word deur broosheid.” Maar is ”verslaan” die regte woord? Boos is hard en kragtig en sleg en wreed. Maar tog kan broosheid (wat ek met liefde assosieer) boosheid oorwin deur liefde. Nie verslaan nie. Dalk oorwin?

Die afgelope Olimpiese Spele was sekerlik vir ons almal ekstra spesiaal. Na al die negatiewe dinge in die nuus, was dit heerlik om te hoor, te sien, te beleef hoe ons atlete en hul afrigters opstaan en hard werk om nuwe hoogtes te bereik. Dikwels sekerlik ‘n eensame pad wat baie opofferings verg. En die hartseer stories van die wat nie daai kwalifiserende mikpunte haal nie, weet ons nie eens van nie! Maar ons weet vir seker die medaljes gaan die jong atlete aanmoedig om aan te hou om daai drome te jaag – letterlik en figuurlik!

Oor die radio hoor ons van ‘n Griekse prokureur, Kalomiris, wat so nou en dan ‘n marathon in sy land hardloop. Drie maande voor die Olimpiese Spele kyk hy op sy rekenaar na die land se lys van atlete wat na die Spele gaan – en met verbasing sien hy sy naam op die lys! Hy het deelgeneem met ‘n tyd van 2:37.


Caster Semenya bly maar gedurig in die nuus. Marzanne Kok, nuusskrywer, het ‘n hele paar wyshede kwytgeraak na aanleiding van die aanvalle op Caster. Sal Michael Phelps gediskwalifiseer word omdat hy ekstra lang arms het? Sal Usain Bolt se fenomenale atletiekloopbaan bevraagteken word omdat hy ekstra lang bene het? Die manier hoe Caster die verpligte nuuskonferensie na haar welverdiende goue medalje beheer het, wys sy hardloop nie net vinnig nie, maar werk met ‘n plan. Haar broosheid het haar nie gedwing tot boosheid teenoor die pers nie. Wel gedaan!



Friday 19 August 2016


Sing, sing, sing!

Hoe heerlik om te luister na die lieflike universiteitskore wat op tv uitgesaai word! En onlangs die skoolkore wat op RSG gehoor kon word. Dit bring sommer baie, baie lieflike herinneringe terug! Ja, en dan is daar nog die Ser-kompetisies!

Op skool het ons nie ‘n koor gehad nie. Op ‘n stadium is daar toe oudisies vir koor en ek staan letterlik en figuurlik “voor in die koor”. Dit was met die oefeninge. Toe, op ‘n dag, is daar skielik net aangekondig dat die koor nie gaan optree nie. Later jare het ek twee en twee bymekaar gesit en agtergekom die probleem was nie by die koorlede nie …

So gaan ek toe universiteit toe en het die voorreg om in die koshuiskoor te sing. Nee, ek het nie eens geweet hoe werk daai besigheid van universiteitskoor nie – net geweet hulle het voorregte van elke aand uitgaan en laat inkom en ek het net geweet hulle is op ‘n taamlike trappie bokant my! Ek sou nie nog tyd gehad het om dit ook in te pas nie (nie dat ek daarvoor gekeur sou word nie!), want ek het lang ure ingesit vir daai studies – en tussendeur moes ek tyd inruim vir bietjie studentepret!

En toe is onse dogtertjie in die skoolkoor. Eers in die Voorbereidingskool se koor by die geliefde “Juffie”. Toe later in die Laerskool se koor met netjies gevlegde hare het hulle baie kompetisies gewen en geleer van dissipline en harde werk wat goeie resultate lewer. Daai soet stemmetjies sal ek nooit vergeet nie. Dit was al die opoffering werd! As daar iets is wat my aan die hemel laat dink, is dit kinderstemmetjies wat sing! Hemels! 

Thursday 18 August 2016



Om ver te kan sien


‘n Stap langs Seepunt se lieflike promenade, bring mens by Nelson Mandela se reuse-bril. Dis ‘n baie omstrede kunswerk deur Michael Elion wat deur sommige afgekraak word, deur vandale beskadig is en kommentaar uitlok. Maar tog is dit steeds daar vandat dit in 2014 opgerig is. 

Die stuk word Perceiving Freedom genoem. Wanneer mens agter die bril staan, is die uitsig op Robbeneiland.

Sommige kritici vind die stuk vervelig, een noem dit banaal, die groenes meen dit bederf die omgewing…. Soveel hoofde, soveel sinne!

Hoe dit ookal sy, die bril laat mense wonder – of dit dan nou negatief oor die kunswerk is of weer dink aan die man wat ‘n bril gedra het wat die kunstenaar inspireer het. Of ‘n man wat ‘n bril gedra het om verder te kan kyk as wat ons soms net voor ons sien.

Soms kyk ons. Soms sien ons. Soms is ons so kortsigtig. Maar soms sien ons tog bietjie verder. Maar nooit kan ons sien wat die toekoms vir ons inhou nie…. Dalk ‘n goeie ding?!

Wednesday 17 August 2016

Goue inspirasie

Ek wonder of daar ‘n Suid-Afrikaner is wat nie absoluut in die wolke is oor Wayde van Niekerk se prestasie nie! Wat ‘n heerlike storie – en dis die waarheid, nie eens ‘n storie nie! – van ‘n droom wat tot sukses gelei het! Mag hy nog baie en gelukkige kilometers hardloop!

Dis soos grondboontjies eet dié Olimpiese Spele kyk op die televisie. Mens meen om net gou te kyk wat aan die gang is en siedaar ‘n uur later kyk ek nog en glip moeiteloos van een kanaal na die ander op soek na nog ‘n goue vir Suid-Afrika!

As ek terugdink aan ons atletiekdae, dan besef ek net weer hoe eenvoudig ons grootgeword het. En ek bedoel dit op ‘n baie positiewe manier! Kaalvoet gehardloop met rosette van rooi of blou kreukelpapier wat trots in die wind gewapper het! In ons dae was die Fosberry Flop net-net so aan die inkom. Ons het nog met ‘n skersprong oor die dwarslat probeer kom. Toe kom ons by die interskole atletiekbyeenkoms en die meisie met die lang bene begin deelneem nadat ons ander almal uitgeval het. En natuurlik het sy van iets geweet waarvan ons nog nie eens kon droom nie: die Fosberry Flop!!!

Wayde lyk vir my na die man wat die titel kan dra met sy voete op die aarde. Die man het ‘n reuse verantwoordelikheid op daai jong skouers! Maar met sy ma en Ans Botha in sy kamp sal dit sekerlik goed gaan. Miskien moet hulle hom sommer self as akteur gebruik in daai fliek wat almal nou oor sy lewe wil maak!


Oral kan mens maar net die man se naam noem, dan is daar ‘n glimlag of ‘n positiewe opmerking! Dis amper vir my of hy die hoop van Nelson Mandela aan ‘n nuwe geslag moet en kan oordra: daar is hoop!


Monday 15 August 2016

Dis nou soos dit gaan

So met die intrek in ons kasteel, kry ons ‘n heerlike verrassing van ‘n stoorkamer waarvan ons nie geweet het nie! Dit dien sommer ook as ‘n heerlike halfwegstasie tussen die parkeerplek en die woonstel. As die bagasie of inkopies te veel is vir een keer se dra, pak ons dit solank in die stoorkamer vir ‘n volgende trippie.

Maar so lewer dit ook maar die eiesoortige probleempies en frustrasietjies op. Soms soek ek na iets en wonder of dit in die stoorkamer is. Dan pla ek vir manlief om dit saam te bring die volgende keer met sy verbystap.


Jeremy se strokiesprent het egter die spyker op die kop geslaan, want kommunikasie het sy eie uitdagings!


Sunday 14 August 2016

Skokkende realiteite

Vanoggend se slotgebed aan die einde van die erediens by St Andrew’s Presbyteriaanse Kerk, Groenpunt:

“Mag God jou seёn met ongemak oor maklike antwoorde, halwe waarhede en kunsmatige verhoudings sodat jy diep in jou hart meer eerlik en vry sal leef.

Mag God jou seёn met kwaadheid oor onreg, onderdrukking en die uitbuiting van mense sodat jy sal begin werk vir geregtigheid, vryheid en vrede.

Mag God jou seёn met trane vir hulle wat ly as gevolg van pyn, verwerping, hongersnood en oorlog sodat jy jou hand sal uitsteek om hulle te troos en hulle pyn om te sit in vreugde.


Mag God jou seёn met genoeg dwaasheid om te glo dat jy 'n verskil aan die wêreld te kan maak, sodat jy kan doen wat ander dink totaal onmoontlik is.”


Friday 12 August 2016

Die mooi van rooi



Vandag is ‘n dag vir rooi. Dis grys en nat buite. Ek dek die tafel met rooi en wit vir vanaand se kuier saam met vriende en hang sommer ‘n ry rooi en wit gekolde vlaggies teen die muur. Ek koop vir my ‘n bos rose – ja, rooies ook in die bos!

‘n Jong vriendin meen rooi is darem net te rooi om te dra! Gelukkig mag ek maar verskil! En manlief het al hoeka opgemerk: “Jy dra darem baie boring kleure.” Dus, as ek rooi aanhet, kry ek sommer ‘n ekstra drukkie. En daai sit sommer ‘n wippie in my stap!

As mens nou wil ernstig raak oor rooi, staan die volgende onder andere in Wikipedia:
Rooi is 'n kleur wat lê by die laagste frekwensies van lig wat deur die menslike oog onderskei kan word. Rooi lig het 'n golflengte van ongeveer 700 nanometer
Suurstofhoudende bloed is rooi weens die hemoglobien wat daarin bevat is. Rooi lig word eerste deur seewater geabsorbeer, sodat baie visse en ander ongewerwelde seediere wat helderrooi vir mense voorkom, in werklikheid swart in hulle natuurlike omgewing voorkom.
Dan is daar natuurlik meer inligting oor rooi wat vir my interessanter is: Rooi word baie in voedseletikette gebruik omdat dit gereken word dat dit honger aanvuur. Mmmm, dalk moet ek eendag my eetkamermuur rooi verf…. Maar dan gaan my gaste te veel eet! 
Rooi is natuurlik ook die kleur van liefde. Randall en Koba Wicomb se “Dans met die rooi rok” laat mens sommer lekker saamsing:
“Dans met die rooi rok, die hartlam van my.
Dis die rooi rok, dis die mooi rok, dis die rooi rok wat waai."

Audrey Blignault, bekende Afrikaanse skrywer van weleer, se geliefde kleur was rooi – en spesifiek die oulap se rooi wat mooi maak! Ek is in die huis gebore waar sy grootgeword het – dalk is dit waar my liefde vir rooi vandaan kom!

Rooi staan vir positiwiteit, lewenskrag, ambisie, passie en dapperheid. So meen sommige.

Vandag dra ek sommer net rooi vir die mooi. Om die lewe te vier. Met passie.

Thursday 11 August 2016

Die ding van gewig

Vanoggend beaam RSG se Martelize dat dit nou tyd is om werk te maak van daai ekstra gewiggies wat aangesit is. Volgens haar is Augustus die “swaarste” maand.

Met nuwe voornemens om meer gesond te eet, staan ek vanoggend voor die winkelrak met vars vrugte. Ai, so duur! Maar darem so lekker om die dag te begin met ‘n bakkie vars vrugte, muesli, ‘n handvol “pitte” en ‘n skeppie joghurt. My slim vriendin gee nog ‘n strooisel kaneel oor en ‘n blertsie heuning. Heerlik!!!


En ons stap sommer ‘n ekstra kilometer verder terwyl die sonnetjie nog so lekker skyn.

Maar dan kom ‘n stuitige man met die volgende voorspelling:

For when we lose twenty pounds, dear reader … we may be losing the twenty best pounds we have! We may be losing the pounds that contain our genius, our humanity, our love and honesty.                                - Woody Allen, American author and film director

Wednesday 10 August 2016

Tye van verandering

Met die beplanning van ons vakansie, het ons nie geweet onse president gaan ‘n verkiesing uitroep in die tyd dat ons langbeen wil sit nie. Ons het ons mede-landgenote vertrou met die stemming. Hoera!

Die uitslag van die verkiesing is vir my amper so ‘n wonderwerk soos 20 jaar gelede se gebeure. En dit maak my net nog meer glo dat daar ‘n toekoms vir elkeen van ons is in hierdie mooie land.

Uitdagings sal daar wel wees, maar ons woon in ‘n komplekse land. En planne sal daar altyd gemaak kan word. Nou nie dat alle planne altyd uitwerk nie, maar probeer sal ons probeer.

Vreemd vir ons was dat met die reis na die noorde het ons in Laingsburg gestop vir biltong. Toe was dit DA. Met die terugreis stop ons in Laingsburg en koop biltong onder die ANC vaandel. Wou mos sê die biltong het nie dieselfde geproe nie!


Skielik is daar minder plakkate teen die pale en minder propaganda oor die verkiesing. Gister was dit optogte vir Vrouedag hier om ons. Nou wonder ek wat volgende gaan wees. Maar vir eers is dit Olimpiese Spele! Miskien motiveer die fikse mense my om ontslae te raak van daai ekstra gewiggie wat so met die vakansie aangedik het…



Tuesday 9 August 2016

Liewe vriendin

Ouer vriendinne, jonger vriendinne …
Enerse vriendinne, anderste vriendinne …

Vriendinne wat waar praat
vriendinne wat swaar praat
vriendinne wat nooit klaar praat
vriendinne wat min praat …

Vriendinne wat wyn drink
vriendinne wat tee skink …

Vriendinne wat verstaan
vriendinne wat jou nooit uit hul gedagtes en gebede sal laat gaan …


Dankie vir jou omgee.


Vier jou Vrouwees, vriendin! Jy is kosbaar!

Monday 8 August 2016

Oos wes, tuis bes

Wat ‘’n wonderlike voorreg om 5 000 km oor ver paaie heen te ry in onse mooie land!

En om dit saam met (sommige van) ons kinders te kan doen, is ‘n bonus



Deur die Noord-Kaap met sy eiesoortige andersheid, die Vrystaat wat gedeeltelik nog so swaar kry onder die droogte, Gauteng waar ons met kosbare vriende kon kuier en die mooie Natal met heuwels en berge en sonskyn en sneeu!


















Ek het op heerlike beddens geslaap en soms in minder opwindende plekke gebly, maar oral het ek veilig gevoel. En oral kon ek met ‘n glimlag ons land se unieke mense geniet! 












Maar nou is ons terug in ons kasteel in Kaapstad. En toe ons die blou berge van die Boland vandag sien, het ek net geweet: dis waar my hart lê.

Thursday 4 August 2016

Ver paaie

Oor berge en dale het ons gister gery deur Hluhluwe-Imfolozi Nasionale Park.

Dis baie droog in die suidelike dele van die reservaat, maar daar is tog tekens van sappige groen grassies wat oral uitspruit. Onlangse reёn in die res van die park sorg vir waterpoele oraloor – dus is dit mooi kyk vir diere wat nog ‘n week of wat gelede volop rondom die “publieke” watergate was.  



En hulle het nog almal horings!








Maar met vier paar goeie kykers in die voertuig, was ons gelukkig om baie diere te sien. Nie altyd naby nie, maar goed genoeg vir ‘n besliste identifikasie. Nou wel nie altyd van die bokke wie se skene skielik almal oranjerig is nie…., maar ons kon heelwat afmerk. Die luiperds het ons ontwyk. En as mens so wegry, wonder ek by hoeveel diere het ons verbygery sonder om hulle raak te sien. Die kamoeflering is net fantasties!




Vandag is ons rustig hier by ons blyplek voor ons Vrydag uitmekaarspat terug Kaapstad en KZN toe. Dis tyd vir lyf lank uitrek om weer die sitposisie opnuut aan te pak saam met die sonsopkoms van die nuwe dag!
Salige stilte

In my gedagtes is Sondae die stil dae. Vandag is Dinsdag. Dis doodstil hier naby Hluhluwe teenaan die St Lucia meer. Hoe stil sal dit dan op ‘n Sondag wees?


Die droogte is hier duidelik sigbaar. Die meer se water, wat gewoonlik tot teenaan die Sobhengu Lodge reik, lê ver anderkant die vlakte. Die veldwagter vertel dat dit die afgelope 10 jaar droog is. ‘n Onlangse reёnbui het gesorg dat ‘n bietjie water versamel het en dat dit effe modderig is. Vra my – ek en manlief het vanoggend die vlakte aangepak en met gekoekte modderskoene teruggekom by ons verblyfplek.

Die boot wat besoekers moet vermaak, is verlate op die sand. Die derduisende skulpies wat oor die hele strandgebeid verstrooi is, vertel van skulpkrappies wat op soek na water verdwaal geraak het. Die diere se spore wat op die strand is, is die van die beeste van die omgewing.

‘n Trop apies vermaak ons vroegoggend en ek wonder of hulle verwaand genoeg is om die vrugte uit my papbord te steel. Ek sal nie ‘n kans met hulle waag nie – al lyk hulle so onskuldig, kan ek my net voorstel wat van ‘n kabaal ek sal opskop as een op my skouer sou beland….


Dis tyd om te gaan stap en te luister na die voёltjies se getjirr. Hoe wens ek my slim vriendin kon saamstap om vir my te laat luister en te laat hoor wat ek moet hoor! Daai beskrywing in die boek en die geluid wat ek hoor, kom nie altyd vir my ooreen nie… Maar die jongelinge saam met ons leer fluks aan die name – hulle sal maar geduldig my moet leer.